WOESTYNE BETEKEN "STILTE"...
  Woestyne in ons lewens is allesbehalwe betekenisloos. Een van die belangrikste kenmerke van 'n woestyn is stilte. Enigiemand wat al in 'n regte woestyn was, word getref deur hierdie stilte. Veral as 'n mens uit ons moderne opset van gejaag en geraasbesoedeling in 'n woestyn beland, is die stilte oorweldigend.
Ons leef in 'n tyd waar verskillende vorme van besoedeling hoogty vier. Ons praat van lugbesoedeling, waterbesoedeling, en dies meer. Ons is egter nie altyd bewus van die geweldige vlakke van geraasbesoedeling, veral in ons stedelike gebiede, nie. Daar is die geraas van motors en vliegtuie, toeters en sirenes, die gepraat van mense en die geblaf van honde. In 'n sekere sin het ons geleer om daarmee saam te leef en kom ons dit dikwels nie meer agter nie. Totdat jy in 'n plek van absolute stilte kom.
'n Tyd gelede het ons deur Namibië getoer, en daar, veral in die Namibwoestyn, tref die ware stilte jou - jy kan die stilte amper hoor! Dan skielik besef jy hoeveel natuurlike byklanke ons lugruim normaalweg vul.
Wat geld vir die geraasbesoedeling waaraan baie van ons daagliks blootgestel word, geld nog meer vir al die dinge wat in ons hedendaagse wêreld gedurig op ons aandag aanspraak maak. Daar is soveel druk en soveel "stemme" wat voortdurend ons aandag vra - by die huis, by die werk en in die daaglikse gang van ons lewens.
Iemand het met reg gesê: "The greatest enemy of our time, is 'busyness'." Die selfoon en die internet het grootliks daartoe bygedra dat ware afsondering en stilte 'n "luukse" geword het wat vir baie van ons feitlik nie meer bestaan nie.
Baie van ons is só gedrewe deur ambisie en die drang tot sukses, ander deur die veeleisendheid van ons moderne samelewing en beroeps- en gesinsverwagtinge dat ware stilte en stilwees 'n skaars kommoditeit geword het. Ons is deel van 'n wêreld en same-lewing wat nie meer gewoond is aan stilte en stilword nie. Dit is asof ons partykeer bang is vir stilte en gebruik daarom die tempo van die hedendaagse lewe as verdowingsmiddel daarteen.

GOD SKREEU NIE
Die groot probleem met hierdie toedrag van sake is dat ons die Here en Sy Stem in hierdie geroesemoes en geraas mis. Die "byklanke" is te veel en te hard. Die gejaag en "geraas" in ons lewe doof Sy Stem uit.
Daar is in hierdie verband 'n baie belangrike waarheid waarvan ons moet kennis neem: God weier (met respek gesê) om op ons te skreeu. Hy ding nie mee met al die klanke en stemme wat om ons aandag meeding nie. Ons dink baie keer dat die Here nie meer met ons praat nie. Ek dink egter die Here vind dit net moeilik om tot ons deur te dring en om ons aandag te kry. Die feit is dat God wel praat, maar ons kan nie Sy Stem hoor tussen al die ander "stemme" nie. Dit is algemene kennis dat effek-tiewe kommunikasie deur geraas belemmer word. Dit gaan nie net oor klanke wat jy hoor nie, maar oor die verdowende effek wat die dinge wat in jou en om jou aan die gang is, op jou het.
Dalk was jy al by 'n konsert of 'n kerkdiens waar 'n sanger met voorafopgeneemde musiek ('n backtrack) gesing het. Ek was al by sulke geleenthede waar die klankkontroleur die musiekklankbaan te hard en die sanger se klank te sag gestel het. Die gevolg is dat die sanger se stem deur die musiek oordonder en verdring word en jy nie die woorde van die lied behoorlik kan hoor nie. Dit is wat dikwels in ons lewens gebeur. Die musiek en byklanke van die lewe is só hard en oorweldigend dat ons nie kan hoor as God met ons praat nie. Nie deur die sagte Stem van Sy Gees of deur die Woord, of deur die natuur, of op enige manier nie. En onthou, soos met Elia het die Here nie na hom gekom in die groot en sterk wind, deur die aardbewing of deur 'n vuur nie, maar in "die gesuis van 'n sagte koelte" (1 Kon. 19:12). Eeue gelede was dit nie naastenby so 'n wesenlike probleem soos vandag nie. Die gejaag en wed-ywering wat industrialisasie, meganisasie, kapitalisme en materialisme meegebring het, het mense nie toe geken nie. Daar was nie horlosies nie en hulle was nie slawe van tyd nie. In kort, gemeen-skappe en individue het 'n veel, veel stiller en rustiger lewe as ons gelei.
Tog, ten spyte hiervan, het God dit nodig geag om sekere mense met wie Hy 'n besondere pad wou loop, eenkant, na die eensaamheid en stilte van die woestyn te neem. As dit waar en nodig was in 'n tydvak van die geskiedenis toe mense veel rustiger was, hoeveel te meer is dit nodig in die tye waarin ons nou leef?

ONS GEJAAGDE LEWE VER-OORSAAK DAT ONS GOD MIS
Baie van ons se geaardheid, ambisie, werksdruk en program laat ons nie veel "alleentyd" toe nie. Wanneer 'n mens na méér van God soek, gaan jy dit selde in die geharwar van ons normale moderne lewenstyl vind. God pas nie by óns program aan nie en Hy laat Hom nie aanjaag nie.
Dink maar aan die gebeure die oggend met Sy opstanding (Johannes 20). Eers het Maria Magdalena die graf vroegoggend besoek en gevind dat die steen voor die graf weggerol was. Sy het Petrus en Johannes gaan roep wat gekom en selfs die graf binne-gegaan het en gesien het dat die graf leeg was. Hulle het niemand gesien nie en is terug huis toe.
Maria het egter in die tuin by die leë graf agtergebly. Dis toe dat sy die twee engele sien en net daarna vir Jesus! Sy word die eerste persoon wat Hom ná Sy opstanding gesien het!
Die vraag kom onwillekeurig op: Waarom het Petrus en Johannes niks gesien nie - nie engele nie en ook nie vir Jesus nie? Die ant-woord is eenvoudig: Hulle was te haastig. Mense wat te haastig en te besig is, sal nie sommer die bonatuurlike beleef nie.
Hoeveel keer het ons nie al 'n besondere openbaring of werking van die Here gemis omdat ons te haastig en te besig was nie? God kom - op Sı tyd en op Sı voorwaardes. Die Here het kos-bare dinge wat Hy met ons wil deel. Maar Hy wil dit nie in die spreek-woordelike "hardloop" doen nie. Daarom neem Hy ons partykeer woestyn toe.

'N PERSOONLIKE GETUIENIS
Ek sal nooit een so 'n "woestyn-tyd" en die betekenis daarvan in my eie lewe vergeet nie. Ek was in my vierde jaar op kweekskool aan die Universiteit van Pretoria, besig met my teologiese studies, druk besig om aan die vereiste aka-demiese voorbereiding vir die bediening te voldoen. Daar was egter 'n ander "voorbereiding" wat vir my gewag het waarin die Universiteit nie kon voorsien nie.
Op 5 Mei 1972 by 'n kruising naby die Universiteit, het 'n persoon met sy motor oor 'n rooi lig gery en ek het met my motorfiets teen hom gebots. Ek was bewusteloos en benewens vele ander beserings het ek my rug gebreek.
Genadiglik is ek nie verlam nie, maar vir twee weke in die hospitaal en vier weke by die huis mag ek glad nie orent gekom het nie en moes ek plat op my rug lê. Daarna moes ek nog vir 'n tyd 'n spesiale rugstut dra.
Daardie tyd was vir my 'n woestyntydperk. Skielik, sonder waarskuwing, is ek uit my besige program en akademiese drukgang geruk en moes ek daar lê - uur na uur, dag en nag met my eie gedagtes, volkome afhanklik van ander mense wat alles vir my moes doen. Op die oog af sou 'n mens dink dat dit frustrerende, beteke-nislose, verveelde en leë dae en nagte sou wees. Toe tog nie…
Dis verbasend, eintlik wonderlik wat in 'n mens kan gebeur as jy skielik uit sirkulasie gehaal en in stilte en afsondering eenkant neergesit word. Ek was weliswaar nie alleen in die saal nie. Daar was die normale hospitaal-aktiwiteite en geluide, maar vir my was dit 'n tyd van onbeplande en onvoorsiene afsondering. Iets waarop ek nie gereken of voor begroot het in my jaarbeplanning nie.
Vandag weet ek dat God daar met my 'n afspraak gehad het. Nee, ek sê nie die Here het my in die ongeluk laat kom of dat Hy my wou "regsien" nie. Wat ek wel weet, is dat God dikwels 'n "woestyn-situasie" in ons lewens toelaat sodat ons stil en rustig kan raak sodat Hy met ons kan praat. God se "praat" met ons is belangriker as wat ons ooit sal besef. Ons mis Sy "praat" so dikwels weens die "geraas" en "byklanke" van die lewe.
Dáár, in daardie hospitaal, kon ek meteens goed "hoor"! Ek onthou meer as een keer dat so in die loop van die dag, terwyl verpleegsters in- en uitgaan en van die ander pasiënte boek of koerant lees, ek sommer daar op my rug my Bybel gelê en lees het. En dan, byna onverwags, het 'n teks wat nog nooit vantevore vir my iets beteken het nie, skielik "lewendig" geword, as't ware tussen die ander verse uitgestaan en net vir my oopgegaan. Meer as een keer het ek die Bybel op my gesig laat sak omdat trane vrylik geloop het terwyl ek die Teenwoordigheid van die Here so onmiskenbaar en intens ervaar het.
My hart was net sag, my gees oop, die hemel naby. Dit was tye wat ek nooit sal vergeet nie. God het daar vir my 'n groter werklikheid as ooit geword, en geen ateïs of sinikus sou my ooit kon laat twyfel aan die werklikheid van God en Sy liefde vir my nie. Selfs al was my teologiese studies nog nie voltooid nie, het die Here daar vir my vele kosbare boodskappe gegee.
Onder normale omstandighede sou ek sê dat daardie ses weke 'n totale vermorsing van tyd was. Maar, gesien in die groter prentjie van my lewe, was dit egter een van die mees betekenisvolle en belangrikste tye in my lewe.

WOESTYNTYE HERINNER ONS AAN DIE BELANGRIKHEID VAN ALLEENTYE
Woestyne in ons lewe wil ons daaraan herinner hoe belangrik alleentye saam met God is. In my eie lewe is dit een van my grootste uitdagings. My program is só vol, my dagboek só ver vooruit bespreek, die drang om produktief te wees só groot, dat ek self te min tyd allokeer vir stilwees, wag, niksdoen. 'n Mens moet leer dat sulke tye nie vermorste en sinlose tye is nie. 'n Mens behoort sulke tye in jou dagboek en jaarbeplanner te reserveer. Ek weet baie van ons is sekerlik besig genoeg om te sê: Ek het doodeenvoudig nie die tyd daarvoor nie. Dis net opmerklik hoe die woestyne in ons lewens arriveer sonder om ons dagboek te raadpleeg of na ons agenda te vra. Skielik word jy uit sirkulasie gehaal en eenkant gesit terwyl die lewe rondom jou steeds in sy dolle gejaag voortgaan.
Ek merk elke keer op as ek die Evangelies deurlees hoeveel keer Jesus tyd gevind het om alleen te wees, partykeer saam met sy dissipels, partykeer heeltemal alleen. Soms het Hy in die wildernis ingegaan, ander kere in die berge, ander kere na eensame plekke langs die See van Galilea. Daar het Hy van Sy Vader gehoor. En met Hom gepraat. Daar is verskillende gebeurtenisse in ons lewens wat ons skielik die spreekwoordelike woestyn inneem - dit hoef nie 'n letterlike, dorre, onherbergsame landstreek te wees nie. Die woestyne in ons lewens kan in verskeie gedaantes kom. Verskillende krisisse in jou lewe kan so 'n plek word. 'n Bed in 'n hospitaal, 'n ongeluk, een of ander teëspoed, swaarkry, die verlies van jou werk, finansiële krisis, 'n hartaanval, kanker - dit alles kan jou eie woestyn wees. Weer wil ek sê dat God nie die Outeur van allerlei teëspoed in ons lewens is nie. Hy kan egter sulke tye en gebeure gebruik en dit omdraai sodat dit uiteindelik tot ons heil en seën dien.
As jy sulke woestyne reg verstaan en beleef, kan die woestyn vir jou 'n plek van genesing word, 'n ontmoetingsplek met God, 'n heilige plek. Maar dan moet jy gewillig wees om stil te word sodat jy in die woestynstilte Sy Stem kan hoor…
Miskien is jy nou midde-in so 'n woestyntyd. Dalk het jy dit vroeër nie verstaan nie. Mag jou woestyn so 'n ontmoetingsplek met God word.
[Uit: Seisoene, Storms en Woestyne, Isak Burger, CUM, 2009].

Indeks     Index