'N GEESTELIKE KRAG VANUIT DIE TRONK!
 
Die passie en energie wat uit John Maja uitstraal, is aansteeklik. Hy is vir gewapende roof gevang en gevonnis vir 19 jaar.
Op 25 Januarie 2008 is hy vrygelaat. 'n Groot, sterk man. Sy sterk handdruk laat jou besef hy kon net sowel flank vir die Springbokspan gespeel het.
Dit voel snaaks... om te dink hier voor my op my sitkamerbank sit twee geharde misdadigers wat nou deur God se genade vrygespreek en nuutgemaak is.
Langs John sit Mannas Nkosi. Hul gesigte straal en hulle praat met oortuiging. Ek dink by my-self: "Wow, hierdie mense is waarlik deur die Here verander..." Sy diep stem dreun voort: "Ek is gevonnis vir moord. Tien jaar gekry..." Hulle vertel van die harde lewe in die tronk. "As jy daar inkom, noem die "inmates" jou 'n "lady". "Waarom noem hulle jou lady?" vra ek. "Omdat jy nog nuut en sag is soos 'n vrou... Jy sien, die eerste jaar moet jy nog leer hoe om jouself in die tronk te verdedig. Die lewe is hard en rof."
Ek dink aan ons stukkende land. Die geweld, moorde, rooftogte... dit maak ons almal só seer. Ek dink aan die talle Christene wat landuit vlug... Ek neem niemand kwalik nie... Maar diep in my hart wonder ek, is God nie besig om die herlewing waarvoor ons so bid, te stuur nie? "As ons dan nie deur die Gees en krag van God wat reeds in ons woon, wil getuig nie, sal God nie uit die as en oorblyfsels, nuwe lewe opwek nie?" Ek dink onwillekeurig aan die nuwe lewe wat die Gees in die dooie bene geblaas het (Eseg. 37). Ek moet my knyp om te besef dat dit wat hier voor my gebeur, die werklikheid is.
Hulle vertel my hoe hulle die Here as Verlosser daar in die tronk ontmoet het. Vir bykans drie jaar het hulle die evangelis wat op Woensdae gepreek het, net so op 'n afstand dopgehou, van agter uit 'n hoek. Hulle het nie regtig belang gestel nie, maar sommer net gegaan uit nuuskierigheid. "Die ouens wat Christene is, het altyd daar voor gesit. Ek het gesien hoe gelukkig hulle is. Hulle het altyd gelag en gesing en met die pastoor gepraat. Ek wou ook hê wat hulle het."
Tot op die dag wat John besluit het om met die pastoor te praat. "Daardie dag het die man nie opgedaag nie. Hy't opgehou met die bediening... Ek moes lank wag voordat iemand anders weer begin het met dienste in die tronk. Toe kom daar 'n vrou. Sy het mooi gepraat. Ek is die Here so dankbaar dat Hy haar gestuur het om op Woensdae te kom." John het sy hart aan die Here gegee. Daarna het dit nog baie maande geneem om werklik meer van die Evangelie te verstaan. Hy vertel hoe eensaam die tronk kan wees as jy 'n Christen word. "Al was ek tussen duisend mense, het ek niemand gehad om mee te praat nie... Ek is die Here so dankbaar dat Hy my nie in die tronk vergeet het nie. Daardie vrou sal nooit besef wat sy vir my beteken het nie..."
Toe ons groet, kry ek 'n stewige "hug". Weer besef ek die manne is groot... en sterk, en ek is bly hulle is aan die Here se kant!
Jan Moolman wat saam met hulle gekom het en aan die hoof van die Nasionale Bediening staan, vertel my dat hulle nou besig is om hierdie manne (reeds vyf van hulle), as evangeliste te gebruik in die tronk.
Hulle bied die Nehemia Bybel-kursus aan vir gelowiges wat geestelik wil groei. Die Bediening is reeds gevestig in tronke by Brits (Losperfontein), Sun City (Mogwase), Rustenburg, Wolmaransstad en Klerksdorp.
Ons wil graag ook nou in die geloof optree en hierdie Bediening in Potchefstroom vestig. Evangeliste of enige gelowige wat die Kursus wil aanbied en as dosent opgelei wil word, kan my gerus skakel (Ds. Willem Louw: Sel. 082 340 7549).
Ons nooi ook enige persoon uit om vir so min as R50 per maand, iemand in die gevangenis aan te neem (die koste van die materiaal vir die persoon wat hierdie Kursus deurloop). Die Kursus duur twee jaar. U voorsien die R50 maandeliks aan ons Sen-dingkantoor. Ons sal op ons beurt aan u die naam van hierdie persoon verskaf wat u aanneem. Dan kan u vir die persoon bid en u kan selfs aan hom skryf.
Die Kursus verskil van die gewone eredienste in die gevangenis. Dit word nie aan almal voor die voet aangebied nie, maar slegs vir gelowiges wat werklik ernstig is en hiermee wil volhard. Hierdie Kursus leer hulle hoe om die Evangelie uit te dra en hoe om met hul lewe 'n verskil te maak daar waar dit nodig is. Dit mag wees dat die Here baie van hierdie mense later gebruik om voltydse evangeliste te word. Net die tyd sal dit leer. Daar is baie wat wag om die Kursus te deurloop. Persone wat iemand in die gevangenis wil borg, kan ons Sendingkantoor gedurende weeksdae in die oggend skakel. (Praat met Thornita by Tel. 018 294 6900). Dankie dat u vir hierdie Bediening bid. Mag die Here u ryklik seën!

Indeks     Index