DIE HERE HET ONS NODIG (MATT. 21)
  Die Here Jesus kom Jerusalem binne op die rug van 'n eselin. Ons lees in die vier Evangelies dat Jesus altyd gewandel het, maar in hierdie geval maak Hy gebruik van 'n dier. Hy laat haal 'n eselin en haar vul, omdat Hy hul nodig het. Jesus stuur twee dissipels en sê vir hulle: "Gaan na daardie dorp reg voor julle, en dadelik sal jul 'n eselin vind wat vasgemaak is en 'n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir my, en as iemand jul iets sê, moet julle antwoord, die Here het hulle nodig, en dadelik sal hy hulle stuur."
Die dissipels het gegaan en gedoen soos Jesus hulle beveel het. En hulle het die eselin en die vul gebring en hulle klere daarop gelê, en Hy het daarop gaan sit. Die grootste deel van die skare het hulle klere op die pad oopgegooi en ander het takke van die bome afgekap en op die pad gestrooi. Die skare het uitgeroep en gesê: "Hosanna vir die Seun van Dawid, geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here. Hosanna in die hoogste hemel."
Jesus kon baie maklik 'n engel uit die hemel beveel het om Hom Jerusalem binne te dra, maar Hy verkies die eenvoudigste van alle diere. Hy ry op 'n eselvul. Wat 'n les vir ons! Omdat die Here nederig is, wil Hy ook nederige, eenvoudige mense gebruik vir Sy diens op aarde. As so 'n eenvoudige dier soos 'n donkie vir Jesus goed genoeg was, hoeveel te meer kan Hy nie gebruik maak van elkeen van ons nie. Ons tel tog baie meer as 'n eselin. Die eselin waarop Jesus gery het, was so 'n gewillige middel. Sy het nie geskop, gespring of gebyt nie. Die eselin het geduldig gestaan dat Jesus opklim, en Hom gedra. Die Here gebruik ook nie onwillige mense in Sy diens nie. Ons moet gewillig wees om vir die Here te werk. Hy dwing niemand nie.
Die eselin en haar vul is losgemaak en deur twee dissipels na Jesus gebring. As daardie eselin vasgemaak bly staan het, sou die Heiland hulle nie kon gebruik het nie. Net so wil die Here ons ook in Sy diens gebruik, maar ons moet losgemaak wees van die wêreld, sonde, plesier, vermaak en van onsself.
Ons moet van onsself, van die "eie ek" loskom, sodat ons slegs kan doen wat die Here welbehaaglik is. Wie kan ons losmaak? Net die Here Jesus Christus! Hy verbreek al ons bande en maak ons vry.
God het Sy eersgebore Seun gestuur, 'n Lig tot verligting van die nasies om sondebande te verbreek, om die duisternis te verlig en slawe vry te maak. Daarom moes God se Seun Sy eie lewe aflê aan die kruis op Golgota. Sy bloed het daar gevloei om sondaars te red. As ons dink aan die marteling wat Hy die vorige nag moes deurgaan, is dit geen wonder dat Hy uitroep: "My God, my God, waarom het U My verlaat?" nie!
Jesus se liefde is onfeilbaar. Hy wil jou ook nou red. Kom sondaar, kom na Jesus, bely jou sondeskuld en aanvaar Sy vergifnis. Hy skenk dit so mild. Jesus het 'n volmaakte offer gebring. Hyself was die offerlam. Hy het die graf oorwin en uit die dood opgestaan en in die heiligdomme van God ingegaan om daar vir ons in te tree. Dankie Heer vir U onbeskryflike diep liefde vir ons!

Indeks     Index