OORWINNING DEUR VOLHARDING
  In die Christendom is daar baie goeie beginners, maar wat die Here werklik nodig het, is mense wat tot oorwinning toe sal volhard. Daar staan in Matteus 24:13 geskryf: "Maar wie tot die einde volhard, sal gered word."
Dié wat hulle voetspore in die geskiedenis van die mensdom nagelaat het, was nie altyd die sterkstes en die slimstes nie. Baie van hulle het oorwinning bereik omdat hulle nie ‘n ontvlugtings-roete gesoek het toe die pad steil geword het nie. Hulle het die karaktereienskap van ‘n oorwinnaar besit: volharding!
Thomas Edison, die uitvinder van meer as 1 300 gepatenteerde produkte waaronder die gloeilamp, se onderwyser het hom verseker dat hy te dom is om enigiets te leer. Napoleon het aan epilepsie gely.
Toe Walt Disney sy eerste tekenprente aan ‘n uitgewer voorgelê het, is aan hom gesê dat hy absoluut geen talent het nie. Beethoven was doof toe hy sy beroemdste musiek gekomponeer het.
Die Olimpiese pistoolkampioen van 1952 het sy regterarm verloor net ses maande nadat hy sy goue medalje gewen het. Hy het die volgende drie en ‘n half jaar geoefen en toe met één arm sy tweede goue medalje gewen.
Mozart se uitgewer het vir hom gesê dat hy nooit ‘n sent vir sy musiek sou verdien nie.
Helen Keller het op negentien maande as gevolg van siekte blind en doofstom geword. Sy het moeisaam leer lees, skryf en praat, maar uiteindelik met lof gegradueer aan die Radcliffe College in Massachusetts. Sy het daarna haar lewe gewy aan die opheffing van gestremdes.
Die digters Homer en Milton was blind. So ook Fanny Crosby, die skrywer van duisende geliefde geestelike liedere. Abraham Lincoln was male sonder tal vir belangrike poste verkiesbaar en het elke keer die onderspit gedelf. Uiteindelik het hy deur volharding oorwin en die president van Amerika geword. ‘n Halwe oorwinning is ook ‘n halwe neerlaag.
Alleen dié wat tot die einde toe volhard, sal die oorwinnaarskroon ontvang! - Oorgeneem

Indeks     Index