LIEFDE LAAT KINDERTJIES NIE STRUIKEL NIE
  Een van die aangrypendste uitsprake wat Jesus tydens Sy verblyf op aarde gemaak het, was een omtrent kindertjies. Hy het gesê vir iemand wat ‘n kindjie laat struikel, is dit beter dat ‘n meulsteen om sy nek gebind word en hy in die diepte van die see gewerp word.
‘n Grys, krom ou vroutjie het in die straat van ‘n agterbuurt elke paar treë gebuk om iets op te tel. ‘n Polisieman wat daar aan diens was, het gesien wat die vroutjie doen: hoe sy moeilik buk, iets optel, en dan in haar sak gooi.
Hy het agterdogtig geword en na haar toe geloop. Met ‘n growwe stem vra hy dreigend vir haar: "Wat is jy besig om weg te dra?" Die bedeesde vroutjie wou nie antwoord nie. Die polisieman dink toe dat sy iets kosbaars opgetel het en dreig haar met arrestasie. Die vrou maak haar sak oop en wys vir hom ‘n handvol gebreekte glas-stukke. "Ek het gedink dat ek dit graag uit die pad van kindertjies se voete sou neem," antwoord sy.
Ons het vandag mense nodig wat uit liefde omgee vir die dinge wat kindertjies se voete kan seermaak.

Indeks     Index