GETROU TOT AAN DIE EINDE... | |
  |
"Daarom het ek dit ook goed-gedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir jou neer te skryf, hooggeagte Teofilus. So kan jy te wete kom dat die dinge waaroor jy onderrig is, heeltemal betroubaar is," skryf Lukas, die dokter, aan die begin van sy Evangelie wat óf aan 'n goeie vriend óf aan almal wat God liefhet gerig was, soos die naam Teofilus aandui. As geleerde was Lukas 'n goeie reisgenoot vir Paulus. Terwyl baie mense die waarheid probeer ontdek deur dit te bestudeer of daaroor na te lees, het Lukas gekies om na die bron te gaan en self uit te vind. Toe Paulus in Antiogië gepreek het, het Lukas van hom gehoor en besluit om te gaan luister wat die man oor hierdie nuwe geloof te sê het. Toe dit tyd word om die boodskap van daardie geloof verder uit te dra, het Lukas aangebied om saam te gaan en dit alles vir die nageslag aan te teken. Lukas het dus die eerste Christen-historikus geword en meer tot die Nuwe Testament bygedra as enige iemand wat nie 'n apostel was nie. Terwyl ander mans los en vas by Paulus se bediening ingeskakel het, het Lukas tot aan die einde by hom gebly. Kort voor sy tereg-stelling in Rome skryf Paulus in 2 Timoteus 4:9-11: "Probeer so gou moontlik na my toe kom, want Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry en my verlaat en na Tessalonika vetrek. Kressens is na Galasië en Titus na Dalmasië toe. Net Lukas is by my..." Ondanks vervolging en versoekings het Lukas tot aan die einde toe getrou gebly! Na Paulus se teregstelling het Lukas Rome verlaat. Hy het die res van sy lewe daaraan gewy om te reis en te preek. Na Paulus se dood het sy bediening nog amper 30 jaar voortgeduur. Daar bestaan nie sekerheid oor waar hy oral gereis het nie; die boek Handelinge eindig met Paulus se tweede inhegtenis-name en daar is geen verdere geskrifte oor Lukas se doen en late nie. Dit is wel bekend dat hy sy laaste dae in Griekeland deurgebring het waar hy die Evangelie verkondig het en die aanbidding van Griekse gode in die Peloponnesiese stede teë-gestaan het deur waarskynlik te verkondig wat hy vroeër in die boek Handelinge aangeteken het: "Hư (Jesus) bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander Naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie." Lukas se leerstellings het die afgodspriesters so ontstig dat hulle 'n skare teen hom opgesweep het en hom na 'n olyfboord naby Patras, 'n hawestad, geneem het waar hy aan 'n groen olyfboom opgehang is. Hy was 84 jaar oud toe hy gesterf het (ongeveer 93 n.C.). Uit: Fanaties vir Jesus, Volume II, dc Talk en The Voice of the Martyrs, CUM, 2004. |