"GOEISTE, MENEER, IS GOD NIE WONDERLIK NIE?
  Johnny Lake was 'n vyftien-jarige seun wat in 'n dorp in die noordelike deel van British Columbia gewoon het. Nie ver van Johnny af nie het dr. Riley, wat van Ierland na Kanada geïmmigreer het, gewoon. Hy was jare lank 'n ateïs en het baie gely as gevolg van pynlike rumatiek in sy heup, maar hy was in die omgewing bekend as 'n goeie dokter.
Dr. Riley het baie van jong Johnny Lake gehou. Hy het dikwels vir Johnny saam met hom geneem as hy huisbesoek gaan doen het. Een aand was hulle by die huis van die Owensgesin, waar die klein sewejarige Cathy Owens siek was met dubbele longontsteking. Dr. Riley het geluister na hierdie dogtertjie wat hyg na asem, en uiteindelik sy swart tas toegeknip.
Hy het na Cathy se ouers gedraai, en hartseer vir hulle gesê: "Ek is jammer, maar Cathy sal nie die aand oorleef nie. Ek moet nou gaan en ander besoeke doen, maar ek sal later weer terugkom. Intussen los ek vir Johnny hier om by Cathy te sit."
Na dr. Riley die huis verlaat het, het Johnny op sy knieë gegaan sodat hy saggies in Cathy se oor kon praat: "God het jou lief, Cathy, en God gaan jou genees," het Johnny gefluister. "Haal asem, Cathy, haal asem. O God, help Cathy om asem te haal."
Johnny het aangehou, "Cathy, binnekort is dit lente. Ons sal op die gras gaan speel en wawiele doen. Haal asem, Cathy, haal asem. O God, help Cathy om asem te haal."
"Dan Cathy, sal ons na 'n molsgat kyk, en miskien sal ons 'n klein molletjie sien. Haal asem, Cathy, haal asem. O God, help Cathy om asem te haal."
"Dan Cathy, sal ons na die brug toe gaan en kyk na die wit vissies in die rivier terwyl die waens oor die brug ry. Haal asem, Cathy, haal asem! Dankie God, dat U Cathy help om asem te haal!"
Ongeveer twee ure het verloop voordat dr. Riley teruggekeer het na die Owens-huis. Teen hierdie tyd het Johnny nie meer gefluister nie, maar hardop en opgewonde gepraat.
"Hoe lank is dit al aan die gang?" het dr. Riley Cathy se ouers gevra.
"Sedert u weggegaan het, dokter," het hulle geantwoord. "Daar was tye dat ons gedink het dat dit Cathy se laaste asemteug is, maar nou lyk dit asof sy sterker word."
Dr. Riley het sy stetoskoop uitgehaal, afgebuk en Cathy ondersoek. Hy het nie 'n woord gesê nie, maar 'n glimlag het stadig oor sy gesig versprei. Johnny het opgespring en uit-geroep: "God het Cathy genees! Goeiste, meneer, is God nie wonderlik nie!"
Op daardie oomblik het die verskriklike pyn in dr. Riley se heup verdwyn!
Cathy Owens is wonderbaarlik genees van dubbele longontsteking. Dr. Riley is wonderbaarlik genees van rumatiek in sy heup. En die beste van alles is dat dr. Riley 'n diep gelowige van die lewende Christus, sy Verlosser en God geword het - alles as gevolg van die krag van woorde wat in geloof uitgespreek is.
In Spreuke 18:21 lees ons: "Dood en lewe is in die mag van die tong." The Message-vertaling sê dit soos volg: "Woorde maak dood, woorde gee lewe; hulle is òf gif òf vrug - jy kies." (Vry vertaal).
Johnny Lake het woorde van lewe en geloof gespreek, woorde van genesing en seën.
Toe dr. Riley 'n lewenswyse van opstand gebreek het deur God te loof, het hy ook woorde van genesing gespreek - genesing vir sy rumatiek-geteisterde heup. Sy erkenning van Jesus as die Here van sy lewe het verlossing vir hom gebring.
[Uit: WOORDE WAT BERGE VERSIT, E W Kenyon & Don Gosset, VGU, 2009].

Indeks     Index