LAASTE MARTELAAR VAN DIE KOLISEUM: 391 n.C.
  Gaan na Rome toe." Telemachus was 'n vredeliewende monnik wat in 'n klein boere-provinsie in Asië gewoon en sy tuin getrou versorg het. Alhoewel hy die rumoer van die groot stede normaalweg vermy het, het hy onmiddellik opgepak en vertrek toe God met hom praat. Hy het die hele reis om God se leiding gebid.
Toe hy daar opdaag, is die stad besig om hulle oorwinning oor die Gote in die Noorde te vier. Troepe marsjeer met waentjies vol buit deur die strate en sleep hulle krygsgevangenes, waaronder sommige generaals en konings is, agter hulle aan. Die jong keiser Honorius het vroeër in die oorwinningswa deur die strate op pad na die Koliseum gery, alhoewel dit eintlik sy generaal, Stilicho, was wat die troepe in oorwinning gelei het. Die hoof-aktiwiteite later die middag sou daar plaasvind. Telemachus word deur die skare meegesleur en kort voor lank bevind hy hom tussen die sowat 80 000 toeskouers in die Koliseum. Alhoewel Konstantyn 'n einde aan die dood van Christene in die Koliseum gemaak het en gladiatorgevegte ongeveer 70 jaar tevore verbied het, het Honorius voor die grille van die gepeupel geswig en die verbod op gladiatorgevegte herroep. Terwyl Telemachus sy weg deur die skare baan, kyk hy na die vloer van die Koliseum waar twee rye jongmans met swaarde of gevurkte spiese en nette voor die keiser se losie tot stilstand kom en hulle wapens lig. "Ave, Caesar, morituri te salutant." ("Heil, Ceasar, diegene wat nou gaan sterf, begroet u!"). Dan, op die een of ander teken wat hy nie gesien het nie, draai die twee rye na mekaar en begin veg. Die gevegte is net so bloedig en gewelddadig soos tydens 'n veldslag.
Telemachus is stomgeslaan: 400 jaar na Christus en hulle vermoor mekaar nog steeds vir die plesier! Skielik sien hy hoe 'n jongman met 'n swaard in 'n net gevang en op die grond neergegooi word. Hy is alreeds swaar gewond en kan nie weer op sy voete kom nie. Sy teëstander benut hierdie voordeel deur sy spies op die ander man se bors te rus sodat hy nie kan beweeg nie. Dan roep hy uit: "Hoc habet!" ("Hy is vas!"), en op 'n ander onbekende teken staak die ander gladiators hulle gevegte om eers eenkant toe te staan. Baie van die toeskouers het nou opgestaan en wys met hulle duime onder toe. Dan begin hulle dreunsing: "Recipe ferrum!" ("Ontvang die staal!"). 'n Klein groepie beamptes baan hulle weg na die arena en gaan staan by die mans om van naby te kyk. Dan steek hulle ook hulle hande uit met hulle duime onder toe. Tot Telemachus se afgryse sien hy hoe die man eenvoudig knik voordat hy die slagoffer met sy spies deur-boor. Die man se doodskreet word deur die gejuig van die skare uitgedoof. Nadat die beamptes weer hulle sitplekke gaan inneem het, sleep slawe die gevalle kryger se liggaam met groot hake oor die sand en laat 'n bloedspoor agter. Dan volg ander slawe met nog sand en harke om die Koliseum se vloer "skoon" te maak, sodat die gevegte hervat kan word.
Kort voor lank het die ander gladiators hulle plekke ingeneem. Voordat hulle egter weer kan begin veg, spring 'n gemantelde figuur oor die muur wat die toeskouers van die arena skei en hardloop na waar die twee gladiators naaste aan die keiser se losie staan. Toe hy hulle bereik, sit Telemachus sy hande op die twee mans se borskaste om hulle uitmekaar te hou en pleit: "In die Naam van Christus, hou op! Moenie God se genade verag deur mekaar dood te maak nadat Hy julle vyande se swaard weggeneem het nie." Die skare is net vir 'n oomblik uit die veld geslaan. "Hierdie is nie die plek vir 'n gepreek nie!" skree iemand. " Die ou gebruike van Rome moet bewaar word!" kom dit van iemand anders. Dan wel die gedruis weer op sodat die stemme nie van mekaar onderskei kan word nie. Een van die gladiators slaan die ou man in die maag met die hef van sy swaard. Telemachus vou vooroor en val op sy knieë. Dan draai hulle weg om weer te begin veg, maar Telemachus kom onverwags op die been en tree vir 'n tweede keer tussenbeide om hulle uitmekaar te druk. "In die Naam van Christus, hou op!" "Kry hom uit die pad!" "Gee pad, ou man!" "Laat hulle voortgaan!" Weg met hom!" Intussen het 'n refrein begin opklink: "Dood met hom! Dood met hom!" Dan begin die mense die arena met allerhande goed bestook. Klippe en enigiets waarop hulle hulle hande kan lê, word na Telemachus gemik. In die gedrang draai een van die gladiators skielik na hom en druk sy swaard tot by sy hef in die ou man se maag in. 'n Onheilspellende stilte kom lê oor die woedende skare. Telemachus sak op sy knieë neer terwyl sy bloed 'n groot rooi vlek in die sand maak. Dan roep hy met sy laaste asem uit: "In die Naam van Jesus, hou op!" Toe val hy op sy gesig neer en bly bewegingloos lê. Niemand sê 'n woord nie. Vir 'n oomblik lank beweeg niemand nie. Toe staan een man op en baan sy weg uit die arena. 'n Ander man en sy vrou volg. Daarna nog ander. Die stroom groei stadig totdat al die toeskouers later opstaan en in 'n pynlike, skuldige stilte uit die Koliseum beweeg. Daar is nooit weer gladiatorgevegte in die Koliseum gehou nie!
Wat kos dit om teen mense op te staan en uit te roep: "Nee, hou op! Dit is verkeerd"? Kan ons sê ons lewe waarlik as getuies vir Jesus as ons in 'n stroom, selfs 'n "Christelike" stroom, afvloei wat op menslike begeertes en hulle tradisies gebaseer is in plaas van op die waarheid?
Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. Geseënd is die wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan huIle behoort die koninkryk van die hemel.
(Matt. 5:9-10).
Uit: Fanaties vir Jesus Vol. 2, dc Talk, en The Voice of the Martyrs, CUM, 2004.

Indeks     Index