BY HOM IS DAAR GEEN BEPERKINGE NIE! | |
  |
September 1999. Dit was laatmiddag in Chapungu, Malawi waar Vic O'Kelly en sy span vir die dertiende agtereenvolgende jaar hulle sendingtent in die gemeenskap opgeslaan het. Mense het van ver af gereis om soos vorige jare na die Evangelie te kom luister. Dit is toe dat Vic die ou vroutjie met die diepgeplooide gesig en die klein seuntjie aan haar hand sien stap. Hulle het skaars voor in die tent naby aan die verhogie gaan sit op die grond toe die seuntjie op haar skoot klim, haar bors uithaal en daaraan begin drink. "Maar... Maar," Vic was nou stomgeslaan. Hoe op dees aarde is dit moontlik dat hierdie klein seuntjie dan aan hierdie sowat 80-jarige vrou kan drink? Flits nou saam met my na 'n hospitaalkamer in Amerika. Sien hoe Pastoor Dutch Sheets die hospitaalkamerdeur agter hom toemaak. Vir 'n oomblik haal hy diep asem. Hy het gekom om vir 'n "baie siek pasiënt" te kom bid. Tog het niemand hom vooraf gewaarsku dat hierdie pasiënt reeds vir 'n jaar lank in 'n koma is nie. Nog minder dat sy breinskade opgedoen het en tans deur die buise in haar keel en maag aan die lewe gehou word nie. Oomblikke vantevore langs haar bed het dit hom diep getref dat net 'n wonderwerk hierdie vrou uit haar koma kan laat kom. Terwyl Dutch nou na sy motor stap, het 'n vreemde, onblusbare vlammetjie van geloof binne sy hart begin brand. "Wat as... Wat as die Here 'n wonderwerk verrig?" Wat hy nie op daardie oomblik besef het nie, was dat hierdie sy eerste van sowat 70 besoeke sou word en dat hy menigmaal met trane langs haar bed sou staan terwyl sy deursettingsvermoë en geloof tot op breekpunt beproef sou word... Flits nou weer vir 'n oomblik terug na die sendingtent in Malawi. Sien jy die oumagrootjie, Sofia, waar sy die klein seuntjie 'n drukkie gee terwyl sy haar storie vertel? Dit het sowat 'n jaar gelede begin. Haar kleindogter (die ma van hierdie seuntjie), kon nie meer die verwerping, afkomstig van die seuntjie se pa, hanteer nie. Sy het van die huis af weggehardloop. Skielik het dit die diep gelowige Sofia met 'n honger, huilende babatjie in die middel van nêrens gelaat. Die naaste winkels met babakos was letterlik ure weg van hulle woonplek. Terwyl die trane oor haar wange stroom, het sy daardie aand met die baba in haar arms voor God kom staan. Sy het ernstig tot Hom gebid vir uitkoms. Dit is toe dat haar borste skielik begin swel. God het gehoor, want skielik was daar genoeg melk om die baba te voed. En die pasiënt met die breinskade wat in 'n koma was? Téén die mediese wetenskap in, téén die resultate op swart en wit, het hierdie vrou een oggend sowat 'n jaar nadat Dutch week na week vir ure langs haar bed gebid het, skielik haar oë oopgemaak. Sy was 100% gesond! 'n Plaaslike koerant het na hierdie gebeurtenis berig: "Woman Awake, Alive, Healthy after Two Years in Coma." Op die doktersertifikaat was die woorde aangebring: Mediese wonderwerk! Daar is geen verklaring hiervoor nie. Jesus het eens gesê: "Vir mense is dit onmoontlik maar vir God is alles moontlik" (Markus 9:23). Ook Paulus het later by hom aangesluit: "God is in staat om veel meer te doen as wat ons ooit kan bid of dink" (Efesiërs 2:20). Besef jy dat ons vandag nog dieselfde God dien? Besef jy dat die God wat die son vir Josua en die Israeliete kon laat stilstaan sodat hulle die oorlog kon voltooi, dieselfde God is wat die son se skaduwee vir koning Hiskia met tien grade kon terug-skuif. Dit is ook Hy, die Skepper van die heelal, wat Sy Seun, Jesus Christus, meer as 2 000 jaar gelede uit 'n tienermaagd kon laat gebore word. By Hom en vir Hom is niks onmoontlik nie. Wat is jou uitdagings vandag? Sit jy soos Sofia met jou rug teen die muur? Is jy soos die familie met die komapasiënt op die randjie om tou op te gooi? Kies vandag om jou geloof en vertroue in God te plaas. By Hom is daar immers GEEN BEPERKINGE nie! Vader God, vandag besef ek opnuut dat niks vir U onmoontlik is nie - ook in my lewe. Dankie dat ek U vir die buitengewone kan vertrou. Dankie dat daar by U geen beperkinge is nie. Lei my vandag om werklik my geloof en vertroue opnuut in U te plaas. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. B Botha, Vers-n-Dag, 18/08/2009 Sofia: http://www.facebook.com/search/?q=radio-kansel&init=quick#/ photo.php?pid=2930561&id=118133410247 Pasiënt in Amerika: "Intercessory Prayer" deur Dutch Sheets |