EK Sê NET DANKIE! | |
  |
Evie van Potch skryf: Dis vir my 'n voorreg om baie dankie te sê aan my Hemelse Vader wat geleenthede tot Sy eer gebruik. Al is dit soms tot 'n mens se verleentheid, word dit God se geleentheid! Ek is so dankbaar vir mense wat gewillig is om iets te doen om hul medemens te help. Ek dink nie hulle besef watter groot impak die hulp wat hulle verleen op die persoon aan die ontvangkant maak nie. Ek moes onlangs 'n paar noodsaaklikhede vir my seun gaan koop. Met die R300 wat hy aan my gegee het, is ek toe na 'n bekende inkopiesentrum. Gewoonlik maak ek seker dat die items en die bedrag klop om 'n verleentheid by die kassier te voorkom. Maar o wee, toe ek weer sien, lui die artikels veel meer as wat ek gedink het! Ek besef dadelik dat ek die res van die inkopies sal moet terugplaas. My beplanning was hierdie keer nie so akkuraat nie. Terwyl ek vir die kassier verduidelik wat ek sal moet terugplaas, besef ek daar is so baie mense rondom my wat kyk en luister na ons... Wat 'n verleentheid! Skielik sê 'n man 'n ent agter in my ry, met sy hand omhoog terwyl hy naderstap, "Lui al die items vir hierdie dame - ek sal betaal!" Sjoe, wat 'n wonder-like paar woorde! Met trane van vreugde bedank ek hom dadelik. Sy woorde aan my was, "Ek het vir Vader gevra om my vandag te wys wie ek kan help!" Groot en goed is onse Vader! Hy het selfs nog meer aan my gegee as die nodige bedrag. Ek sê toe aan die kassier dat dit net God kan wees wat sulke dinge doen. Met 'n hart wat oorloop van dankbaarheid en baie trane stap ek toe die winkel uit en kom bekende mense teë wat wou weet hoekom ek huil. So kon ek van ABBA Vader se goedheid getuig... Maar Hy was nog nie klaar met my nie! Net voor ek by die sentrum uit is, ontmoet ek nog 'n lieflike kind van God. Sy wou natuurlik ook weet, hoekom dan die trane? Nadat ek haar die wonderlike dinge vertel het, haal sy sowaar geld uit en sê sy voel sy moet my ook help. Die wonderlike ding is, ek het dit werklik nodig gehad! God wat gesien het dat ek net my seun wou help, help my toe ook. Al die eer kom Hom toe! Baie dankie aan elke Barmhartige Samaritaan! God seën u ryklik! |