HUWELIK EN GESIN ONDER DIE MIKROSKOOP (3)
  Ds. Piet du Toit

My innige gebed is dat ons in ons dag sal beleef waarvan Maleagi (4:6) gepraat het: "En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders." Ek bid dat daar 'n tyd sal kom dat ouers en kinders se harte by mekaar sal wees: dat daar herstel van verhoudinge in die gesin sal wees, vergifnis, versoening, herstel. Dat dinge tussen ouers en kinders uitgepraat sal word en reggestel sal word en dit alles by die kruis waar daar 'n aflegging van die selfgesentreerde lewe sal wees en omgeruil sal word vir 'n Christus-gesentreerde lewe. Ook dat die gesin in hierdie herstelde verhouding met mekaar dan kan uitbeweeg na die wêreld met 'n verklaring: "Ons as gesin, ons dien die Here. Ons wil hê die hele wêreld moet weet dat ons God die Here is" (Jos. 24:15). Dán kan ons praat van herstelde gesinne.
Mag Vader gee dat ons weer die belangrikheid van die gesin sal ontdek; dat ons sal herontdek dat gesinne vir Hom belangrik is. Hy is 'n Vader wat 'n Seun het en deur 'n geestelike geboorte is ons Sy kinders, uit Hom gebore en deel van Sy gesin. Dit beeld Hy uit in die gesin op aarde. Die gesin is die kleinste gevegsformasie teen Satan se aanslae. Vandag is die aanslag in alle felheid teen huwelike en die gesin. Huwelike spat uitmekaar. Tieners en jongmense saboteur die instelling van die huwelik deur dit wat aan die huwelik behoort te steel en dit voor die huwelik te bedryf asof hulle getroud is. Sedeloosheid en immoraliteit is alledaags. Sit hierby verskriklike, ontstellende werklikhede soos kindermolestering en kindermishandeling.
Ons kan vir onsself inderdaad die vraag afvra: Waar het sonde begin? Die antwoord is duidelik: in die gesin. Waar moet die herstel kom? In die gesin! Wat ons dus in die eerste plek weer sal moet besef, is die belangrikheid van die gesin en die belangrikheid van die gesin vir God.
Verder sal ons ook moet besef waaroor dit in die gesin gaan. In die eerste plek gaan dit oor 'n gesagstruktuur. 1 Kor. 11:3 - "Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus." God --- Christus --- man --- vrou --- kinders.
Hierdie gesagstruktuur moet erken word en in gesinne gehoorsaam en toegepas word. Kinders moet hulle aan die ouerlike gesag onderwerp omdat hulle hul aan God se gesag onderwerp. Die vrou moet haar aan die gesag van die man onderwerp omdat sy haar aan die gesag van Christus oor haar man onderwerp. Die man onderwerp hom aan die gesag van Christus en is daarom dienende leier. As hierdie gesagstruktuur nie erken word nie, val alles in die gesin plat en uitmekaar. Dissipline word van die tafel afgevee. Hierdie gesagstruktuur sal weer toegepas moet word sodat orde in gesinne herstel kan word.
Dit gaan tweedens in gesinne om verhoudinge wat die volgende insluit: Kommunikasie, openheid met mekaar, vertroue wat 'n brug vorm tussen ouer en kind, toepassing van dissipline deur ouers en die aanvaarding daarvan deur kinders, wedersydse respek, buigsaamheid, betrokkenheid by mekaar, aanvaarding van elkeen se verantwoordelikheid en die toepassing daarvan, belangstelling in mekaar se wêrelde. Verhoudingsbou en kommunikasie beteken om met mekaar te praat, jou hart uit te praat en tot 'n oplossing te kom en te verseker dat verhoudinge groei en verdiep.
Derdens gaan dit in gesinne oor tyd. Hier is die sleutelwoord "beplan". Jou dagboek is belangrik. Gesinsgesprekke en familievergaderings is uiters noodsaaklik. Individuele en gesamentlike tyd is baie belangrik: aan die etenstafel, naweke weg, saam vakansie hou, saam dinge doen. Alles moet beplan, bespreek en uitgevoer word. Gee aan mekaar as gesinslede sakke vol tyd!
Ek bid vir gesinsherlewing en dat elke gesinslid by die punt sal kom om te bid: "Vader, begin met U reinigingswerk binne-in my." Persoonlike herlewing lei tot gesinsherlewing wat weer lei tot gemeenteherlewing, wat weer lei tot gemeenskapsherlewing. Mag dit spoedig gebeur!

Ds. Piet du Toit is 'n pastorale berader en stigter van Lusanti Beradingsbediening. Hy bied landwyd interkerklike seminare aan, o.a. die Kruisseminaar: Bevryding deur die Kruis. Hy woon in Kuilsrivier, Kaapstad. Kontak hom gerus vir optredes by tel: (021) 903 9829.

Indeks     Index