GOD IS NIE 'N PYNPOEIER NIE | |
  |
Die kamertjie wat sy gehuur het, was pop-speelklein. Benoud. Met so 'n vasdrukgevoel wat jou net wil laat uit - soos 'n kind wat te lank in 'n skemer maselskamer moes lê! Toe ek daar instap, sit sy in 'n bondeltjie op die bed en haar oë lyk of sy al dae lank huil. Iemand moet dood wees, was my eerste gedagte. Wat anders kan haar só laat huil? "Vertel my…" Haar mond het 'n paar keer oop en toe gegaan, asof sy wou sê, maar die woorde het êrens in die huil vasgehaak. Haar trane het net bly loop en loop. Ek het haar hand vasgehou, haar hare gestreel, tissues aangegee - terwyl sy van binne stukkie vir stukkie uitmekaar geskeur het. Na baie lank het die woorde uiteindelik gekom. Hortend. Soekend. Soos legkaart-stukkies waarmee sy mooi moes mik en meet voor hulle die regte lêplek kon kry. Mettertyd het die woordstukkies tóg 'n prentjie gepak - een van die lelikste prentjies van misbruik waarna ek nog ooit moes kyk: van 'n laerskooldogtertjie wat eers uitgelewer is aan 'n pa se dwalende hande en later ook aan 'n ouer broer se tienerdrif. Van 'n stilgesmoorde aborsie om hulle spore deur haar lyf dood te vee. En van 'n ma, wat geweet het, en gekies het om eerder haar man en seun te beskerm as haar dogter... Jare, jare, járe het verbygegaan. Die stukkende dogtertjie het 'n stukkende vrou geword wat in 'n beklemmende huurkamertjie begin stotter het: Ek wil hier úít! Dit sukkel. Dit sukkel om die verskriklike wreedhede op hulle naam te noem. Dit sukkel nog meer om die gevoelens wat daarmee saamgekom het, te verwoord. Amper asof sy des-tyds al, om pure oorlewing, haarself in twee gedeel het: 'n buitemens, met wie dinge gebeur, en 'n binnemens, wat daarvan wegkruip. Maar vandag wil sy haarself weer bymekaar kry. Ek is sprakeloos. Ken geen kitsoplossings wat, soos 'n pynpoeier, sere soos dié kan wegtoor nie. "Kom ons bid," sê ek, en gryp na die enigste Anker en Antwoord wat ek ken. Met die bid word ek weer eens bewus van God se woede-hartseer-mengsel oor die mens se gekke misbruik van die allermooiste voorregte: pa-wees, man-word, kinders-kry, liefhê… En van Sy besondere begrip vir die misbruiktes. Sy deernis met die bloeiendes, die bevlektes. In my geestesoog sien ek skielik 'n dogtertjie in 'n blou blommetjiesrokkie by twee stoeptrappies afspring. Op die groen gras, onder 'n groot wilger, staan sy 'n oomblik botstil. Toe draai sy om en om tot die wye blou blommetjieslap soos 'n tent om haar staan. Haar koper haartjies blink rooi. En sy lag soos 'n klokkie. Ek hou sommer in die middel van my bid op om die dogtertjie vir die stukkende vrou voor my te beskryf. "Dis ek!" sê sy. "Daar was so 'n wilger in ons voortuin en ek het net so 'n blou rondomtalierokkie gehad toe ek vyf was…" En toe, met 'n gróót verlang in haar stem: "Toe was ek nog ongeskonde. Ek wéns ek kon weer só wees!" Soos 'n gebed. Dit was tóé dat God in haar hart gesê het: "Jy kan! Jy kan weer so wees. Nie so ongeskonde nie. Maar so bly. En so héél! Jy sal altyd letsels hê, maar jy hoef nie altyd wonde te hê nie. Jy hoef nie altyd in die skemer-kamer te lê nie. Jy kán weer in die son speel! Kom net na My toe. Ek is nie 'n pynpoeier nie, maar Ek ís 'n Pa: 'n Pa met respek vir Sy kinders. 'n Broer wat Sy lewe vir jou neerlê. Liefde wat jou soos 'n Ma aan My bors druk. Kom na My toe en niks, nie gister se goed of môre s'n nie, nie tasbare goed of nagvrese nie, net mooi niks sal jou ooit weer van My liefde skei nie." Toe sy uiteindelik weer haar kop oplig, was daar 'n rooi son-streep in haar hare. En reeds baie minder skaduwees in haar oë. [Lees Psalm 103:13,14; Johan-nes 10:11; Jesaja 66:13 en Romeine 8:31-38]. Uit: 'n Reistassie vol padkos vir die gees, Annalise Wiid, "Annie's Song", 2003. |