KIES VANDAG
  Talle hedendaagse Christene beleef blykbaar drie stadia in hulle lewens: veroordeling, redding, en stagnasie. Babajare is kosbaar en vreugdevol, maar as die baba nie opgroei nie, is dit tragies en jammerlik.
Die geestelike baba wat nie volwasse word nie, is vir God 'n groot verleentheid. Dit is God se wil dat ons ryk sal wees aan geestelike volwassenheid.
Tensy ons volwasse gelowiges in Christus is, sal ons 'n las wees - kinderagtig en kleingeestig. Ons sal altyd net aandag wil hê en geamuseer wil word.
Vir 'n hele aantal jare het 'n gemeente in die Suide hulle maandelikse gemeentebulletin aan my gestuur. Dit was eintlik pateties. Hulle "vol program" is as "Christelike aktiwiteite" beskou, maar ek sidder om te dink dat weeklikse skilder- en keramieklesse, skaatspartytjies en 'n hele klomp ander dinge wat nie eens deur buiteklubs aangebied word nie, as "chris-telik" beskou word.
Só 'n gemeente sal nooit ooit op die duiwel se gevaarlys verskyn nie! Geen kerkgroep wat kennis dra van geestelike oorlog-voering sal gedurig braaivleis as iets geesteliks aanbied nie. Daar is werklik 'n stryd aan die gang! Ek het al vantevore gesê dat sommige gelowiges 'n arrogante groep is wat hulle lewenstyl aanpas by hulle eie weergawe van godsdiens. Ons "glo" net totdat ons dit ongerieflik vind - en dan verdwyn ons geloof in die niet. Ons weet uit eie ondervinding dat Job reg was toe hy gesê het: "Maar die mens word vir moeite gebore soos die vonke boontoe vlieg" (5:7). Die mens is gebore om keuses te maak, besluite te neem, en opsies uit te oefen.
Besluit nou! "Kies julle vandag!" Hierdie Skrif-gedeelte waar Josua aan die Israeliete 'n keuse gestel het (Jos. 24:15), is aan ons almal goed bekend. Hulle kon die afgode dien wat hulle vaders oorkant die Eufraat gedien het, of die gode van die Amoriete in wie se land hulle nou geleef het, of hulle kon onwankelbaar saam met Josua staan wat gesê het: "Ek en my huis, ons sal die HERE dien."
Kom ons plaas die klem soos volg: "Kies... vandag". U het moontlik jare gelede gekies om Jesus te volg waar Hy ook al sou lei. Dit is goed en wel. Vandag word ons egter voor die keuse gestel om "ander gode" te volg. Ydelheid mag 'n afgod wees - of selfs wedywering. Luiheid kan my meester wees as ek nie daagliks leef met 'n "ewigheidsperspektief" nie. Geldgierigheid kan 'n baie verleidelike afgod wees. Daar kan baie mooi- klinkende name daarvoor wees, soos "sukses" of "om vooruit te kom in die lewe".
Dit sal my "vandag" van my beroof as ek nie die misleier ontmasker nie. Vandag gaan verby en ek sal dit nooit weer beleef nie. Daar bestaan géén mark op aarde waar ek ou dae of gedeeltes van verweerde ou dae kan gaan koop nie. Die dae kom en gaan - of dit goed was of sleg. In 'n sekere sin is ek meester van my bestemming; kaptein van my siel. Ek mag 'n slaaf van tyd wees, maar daar was nog géén meester wat die gees kon verkneg nie. Ek kan in die tronk wees en tog vry wees. Ek kan kreupel of gestremd wees en tog 'n geestelike atleet wees wat oor hekkies seil waaroor gesonde mense struikel en val.
Ek kan vandag kies om te bid of nie te bid nie, te vas of nie te vas nie, om mooi dinge oor ander te sê of om hulle te kritiseer. Vandag kan ek kies om 'n broer se reputasie te beskerm of te skend. Vandag kan ek kies om God te loof en te dank vir alles wat Hy reeds vir my gedoen het en waarvoor ek miskien nog nooit dankie gesê het nie. Gister se keuse is verby - môre s'n nog ongebore. Vandag is dié dag!
- Leonard Ravenhill

Indeks     Index