BAIE SAL DIT SOEK - MIN SAL DIT VIND... (Matt. 7:13-14)
 
Judas (vs. 36) vermaan ons om te stry vir die geloof en waarheid. Hy sê in vers 4 dat daar sekere mense (in die kerk) ingesluip het wat die enigste Here God en ons Here Jesus Christus verloën. Wat volgens hulle begeerlikhede wandel en trotse woorde spreek en mense vlei tot hulle eie voordeel (vs. 16). Dit is mense wat die Gees nie het nie (vs.19). Paulus het hierdie selfde probleem met die Korintiërs ondervind. Hy sê hulle dink dat hulle alles het en dat God die apostels bespotlik gemaak het. Hy is egter sarkasties, want die Korintiër-kerk het gedink hulle is ‘n wonderlike kerk, hulle is so godsdienstig, so besig met al die gawes. Maar Paulus sê hulle is nie in die Gees nie, want die natuurlike mens verstaan nie die geestelike dinge nie. Hulle het ook nie die sin of denke van God nie.
In Joh. 6 loop ‘n groot skare agter Jesus aan. Hulle wou Hom op 'n stadium koning maak. Maar Hy sê: As my Vader dit nie vir jou gee nie, kan jy nie na My toe kom nie. Almal het uiteindelik padgegee. Die meeste luister na Hom, maar wil Hom nie glo nie. Dan sê Hy as jy 'n oor het om te hoor, dan kan jy hoor.
Mense se ongeloof is ‘n groot probleem wat Jesus deur die hele Bybel wil aanspreek. Baie mense, bv. die Jode, of "Christene" in die kerk is baie godsdienstig, maar die vraag is, is jy wedergebore? (Paulus sê aan die Korintiërs: Toets of julle in die geloof is!). Hulle het Jesus bely, hulle was godsdienstig, hulle het miskien suksesvol gelyk en was tevrede met hulleself, maar alles was in die vlees - sonder Jesus - sonder liefde - sonder waarheid.
In Matt. 7:22 sê Jesus: "Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in U Naam geprofeteer en in U Naam duiwels uitgedrywe en in U Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die onge-regtigheid werk." Hy sê dat slegs die wat die wil van Sy Vader doen sal ingaan in die Koninkryk van die hemele.
Dit kan maklik weer na die Wet klink, maar iemand wat in die Gees gebore is, sien die waarheid in die Woord en dit beteken vir Hom meer as enige iets, en hy wil die Woord uitleef meer as enige iets anders. Hy laat nie toe dat sy emosies hom kortwiek nie. Daarom sê Paulus in 1 Kor. 5:1-13 verwyder dadelik iemand wat in sonde leef uit jou kerk. Johannes vermaan ook in 2 Joh.1 dat jy 'n prediker wat nie die waarheid preek nie, nie eers moet groet nie. Jesus leer in Matt. 18 dat as jy 3 maal met ‘n broer gepraat het en hy nie sy verkeerde dade wil bely en hom bekeer van sy sonde nie, moet jy hom uit die kerk verban. Kan jy die waarheid hoor of nie? Lees ook 1 Joh. 4:6. Toets jou optrede aan die hand van Rom. 13:1, en kyk in 1 Joh. 1:8-10 of jy in die geloof is.
Vir iemand wat uit die Gees gebore is, is die Waarheid (Jesus Christus, die Woord, die Lig), belangriker as sy emosies, of wil of intellek. Iemand in die vlees wil God se Woord verdraai (Markus 7 en 1 Kor. 6:10).
Al hoe mens die waarheid te wete kan kom, is om die beginsels van die Bergpredikasie (Matt. 5:3) te gehoorsaam: As jy arm van gees is of weet dat jy totaal en al afhanklik van Jesus Christus is. Jesus sê bv. dat jou geregtigheid meer moet wees as dié van die Fariseërs. Hulle was menslik gesproke op die toppunt van geregtigheid wat ‘n mens kan bereik. Jesus sê jy moet jou vyande liefhê wat menslik on-moontlik is. Maar Sy doel is om elke mens te laat besef dat hy/sy dit nie kan doen nie en hoe nodig ‘n mens Hom het. Sonder Hom is dit onbereikbaar. Salig is die wat weet hoe afhanklik hulle van Hom is. Dit is om jou lewe op te gee of om te sterf aan "jouself". Dit lei party mense na depressie, want as gevolg van hulle hoogmoed wil hulle nie buig nie.
Wanneer die "ek" sterf, sal God jou die nuwe lewe gee (die lewe van die Gees) wat Hy beskryf in Matt. 5 tot 7. Om die wil van die Vader te doen is nie wetties nie, maar genade as jy ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees het, wat God wil verheerlik.
Die hartseer is nie dat baie "Christene" nie die wil van God wil doen nie, maar dat baie "Christene" en predikers in die vlees is en dink hulle is gered. Johannes beskryf hoe ‘n Christen in die nuwe lewe lyk. Dan sê hy aan die einde (1 Joh. 5:20) dat die Seun van God gekom het om ons verstand (wedergeboorte) te gee om die waaragtige God en Sy Seun Jesus Christus te ken. Dan volg die opdrag: bly weg van afgode af, m.a.w. om menslike leringe en leuens van Satan aan te neem as die waarheid.
Jesus wil mense wys hoe hoog die standaard van absolute vol-maaktheid is, bv. as jy in jou hart iets slegs van iemand dink of aan 'n vrou dink met onwelvoeglike gedagtes, is jy nie goed genoeg vir die hemel nie. Daarom het die mens Jesus nodig. Vleeslike, eie-geregtige mense probeer om die standaard te verlaag (Markus 7). Hulle sien sonde net as ‘n uiterlike daad, sodat hulle nie besef hoe nodig hulle Jesus het nie.
Elke valse standaard van die Fariseërs en elke sg. "Chris-telike" kerk wat nie in die Waar-heid is nie, is ‘n produk van Satan en mense wat nie eintlik wil buig voor Jesus Christus, die enigste Here nie. Miskien word die Naam van Jesus selfs genoem, maar as jy nie in elke waarheid of die wil van God wil wandel nie en daarteen stry, dien jy nie die waaragtige God en Sy Seun Jesus Christus nie, maar afgode.
Jesus, die Woord, God Self (Joh. 1:1) is die enigste Weg, Waarheid en Ewige Lewe en het gekom as die Lig in die donkerte van die wêreld. Maar Joh. 3:19-21 sê: Die mens het die duisternis liewer as die lig gehad. Satan laat mense ‘n godsdiens skep net buite die poort wat ingaan na die Lig. (Lees ook 1 Joh. 1:5-10).
Jy kan dink jy is onder genade, maar dan lê jy maar net in die vlees ‘n paar sondes af en begin dinge in die kerk doen, maar dan is dit eintlik net in die vlees en wetties. Dan is jy ook net ‘n huigelaar wat wit geverf is buite en binne vol doodsbeendere. Dit help nie jy lyk pragtig vir mense buite nie. Jesus sê alle slegte dinge kom uit die hart. Dáár moet egter verandering kom sodat jy die Lig sal liefhê. Net die Chirurg, Jesus Christus, kan dit vir jou regmaak. Gaan in hulpelose afhanklikheid na Hom toe.
Mense word na kerke getrek met valse dinge en mensgemaakte woorde (1 Kor. 1:17 en 2:1,4,5). Daar word konsert gehou om mense by die kerk te kry. Dan moet jy hulle aanhou vermaak om hulle daar te hou. Daar word ook met menslike wysheid gepraat en opgesweep om mense tot geloof te probeer bring. Die waarheid van God wat vir ons mense eenvoudig lyk, moet gepreek word, sodat die "eenvoud" van die Waarheid en die Kruis mense werklik kan red. In ‘n kerk van vermaak en menslike wysheid, is God nie, maar die leuens van Satan. En dit hou mense van Jesus Christus af weg, want hulle glo die leuen dat hulle gered is. (1 Tim. 4:1,2; 6:3; 2 Tim. 3:1-5; 4:1-5; 2:16-18; Matt. 24:11,24; 2 Kor. 11:3-6,12-15).
Lees Matt. 7:13,14 - Baie sal dit soek, min sal dit vind! Ek skryf nie hierdie dinge vir stryery of onmin nie, maar slegs die Waarheid kan jou vrymaak. Indien iemand dit nie verstaan nie en miskien kwaad word, is dit dalk wat Jesus bedoel: die wêreld (en miskien sg. Christene) sal julle haat want hulle het My eerste gehaat. Jy is dalk met 'n godsdiens besig wat nie Jesus Christus insluit nie. Daarom sê Jesus in Joh. 10:10-15 pasop vir die loontrekker wat miskien nie die skape oppas as die wolf hulle wil vang nie. Luister na Hom, die enigste Waarheid. Hy wil jou (Sy skapie) oppas, die loontrekker kan dalk dat die wolf jou vang.
Moet tog nie moedswillig onkundig wees nie. Ons hemelse Vader wil nie hê dat een verlore moet gaan nie.

Ingestuur en
geborg deur:
Impala Slaghuis
Tel: (018) 297 1171
Retiefstraat 46
Potchefstroom

Indeks     Index