HEMEL EN HEL - 'N WERKLIKHEID!!! | ||
  |
![]() ROBBIE VERTEL: Hierdie verhaal is nie 'n verdigsel of geskryf vir tydverdryf nie. Dit is 'n ware verhaal, die verhaal van 'n ondervinding gedurende 'n tyd toe my lewe in die weegskaal gehang het - tussen tyd en ewigheid - en die skaal beslis oorgehel het na die kant van die ewigheid. Ek is in 1945 gebore in SWA, nou Namibië. As kind is ek gedwing om kerk toe te gaan. My pa was 'n swerwer en het van die een kerk na die ander geswerf. Noem maar die naam van enige Kerkgenootskap - ek was daar. Ek moes ook gereeld Sondagskool en Kinderkrans toe gaan. Op 5˝ jaar het my pa my in 'n skoolkoshuis geplaas. Toe ek klaar was met skool, het ek besluit dat ek nou ontslae was van kerk toe gaan. Ek het mos geweet daar is 'n God en dat ek Bybel moes lees en bid. Ek het ook geweet dat in Ps. 23 geskrywe staan dat die Here my Herder is en dat niks my sal ontbreek nie. Dit was vir my genoeg. Meer was nie nodig nie. Toe ek 30 jaar oud was, is ek Johannesburg toe en is later daar met Erika getroud. Sy het altyd alleen kerk toe gegaan terwyl ek my tyd verwyl het met vriende, kaartspel en drank. Ek het my aan geen God of gebod meer gesteur nie. In 1979 is ek met leukemie gediagnoseer. Ek het nie besef dat God my in my spore probeer stuit nie, maar geglo dat ek nog baie oud gaan word. Later was die leukemie in reses en ek het vir myself gesê: "Sonder God se hulp leef ek nog." Maar in 2005 sê die Here: "Tot hiertoe en nie verder nie!" (Op hierdie stadium was ek en Erika nie meer bymekaar nie). Ondertussen het 'n persoon my gevra om vir hom 'n hotel in Bultfontein te gaan koop. Hy kon dit nie self doen nie, omdat die geld "warm" was. Ek het Erika en ons twee dogters gaan groet, aangesien ek en twee vriende (wat die kroegman en disko-hanteerder sou wees), na Bultfontein sou vertrek. My gedagtes was vol van hierdie "paradys op aarde" - 'n hotel met drank, sigarette en vrouens. Op 3 Des. 2005 is ons toe na Bult-fontein. Hier het ek só baie gedrink dat my vriende my op 'n stadium op 'n bed in 'n slaapkamer laat lê het waar ek aan die slaap geraak het, maar twee ure later was ek nugter wakker. Ek het 'n geweldige gevoel van angs ondervind en het hulle gevra om my dadelik terug te neem na Johannes-burg. Ek moes my gesin en familie gaan groet! Hulle het gesê dat dit sommer lawwigheid was. Twee dae en twee nagte hierna kon ek glad nie slaap nie. Hierna het my vriende my teruggeneem na Johannesburg en my by my oudste dogter gaan aflaai. Ons het eintlik geen verhouding met mekaar gehad nie, want sy wou niks met my te doen hê nie omdat ek haar ma so sleg behandel het. Ek was baie lief vir my kleindogter en het vir haar gesê dat sy eendag wanneer sy groot is, vir haar mamma moet sê dat ek baie lief was vir haar. Hierna is ek na die woonstel-kompleks waar Erika gewoon het. In die tuin het ek 'n floute-aanval gehad. Toe ek regkom, het ek my jongste dogter met wie ek 'n goeie verhou-ding gehad het, geskakel en gesê ek is terug in Johannesburg en wil hulle net almal kom groet. Daarna was my selfoon se battery pap. Toe het duisternis my weer verswelg. Al wat ek kan onthou, is dat ek net gesê het: "Vader, vergewe my!" voordat die donkerte oor my toegesak het. ERIKA VERTEL: Wonderwerke gebeur vandag nog. Oor Robbie se hele lewe was dood geskryf, maar geloof, hoop en liefde het oorwinning bewerkstellig! Regdeur Robbie se hele lewe kon ek die Hand van God in werking sien. Robbie het aanvanklik nie aan 'n Mediese Fonds behoort nie, maar op 1 Des. 2005 tree sy Mediese Fonds in werking. Op 6 Des. word hy ernstig siek. Ek was by 'n funksie in Alberton toe my jongste dogter skakel en sê dat Robbie siek is en terug is in Johannesburg. Ek was eers ongeërg en het gewonder wat hy weer so skielik in Johannesburg kom doen. Daar het egter 'n gevoel van dring-endheid by my posgevat en ek wou so gou as moontlik by die huis kom. Niks kon my egter voorberei op wat ek daar gevind het nie. Robbie het agter op die grasperk gelê. Hy kon nie sien, praat of loop nie en sy oë was glaserig. Hy was geheel en al gedisoriënteer en het bloed gebraak. Ek het besef dat hy dadelik by 'n dokter of hospitaal moes uitkom! Genadiglik stuur die Here 'n man voor my woon-stel verby wat my gehelp het om Robbie in die motor te kry. Ek jaag na die Helen Joseph Hospitaal, maar ek kry geen hulp of bystand nie. Ek skakel my dogter, Nicolene, wat by die Garden City Clinic werk en sy vertel haar dokter wat die situasie is. Hy beveel aan dat ek Robbie dadelik daarheen neem. Daar aangekom, is hy dadelik in die Hoësorg-eenheid opgeneem. Sy bloeddruk was 84/42. Daar was bloed in sy maag, sy niere het nie gefunksioneer nie en daar was ook lewerprobleme. Na die nodige behandeling, is gesê dat ons 48 uur moes wag om te sien wat verder gaan gebeur. Kort daarna kry Robbie 'n hartaanval, word aan 'n ventilator gekoppel in die Intensiewe Sorgeenheid en lê net daar met oop oë terwyl niks by hom registreer nie en hy geen reaksie toon nie. Hy het infeksie van al die bloed in die maag en 'n operasie moes op hom uitgevoer word, maar hy was te swak. Hulle plaas hom op 'n dialise-masjien vir 4 ure per keer, maar daar is geen verbetering nie. Toe sê die dokters dat daar niks meer is wat hulle vir Robbie kan doen nie en dat hy maar vir my en die dogters moet groet. Ek vra toe vir Madelein, ons oudste dogter, en Nicoleen om vrede te maak met Robbie en sê dat ek hom ook vergewe. Só kon ons hom in vrede laat gaan. Ek het vir die Here gesê dat ek geen beheer oor hierdie situasie het nie en dat Sy goddelike wil moet geskied, maar ek smeek net by Hom dat Hy asseblief Robbie se kosbare siel moet red. In geloof het ek Robbie fisies in doeke toegedraai en vir die Here gegee. Robbie was vir 19 dae in die Intensiewe Sorgeenheid. Sy longe het "platgeval", sy niere en lewer het nie meer gefunksioneer nie en sy hart het ook gaan staan. Dit het voorgekom asof hy nooit geslaap het nie, want sy oë was nooit toe nie. Ek het al hierdie dae sy gees bedien deur vir hom Bybel te lees, te sing en te bid. Op 'n dag het hy my stip aangekyk, vir my met een oog geknip, met sy duim gewys en met een voet 'n beweging gemaak. (Hieroor sal Robbie later vertel). Die dokters het egter vir ons gesê dat ons 'n besluit sal moet neem om die masjiene alles te laat afskakel, aangesien daar geen hoop meer vir hom is nie. Ek is na 'n kapel langs die spreekkamers en vra vir die Here dat Hy sal help dat ons nie so 'n keuse sal hoef te maak nie, want dit is te moeilik. Hy moet doen wat Hy wil, want Hy weet wat Hy vir Robert in gedagte het. Een aand het ek en vriende by Robbie besoek afgelê. Almal het eintlik kom groet, want niemand het meer kon dink dat hy ooit lewendig daar sou uitstap nie. Ek kon nie verklaar wat in my binneste ontstaan het nie, maar skielik het dit gevoel asof ek wou op- en afspring van blydskap en die woorde van 'n liedjie het in my posgevat: "Don't give up, you're on the brink of a miracle…" Ons onderskat die krag van gebed. Daardie selfde aand het my suster wat op Pinetown bly en ook ander persone en gebedsgroepe vir Robbie voor God ingetree. Die huishulp by my oudste dogter het gesê: "Prayers are like taking money to the bank. You deposit them and leave them with God. And the day you need it most, God gives you back all you need!" Op 31 Des. 2005 stap Robbie uit die hospitaal. Geen breinskade nie, geen ander probleme nie, net nog baie swak en baie dankbaar! Goddank vir Sy genade! ROBBIE VERTEL VERDER: Terwyl ek in die hospitaal gelê het, het al my liggaamsorgane gesterf en my siel het my liggaam verlaat. Dit was iets soos wat Paulus beleef het: "Ek weet van 'n man in Christus, veertien jaar gelede - of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit - dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel. En ek weet van so 'n man - of dit in die liggaam was of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit - dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat 'n mens nie mag uitspreek nie" (2 Kor. 12:2-4). Ek staan toe in 'n plek - baie donker, baie warm en dit het baie sleg geruik! Ek het onmiddellik besef dat hierdie plek nie die hemel was nie! Job het dit beskryf as 'n "land van duisternis en doodskaduwee, 'n land van don-kerheid, van doodskaduwee en wanorde, en dit gee 'n skynsel - soos middernag!" (Job 10:21-22). Terwyl ek daar staan, kyk ek op en sien 'n doodskis staan: myne! Die hele tyd wat ek daar staan, hoor ek 'n klikgeluid. Soos 'n kamera wat foto's neem. Skielik staan daar langs my 'n kleinerige gedrog, 'n demoon, die vieslikste, vuilste ding wat ek nog in my lewe gesien het! Hy vra my of ek die klikgeluid hoor en ek antwoord bevestigend. Hy sê toe dit is 'n kamera wat foto's neem van al die mense wat hel toe gaan, drie mense per sekonde! Die demoon neem my vervolgens na 'n ander vertrek waar 'n baie indrukwekkende en groot rekenaar staan. Satan, 'n baie mooi mens, sê vir my: "Welkom in my koninkryk". Ek word op 'n tafel geplaas, met drade aan die rekenaar gekoppel, en hy sê vir my dat hy my gaan afbreek totdat ek geen gevoel meer in my oorhet nie. As 'n klokkie 10 keer lui, moes ek my oog knip. As dit 2 keer lui, moes ek my duim opsteek en as dit 3 keer lui, moes ek my voet beweeg. (Dit is die aksies wat Erika gesien het toe sy by my in die Intensiewe Sorgeenheid was). Ek moes dit aanhoudend doen. Interessant dat ons in Spreuke 6:12-13 lees: "'n Deugniet, 'n kwaaddoener is hy wat met 'n valse mond rondloop, wat met sy oë knip, met sy voete beduie, met sy vingers tekens gee…" Op die derde dag daar het ek gevoel hoe Iemand my hand vat en sê: "Moenie bang wees nie, want Ek is met jou." Onmiddellik hierna het ek begin weerstand bied teen die klokkies se gelui en Satan se aanvegtinge, omdat God ook vir my gesê het dat Hy mag het oor die dood en die doderyk, oor Satan en oor alle ander magte en owerhede. Hierna is ek na 'n ander lokaal geneem. Dit was verskriklik donker, warm en het ook vreeslik gestink. Ek het stemme gehoor kerm, allerhande soorte tale wat ek wel kon verstaan. Mense het gesmeek om sigarette en drank te kry, selfs om te dobbel. Al die sondes waaraan 'n mens maar kan dink, wou hulle doen. Ek het weer opgekyk en myself in die doodskis gesien. Dieselfde mense wat ek vroeër langs die kis gesien het, familie en vriende, het weer daar gestaan. Hierdie keer het hulle egter anders gelyk. Baie het hierdie keer 'n merkteken, 666, op hul voorhoof of regterhand gehad. ("En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe 'n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word" Op.13:16). Ander weer het 777 op hul voorhoofde gehad. Hierdie teken was baie pragtig. Dit het soos koraal-rosies gelyk. ("En hulle sal Sy aan-esig sien en Sy Naam sal op hulle voorhoofde wees" Op. 22:4). Terwyl ek nog daar staan, het 'n kolossale engel by my kom staan en vir my gesê dat ek nie hoef te vrees nie omdat God my deur hierdie verskrikking sal neem. Hierna het die demoon my na 'n ander plek geneem wat nog donkerder en warmer was en slegter geruik het as die vorige plekke. Daar wou ek sterf van die dors, maar daar was geen water nie. Satan is egter baie kreatief en het 'n waterval geskep sodat 'n mens kon hoor hoe val die water. Jy kon ook hoor hoe draai iemand 'n kraan oop en was sy hande en iemand anders loop met 'n watersak en skommel die ys daarin. Al hierdie dinge net om jou nog dorser te maak, maar tevergeefs. Jy kry geen water nie! Weer is ek na 'n ander vertrek geneem waar ek nogeens voor Satan moes verskyn. Hierdie keer was hy nie mooi en aantreklik nie, maar 'n gedrog met die lyf van 'n mens, die kop van 'n dier en voete soos bokkloue. Hy was regtig "evil"! Hy het gelag en gesê ek het gedink ek gaan wegkom, maar ek sal nooit daarin slaag nie. Daar was 'n groot skerm in hierdie vertrek en ek het gesien hoedat my hele lewe op hierdie skerm begin afspeel vandat ek 'n baba was. Elke keer wanneer ek gesondig het, het die beeld gevries. As ek gedrink het, het die beeld gevries. Dan het Satan gesê: "Dis sonde. Ek straf jou met 50 000 jaar in die hel." So het hy my vir elke sonde gestraf. Op 'n stadium was dit al amper 2 miljoen jaar. Toe sien ek dat ek in 'n nagklub sit en dwelms gebruik. (Ek het nog nooit in my lewe dwelms gebruik nie). Toe sien ek weer ek staan by 'n tolhek. Daar kom 'n polisiemotor aangery, hou stil en die polisieman storm op my af. Ek gryp sy pistool en skiet hom dood. (Ek het nog nooit in my hele lewe 'n pistool besit nie, wat nog te sê iemand doodskiet)! Ek vra Satan toe hoe is dit moontlik en hy antwoord dat ek dit sou doen as ek langer op aarde geleef het. Hierna is ek in 'n donker poel gegooi. Dit het soos 'n yslike, diep put gelyk. Dit was só donker dat ek nie die onderkant of bokant kon sien nie. Die allervreeslikste gekerm het van oral opgeklink. Dit het nooit opgehou nie. Daar was krete van droefheid, van pyn, van ellende en 'n atmosfeer van doodsheid rondom my. Sommige het steeds om genade gesmeek en sommige het God gevloek. Ek het ook om genade gesmeek en die Here gevra om my uit hierdie plek te verlos. Die stank was só oorweldigend dat ek skaars kon asemhaal. Die verskriklikste vrees het van my besit geneem en ek het besef dat daar geen hoop vir my was nie. Daar was géén manier hoe ek ooit uit hierdie plek sou kon kom nie! Ek het aangehou om na Jesus te roep om my te red. Absolute wanhoop en verlorenheid het van my besit geneem. Ek wou so graag sterf, maar kon nie! Toe hoor ek Satan se wagte praat van 'n geweldige sterk wind wat oor die woestyn waai en dit is op pad hel toe. Skielik was daar 'n skerp lig wat my omring het. Jesus was by my en het my in Sy arms geneem. Die volgende oomblik is ek met 'n geweldige krag uit die hel geruk! Dit was op 25 Des. 2005 om 12:00. Dit was die dag wat hulle gedink het om die masjiene waaraan ek gekoppel was, af te skakel en die pyp uit my keel te trek. Toe word ek wakker en begin onmiddellik praat en sê: "Ek was vir 36 jaar in die hel! Dit is hoe dit vir my gevoel het. Ek was nog vir 'n paar dae in die Intensiewe Sorgeenheid en is daarna na 'n gewone saal oorgeplaas totdat ek gesond huis toe kon gaan! En nou leef ek om vir mense te vertel dat daar werklik 'n hemel en 'n hel is en dat hulle baie seker moet maak waarheen hulle op pad is. Daar is só baie dinge wat ek nog kan vertel, maar die ruimte ontbreek. Indien daar gemeentes of selgroepe is wat ons wil nooi om ons getuienis te lewer, kan u ons skakel: Robbie (072 650 1961) of Erika (072 719 7917). |