STAPPE TOT VREDE MET GOD | |
  |
In Joh. 4 lees ons hoe Jesus Judéa verlaat het, en op reis na Galiléa, móés Hy deur Samaría gaan. Naby die stad of dorp met die naam Sigar, het Hy sommer by ‘n put gaan sit omdat Hy moeg was van die reis. Dit was die put van Jakob, sowat ‘n kilometer buite die dorp. Hy stuur toe Sy dissipels om te gaan brood koop. Dit was by híérdie put dat Hy met die vrou van Samaría ‘n gesprek gevoer het. Putte was allernoodsaaklik in Bybelse tye, omdat water ‘n lewensbelangrike kommoditeit was. Bygesê: ‘n put moes water hê! Die put was ook ‘n rusplek vir menige moeë reisiger wat net ‘n bietjie verkwikking gesoek het na sy lang reis. So het dit gebeur dat mense mekaar daar ontmoet het. Elke put het sy eie verhale gehad... In die Ou Testament lees ons van Hagar wat van haar meesteres af weggevlug het. Toe kom sy by die put van Lagai-Roï, waar God met haar gepraat het. By die put HET SY DIE STEM VAN GOD GEHOOR! Hy het gesê dat sy moes teruggaan na haar mees-teres, en dat sy ‘n seun sou baar, omdat Hy haar in haar ellende verhoor het. "Hagar het toe die Naam van die Here wat daar met haar gepraat het, aangeroep en gesê: ‘U is ‘n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het’" (Gen. 16:13 NV). Daarom het hulle die put genoem "Put van Lagai-Roï." By ‘n latere geleentheid het daar wéér probleme ontstaan tussen Hagar en Sara. Maar hierdie keer het dit God se goedkeuring weg-gedra dat Hagar moes weggaan. Sy het toe rondgedwaal in die woestyn van Berséba. Toe haar water- en kosvoorraad nader-hand opgeraak het, het sy die seun onder een van die bosse laat lê om te sterf en het eenkant gaan sit en bitterlik gehuil. Toe praat die Engel van God met haar en sê sy moet die seun gaan optel, want God gaan hom ‘n groot nasie maak. "Staan op, tel die seun op en hou hom vas met jou hand, want Ek sal hom ‘n groot nasie maak. Daarop het God haar oë geopen, en sy sien 'n put! En sy het geloop en die sak vol water gemaak en die seun laat drink" (Gen 21:18-19). Weer eens HET SY BY ‘N PUT DIE STEM VAN GOD GEHOOR! By ‘n ander geleentheid moes die dienaar van Abraham vir Isak ‘n vrou gaan soek. Met ‘n gebed in sy hart het hy op reis gegaan, en uiteindelik in Abraham se land van oorsprong by ‘n put uit-gekom. Daar het hy vir Rebekka, die dogter van Betúel, Abraham se broer, ontmoet, en ‘n baie mooi verhaal ontvou hom daar by die put. Sy was die vrou vir Isak! By die put HOOR DIE DIENSKNEG DIE STEM VAN DIE HERE! By ander putte het baie gebeure afgespeel. By een put het Jakob vir Ragel ontmoet (Gen. 29). By ‘n ander geleentheid het die dienaars van Isak die putte van sy vader weer oopgegrawe (Gen. 26). Josef is deur sy broers in ‘n put gegooi en later verkoop (Gen. 37). Moses het van Farao af weggevlug en by ‘n put in die woestyn gaan sit, en daar het hy sy vrou ontmoet (Eks. 2). Jeremia is in ‘n modderput gegooi (Jer. 38). In Joh. 4 kom ‘n vrou uit Samaría na die put om water te skep en ontmoet Jesus daar! Hy bied aan haar die lewende water. Maar sy antwoord Hom: "Here, U het nie eens ‘n skepding nie, en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende water?" (vs.11). Jesus antwoord haar: "Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat op-spring tot in die ewige lewe" (Joh. 4:13-14). SY HOOR GOD SE STEM BY ‘N PUT! Jesus wil nog steeds vir ons die lewende water, die ewige lewe, gee! Hy roep nog steeds: "As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo…" (Joh. 7:37-39). "En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet." (Openbaring 22:17). Jesus sê verder: "Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie" (Joh. 6:35). Kom drink VANDAG die water van die lewe. Jesus se put het altyd water! Maar God het nie net 'n put nie. Ps. 65: 10 verklaar: "U het die land besoek en oorvloed gegee; U verryk dit grootliks; die stroom van God is vol water." Kom nou na Jesus toe en drink die Lewende Water. Dit is verniet! |