KOM ONS BOU 'N ALTAAR | |
  |
![]() Ons lees in 1 Konings18 hoe Elia die Baäl-profete oorwin het. Daarna het hy 'n altaar vir die HERE gebou. In vers 30 lees ons die volgende: "Toe sê Elia vir die hele volk: Kom nader na my. En die hele volk het nader gekom na hom; en hy het die altaar herstel wat afgebreek was." Die altaar was 'n simbool van gebed. Die altaar is verwaarloos en moes herstel word. Daar was skynbaar vroeër 'n altaar op die berg Karmel; daarom het Elia dit nou herstel. In ons persoonlike lewens is dit een van die moeilikste dinge om te doen: om ons gebedsaltaar te herstel nadat ons dit verwaarloos het. Daar is so baie dinge wat ons aandag verg; so baie sake wat só belangrik skyn te wees! En dan is ons ook nie altyd lus om te bid nie! Ons lees en bid vir tien minute. Dan raak ons woorde op en kan ons nie meer verder bid nie. Natuurlik sal die vyand ook altyd probeer om die herstel van die altaar in die wiele te ry! ¦ Na 70 jaar van ballingskap wou die vyand keer dat die volk Israel na hulle land terugkeer. Daniël bou 'n altaar van gebed (Jer. 29). ¦ Nehemia beskryf die bou van die muur en al die teenstand wat hulle van die vyand beleef het. Tog behoort ons, ten spyte van alle weerstand van die vyand, ons gebedsaltaar te herstel. In ons stryd sal ons agterkom dat daar EEN is wat help om ons taak ligter te maak. En God beloon 'n herstelde altaar. In Spreuke 16:3 lees ons in die Amplified Bible: "Roll your works upon the Lord [commit and trust them wholly to Him; He will cause your thoughts to become agreeable to His will, and] so shall your plans be established and succeed." Ons moet gedurig soek na God se wil en leiding vir ons lewens. Daarmee verklaar ons dat ons self té gering is om 'n oplossing vir ons probleme en stryd te vind. In Jesaja 30:19-21 lees ons: "O people who dwell in Zion at Jerusalem, you will weep no more. He will surely be gracious to you at the sound of your cry; when He hears it, He will answer you. And though the Lord gives you the bread of adversity and the water of affliction, yet your Teacher will not hide Himself anymore, but your eyes will constantly behold your Teacher. And your ears will hear a word behind you, saying, This is the way; walk in it, when you turn to the right hand, and when you turn to the left" (Amplified Bible). God wil hê dat ons voortdurend ons Leermeester ("Teacher") sal sien! Die Heilige Gees sal ons leer en lei in die hele waarheid. Ons moet aan God se voete sit sodat ons Sy stem kan hoor. Die gebedsaltaar moet herstel word. Dán val die vuur van God! In Elia se tyd het die vuur geval in 'n tyd van nasionale afval. Toewyding aan God en voortdurende aanbidding tot Hom, was op 'n laagtepunt. God se vuur word egter nie gereserveer net vir volmaakte omstandighede nie. Hy stuur dit juis wanneer dit die nodigste is! ¦ Wanneer die nag op sy donkerste is; ¦ Wanneer ons nood op sy hoogste is; ¦ Wanneer ons krisis op sy grootste is. Buig net jou knieë en roep tot God! Mag Hy ons genade skenk om die gebedsaltaar te herstel: ¦ In ons persoonlike lewens; ¦ In ons huis; ¦ In ons kerk; ¦ In ons mooi land! Dan sal Hy die vuur op ons altaar aansteek sodat Hy Homself as God in ons lewens kan proklameer. Dit sal 'n blywende vuur wees, omdat dit nie uit eie pogings ontstaan het nie, maar omdat Hy dit aangesteek het. Laat ons vir Hom 'n altaar bou! © Dr. J J Venter |