GOD SE KONINKRYK HET NIE TWEEDEHANDSE BURGERS NIE... | |
  |
Almal, alle mense wat aan Sy Koninkryk behoort, is eerstehandse burgers, omdat hulle losgekoop is deur die Bloed van Jesus Christus, Sy Seun. In 1 Pet. 1:18-19 lees ons: "…omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos…" Toe Jesus op die kruis sterf en uitroep: "Dit is volbring!", skeur dit nogeens deur die hemele: "Dit is My geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het." Hy het die volle prys vir al die sonde van alle mense betaal. Van tóé af staan Hy met uitgestrekte arms na elkeen en sê: "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee" (Matt. 11:28). Alle mense kan kom en vergifnis van sonde ontvang! Ja, Sy Koninkryk het nie tweedehandse burgers nie. 'n Tweedehandse burger sou iemand wees wat nog nie ver-gifnis van sonde ontvang het nie. Sy skuld staan nog tussen hom en God. Maar wanneer ons heelhartig na Hom toe keer, vergewe Hy volmaak, en maak Hy van ons eerstehandse burgers! Mense wat geen skuld voor Hom het nie! Skoon gewas deur die Bloed van Jesus Christus! Daar is twee koninkryke: Die Koninkryk van Lig, en die koninkryk van duisternis. Al behoort ons aan Hom, woon en leef ons nog hier op aarde; hier waar die koninkryk van duisternis in volle swang is. 2 Kor. 4:4 praat van die ongelowiges "in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie." Tog word gelowiges geroep om alles te doen sonder murmurering en teëspraak, "sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van 'n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld, deurdat julle die woord van die lewe vashou" (Filip-pense 2:14-16). Die gelowiges is God se ligte in hierdie wêreld wat bewoon word deur "'n krom en verdraaide geslag." God se ligte moet helder skyn. Dit is Sİ lig wat ons moet uitstraal, en daarom soek Hy skoon kanale: helder lig wat uitgestraal word deur eerste-handese burgers wat duur gekoop is met die hoogste prys: Die Bloed van Jesus. Paulus skryf in 2 Kor. 2:14-16 - "Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei. Want ons is 'n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; vir die laaste 'n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste 'n reuk van die lewe tot die lewe." Dit is elkeen se verantwoordelikheid wat hy met hierdie lig, hierdie reuk, doen: Aanvaar, of verwerp dít wat hom gratis aangebied word. Dit is moontlik om dit te verwerp: "Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word" (1 Kor. 2:14). Tog sal die liefdevolle God altyd soek. Altyd roep. Al sou dit skyn asof die Wederkoms uitgestel word (2 Pet. 2:3-4), want "Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom" (2 Pet. 3:9). "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê" (Joh 3:16). Het jy al 'n eerstehandse burger van God se Koninkryk geword? |