'N KOELDRANKMAATSKAPPY KRY DIT DALK REG... EN DIE KERK? | |
  |
God begeer dat elke mens op aarde 'n persoonlike, verstaanbare verduideliking met betrekking tot Sy aanbod van die Ewige Lewe deur Jesus Christus sal ontvang. Hierdie taak is haalbaar! Die bestuur en bemarkers van Coca-Cola gaan daagliks voluit met advertensies en allerlei blootstelling om seker te maak dat soveel mense moontlik op aarde van hulle produk kennis sal neem en daarvan geniet. Daarom kan die Kerk in geheel homself dit sekerlik ten doel stel om die Evangelieboodskap op allerlei maniere, maar veral ook deur middel van die gedrukte media aan elke mens op aarde beskikbaar te stel. Baie mense wat eenmaal Coke, die egte een, geproe het, sal nie sommer met enige ander koeldrank tevrede wees nie. Is hul geheime formule belangriker en het dit 'n beter smaak as die Water van die Ewige Lewe? Daar is die ware verhaal van 'n toeris in China wat een van daardie driewiel-fiets-taxi's gehuur het. Die toeris, 'n kind van die Here, was gretig om te weet of die bestuurder van hierdie "trap"-taxi die Here ken. Hy vra hom toe: "Is jy 'n gelowige mens?" Die taxi-bestuurder het onmiddellik gereageer en gesê dat hy 'n Christen is. Die toeris het nog 'n bietjie bedenkinge gehad en vra verder: "Weet jy van Matteus, Markus en Lukas?" "Nee, maar ek weet van Jesus," was sy duidelike antwoord. Hierna vertel hy die volgende merkwaardige verhaal. Terwyl hy in die klein agterplaas van sy huis gestaan het, het die wind 'n stukkie papier van 'n nabygeleë vullishoop aangewaai. Toe die stukkie papier na hom neersak, het hy dit geneem en begin lees. Hy vertel dat hierdie stukkie papier hom na die waarheid gelei het, want dit het oor Jesus gehandel. Dit was 'n klein traktaatjie. "Dit het uit die hemel na my toe gekom," het hy gesê. Sedert daardie dag het 'n groot aantal van sy familie en vriende ook die Here Jesus aangeneem en hulle kom gereeld byeen vir gebed en aanbidding. Die wind van God se bedoeling het 'n weggegooide traktaatjie opgeraap en met presiesheid in die hand van 'n honger siel geplaas. Die invloed van daardie gedrukte Woord het geloof geskep en 'n geestelike honger gestil. Op wonderlike maniere gebruik God steeds elke dag die gedrukte Woord om mense se lewens aan te raak. Op verskeie maniere en by verskeie geleenthede het die Here 16 jaar gelede met ons gepraat oor die publikasie van 'n Christelike koerant. Hy het veral die volgende aanhaling, "One drop of ink makes thousands, perhaps millions think," baie sterk aan ons oorgedra. Aangesien ons albei "uitgebrand" het en geen vaste beroep beoefen het nie, maar deeltyds op allerlei maniere moes probeer "om die pot aan die kook te hou," was daar geen manier waarop ons so 'n projek kon aanpak nie. Op 7 November 1996 het die Here ons egter uitgedaag "om op die water te loop" (Matteus 14:28-32). Hoewel ons baie gebid en hierdie visie met mede-gelowiges gedeel het, het daar niks gebeur nie voordat 'n persoon die stem van die Here gehoor het, gehoorsaam was en op 7 Maart 1998 aan ons die nodige rekenaartoerusting ten bedrae van R12 000 geskenk het! Kort hierna was daar nog twee persone gehoorsaam aan die stem van God en het ons verdere programmatuur bekom ten bedrae van R5 000. Met ywer en groot genade van die Heer het ons die programme begin leer en 'n koerant, "Goeie Nuus" / "Good News" het gedurende April 1998 sy verskyning gemaak. Hierdie koerant is nou 14 jaar oud, word maandeliks in 12 dorpe van huis tot huis afgelewer en daar is al 5 368 900 eksemplare gratis versprei! Daar is ook 'n webtuiste www.goodnewsmessage.co.za beskikbaar waar mense regoor ons land en selfs in die buiteland die "Goeie Nuus"/"Good News" kan lees. Ons ontvang gedurig wonderlike terugvoer van mense wie se lewens aangeraak en verander is deur die artikels en getuienisse wat in die koerant verskyn het. Ons is innig dankbaar dat die Here hierdie koerant ook as gedrukte instrument gebruik om mense te red, te bemoedig, te leer, te help en selfs te beskerm. 'n Hele aantal koerante sal nodig wees om al die getuienisse neer te pen wat ons al ontvang het van mense wie se lewens wonderbaarlik aangeraak en verkwik is deur die "Goeie Nuus"/"Good News". Ons is só dankbaar teenoor die Here vir Sy onuitspreeklike krag en voorsiening elke maand om ons in staat te stel om getrou elke uitgawe te laat druk en versprei. Ook aan ons adverteerders, intersessors en donateurs ons innige dank vir u hulp en ondersteuning. Sonder u sou dit nie moontlik wees om die "Goeie Nuus" uit te gee nie! Indien hierdie koerant die afgelope 14 jaar vir u tot seën was, wil ons vra dat u ernstig daaroor sal bid en besluit dat u ook 'n medewerker in hierdie akker van God wil wees en bydra tot die voortbestaan en uitbreiding van hierdie Bediening. U kan vir ons gereeld bid, maandeliks 'n bedrag inbetaal per debietorder of selfs ‘n eenmalige skenking maak. Vul asb. die vorm hiernaas in of gebruik ons bankbesonderhede om donasies te maak. Mag die Here u ryklik seën wanneer u in Sy Koninkryk belê! - Uitgewers G/N ![]() ![]() |