DIE WAARDE VAN EEN ROOI APPEL...
 

Ek dink aan etlike jare gelede, aan ons klein plaasskooltjie... 'n Skooltjie met 'n jaarlikse getal kinders van ongeveer eenhonderd. Goeie jare. Goeie onderwysers.
Die skooltjie was geleë op die diamantdelwerydorpie Bakerville. Daar was 'n mengsel van ryk en arm kinders. Sommige delwers wat "groot gedelf" het, was gegoed. So ook sommige plaas-boere van die omgewing. Hulle kinders is met die skoolbus aangery.
Daardie tyd het die skool nog iets te ete gegee vir die kinders. Elke kind het daagliks o.a. 'n vrug van die seisoen ontvang. Soms was dit 'n piesang, ander kere 'n lemoen of 'n rooi appel. Ek het die vrugte baie geniet, behalwe die rooi appels - ek was nie baie lief vir appels nie. Elke keer wanneer ons ‘n appel gekry het, het ek dit in my boeksak gebêre en dan vir my ma gaan gee. Sy het dit verskriklik geniet, want vrugte was skaars op die plaas waar ek grootgeword het.
Telkemale wanneer ek by die huis kom, het sy gevra: "Waar's my appel?" En groot was die teleurstelling (wat sy probeer verberg het), as daar nie 'n appel was nie!
My gedagtes dwaal jare verder... Ek was toe al 'n jong man wat sy lewe aan die Here toegewy het om voltyds vir Hom te gaan werk. In die teologiese kweekskool het ek my studies met toegewydheid en erns voortgesit. By die koshuis waar ek gewoon het, het ons óók soms elkeen 'n rooi appel gekry! Wie sou nóú die appel kry? Ek was steeds nie lief vir appels nie! Daar was 'n tuinman, John, met wie ek nou en dan 'n gesprek probeer aanknoop het. Tog was die kommunikasie nie te goed nie, omdat hy maar ongeletterd was en nie goed Afrikaans kon praat nie. Ek het begin om vir hom die rooi appel te gee, so gereeld as wat ons dit ontvang het. Nodeloos om te sê - hy het dit baie geniet! En so het daar tussen hom en my 'n soort vriendskapsverhouding ontstaan, want hy sou my telkemale baie vriendelik groet wanneer hy my sien.
Eendag het 'n geleentheid aangebreek en kon ek hom op 'n eenvoudige manier van Jesus vertel. Ek kon hom vertel dat Jesus vir ons sondes aan die kruis gesterf het, maar dat Hy weer opgestaan het en aan die Regterhand van die Vader sit. Veel meer kon ek nie oordra nie. Ek het baie onvervuld gevoel vanweë my onvermoë om sinvol met hom te kommunikeer. Maar net hier het die Here ingegryp!
'n Paar dae na hierdie gesprek kom ek hom weer teë terwyl hy my met 'n groot glimlag tegemoetkom. Dit laat my vra: "Maar John, wat het gebeur? Jy lyk so goed!" En hy vertel my op sy manier. Hy sê: "Jesus het na my toe gekom in die nag." Met 'n gesukkel kon ek die boodskap kry. Jesus het aan John verskyn en met hom gepraat! En ek vra: "John, wat het Hy gesê?" En hy sê: "Morena, Hy't vir my gesê: Dit is die pad, loop die pad!"
Daar gaan die Evangelie van Jesus Christus vir hierdie ongeletterde, eenvoudige man óóp! Hy verstaan dat Jesus óók vir hom op die kruis gesterf het! En 'n siel vind vrede met sy Skepper! Die waarde van 'n rooi appel... Daarmee kon 'n klein seuntjie aan sy mammie sy liefde betoon. Één rooi appel. Daarmee kon die boodskap van "gee" aan 'n ongeletterde persoon oorgedra word. Hy kon verstaan dat Jesus Sy lewe ook vir hóm "gegee" het. Hy moes hierdie saligheid net in ontvangs neem wat vir hom aangebied is soos wat hy die rooi appel geneem het... Één rooi appel per keer het soveel waarde aan mense se lewens toegevoeg... Watter "rooi appel" kan jy vandag gaan uitdeel?
- Dr. JJ Venter

Indeks     Index