BYBELS VLIEG UIT APTEEK!
  "Ek het die Bybelverspreiding in ons gemeente dopgehou en gewonder hoe ons betrokke kon raak. In November het ons besluit ons gaan ‘n poging aanwend om Bybels hier in die apteek te versprei. Met ‘n begin van slegs 10 Zoeloe-Bybels die oggend, moes ons gou nog Bybels by die kerkkantoor gaan koop, want binne omtrent twee uur is die eerste klomp versprei."
Aan die woord is mnr. Charles Truter, die eienaar van die Mayor’s Walk Apteek in Pietermaritzburg. Mnr. Truter is ‘n lidmaat van die NG Kerk Gemeente, Pieter-maritzburg-Noord.
Hierdie gemeente het ‘n passie vir Bybel-verspreiding. Dit het alles begin by die Vrouediens van dié gemeente wat met ‘n Projek, Een-vrou-een-Bybel, begin het. Spoedig het dit ‘n Gemeenteprojek geword en die afgelope twee jaar het hulle reeds byna 6 500 Bybels versprei.
In Oktober verlede jaar het die gemeente 1 460 Zoeloe-Uitreikbybels aangekoop vir verspreiding onder die armstes van die armes. Die nuwe deur wat in Mayor’s Walk Apteek oopgegaan het, is net ‘n verdere aanmoediging vir die lidmate wat by hier-die Bybelprojek betrokke is. Een van die lidmate in die gemeente getuig: "Dit is asof die Here haastig is dat die Lewende Woord by Sy skepsele moet uitkom en alles val net wonderlik in plek, teen ‘n spoed en met ‘n dringendheid wat ons verstom." Binne die eerste maand het die apteek meer as 400 Bybels versprei.
Nog ‘n lidmaat vertel dat as jy eers die blydskap van iemand wat ‘n eie Bybel ontvang, beleef het, moet jy erken dat God Self hier aan die werk is.
"Ons wil die Here loof vir die mees onverwagte en mees onwaarskynlike maniere waarop Hy te werk gaan om Sy Woord by dié mense uit te bring met wie ons nooit enige kontak sou hê nie" - NG Kerk Pietermaritzburg-Noord. [Die SAAIER, Herfs 2011, Bybelgenoot-skap van Suid-Afrika].

Indeks     Index