'N SIEL OPGEVEIL
  Die vermaarde Engelse prediker, Rowland Hill, was eenmaal besig om in een van die groter stede in Engeland te preek.
Mense het van heinde en verre na hom kom luister. In die middel van sy rede hou daar ‘n koets voor die deur stil, en die volgende oomblik kom Lady Anne Erskine die kerk binne. Sy was iemand wat bekend was vir haar rykdom en liefde vir vertoon, ‘n ster van die hoogste orde by elke dansparty, konsert en opvoering, maar ‘n seldsame besoeker aan enige kerk waar God met erns aanbid is. Sy het van Rowland Hill gehoor en wou hom graag eenmaal hoor preek "net om haarself te behaag."
Die oomblik toe die prediker haar sien, kom die gedagte by hom op dat ‘n spesiale geleentheid aan hom vergun was om ‘n siel van diens te wees.
Meteens onderbreek hy sy rede, strek sy hand uit in haar rigting en sê met ‘n kragtige stem: "Kyk, hier kom Lady Anne Erskine. Kom ons veil haar siel op!"
Die verbasing van die dame was onbeskryflik! Alle oë was nou op haar gerig, en sy het gevoel asof sy in die grond kon wegsink, maar sy het dit onmoontlik gevind om haar te onttrek.
Die prediker se stem het weer deur die gebou weerklink:
"Wie sal Lady Anne Erskine se siel koop?" Een oomblik het hy stilgebly nadat hy hierdie merkwaardige vraag gevra het, en toe vervolg hy: "Ek sien verskeie begerige kopers wat gewillig is om hulle prys te betaal."
"Wêreld, wat sal jy daarvoor betaal ?"
"Ek sal al die prag en heerlikheid waaroor ek beskik, gee, eer en invloed, ‘n lewe van weelde en genotvolle tye." "Niks meer nie? Geen onsterflikheid en ewige lewe daarby nie?"
"Dit besit ek self nie."
"Dan is jou prys te laag vir ons. Wêreld, jy sal haar nie kry nie! Want wat sou dit die dame baat as sy die hele wêreld sou win en haar eie siel sou sy verloor?"
"Nou, Satan, wat is jou bod?"
"Ek bied die lus van die oë, die lus van die vlees en die trots van die lewe. By my kan sy haar eie sin kry, al haar begeertes bevredig en die wêreld se beker van genot tot op die bodem ledig."
"En wat eis jy in ruil daarvoor?"
"Haar siel; dat sy eens en vir altyd in my mag kom."
"Die prys is te hoog vir ons: Jy sal haar ook nie kry nie, Satan, want jy is ‘n moordenaar van die begin af, ‘n leuenaar en die vader van die leuen!"
"En nou, Here Jesus, wat sal U gee?"
"Ek het reeds My eie lewe vir die dame gegee. Ek het My bloed vir haar gestort toe Ek aan die kruis die rantsoen betaal het vir die hele wêreld. Ek sal haar siel vervul met ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan. Ek sal haar genietinge gee wat die wêreld nie kan gee en nie kan wegneem nie.
"Ek sal haar beklee met die kleed van geregtigheid en haar met die goud van die geloof versier. Ek sal haar as ‘n seëlring bewaar, en niemand sal haar uit My hand ruk nie.
"En wanneer sy haar wedloop in die geloof voleindig het, sal Ek haar na Myself in heerlikheid opneem, want waar Ek is, daar sal My dienaar ook wees."
"En wat vra U in ruil vir al hierdie heerlike gawes?"
"Haar sonde, haar slegte gewete, alles wat haar innerlik verdruk en kwel."
"Here Jesus, U sal haar kry. Uwe is sy en Uwe sal sy bly tot in alle ewigheid."
"Lady Erskine, is u tevrede?"
"Ja," antwoord sy met ‘n luide, vaste stem, terwyl ‘n golf van ontroering deur die hele vergadering trek. En Lady Erskine het haar woord gehou. Van daardie oomblik af het sy van lewenswyse verander. Sy het al haar versiersels en tierlantyntjies afgelê en alle ydele plesier en wêreldse geselskap versaak.
Sy het ‘n vriend en moeder geword vir almal wat siek en arm, ellendig en in nood was. Niemand het meer heilige ywer vir die saak van Christus aan die dag gelê en meer opgeoffer as hierdie eertydse wêreldse vrou nie. Haar hele lewe deur het sy God se opsoekende liefde geprys wat haar na daardie diens gelei het en haar op so ‘n kragtige wyse losgeskeur het uit die kloue van die wêreld en sy vors, die Satan.
Uit: Wegwyser na die Ewigheid - Timo Kriel.

Indeks     Index