BEKERING VAN GEHARDE BENDELID
  Andries de Beer (072 816 2011)

Ek was 'n bendelid van die bekende 26's. In 2004 het ek reeds sowat 16 jaar gevangenisstraf agter die rug gehad. Toe ek vrygelaat is op parool, was ek oortuig daarvan dat die wêreld my baie skuld. Ek was erg verslaaf aan 'n verskeidenheid dwelms en het maar net teruggekeer na my gewone afbrekende lewenspatroon. Satan, die 'vader van leuens', was in beheer van my lewe.
Gedurende hierdie tydperk het ek net "opgemors" waar ek ook al gegaan het. Ek het my verloofde en tweeling te na gekom. My familie wou niks met my te doen gehad het nie en in 2008 is ek weer in die gevangenis toegesluit omdat ek my paroolvoorwaardes verbreek het. Ek het myself gehaat, was bitter ongelukkig en absoluut verlore… Toe gebeur daar 'n wonderwerk met my! Op die vensterbank van 'n gevangenissel tel ek 'n stowwerige boekie op met die naam: "The First 5 Minutes after Death: What happens when You Die?" Ek het begin lees en die Skrif wat Isak Burger so duidelik verklaar het, het my laat besef dat ons aardse bestaan ontsettend belangrik is.
Ek het besef dat daar wel 'n lewe is na my aardse bestaan en dat my aardse lewe my ewige bestemming bepaal. Ek het besef dat net God my lewe kan verander en dat ek Hom drasties nodig het. In 'n plek van "gangsters", duisternis, eensaamheid, droefheid, boosheid en alles wat verderflik is, het ek op my knieë gegaan en God gesmeek vir genade, om my te vergewe van al my verkeerde dade, van moord en roof tot lieg en bedrieg.
God het wonderbaarlik ingegryp en my lewe het begin verander. Stelselmatig het ek meer begin bid, glo en vertrou. Vandag het ek 'n nuwe lewe deur Jesus Christus, my Verlosser, en leef ek 'n lewe in ooreenstemming met God se Woord.
[Uit: Now Magazine, Maart/April 2010].

Indeks     Index