'N RARE BLOM



  Daar was per geleentheid 'n groep botaniste in die Switserse Alpe. Hulle was op die uitkyk vir nuwe en onge-wone plantegroei. Op 'n dag het hulle met behulp van 'n verkyker 'n rare blom opgemerk - een wat nog nie gekatalogiseer was nie. Die blom kon egter net bereik word indien 'n persoon met behulp van 'n tou in 'n gevaarlike ravyn neergelaat is.

Een van die groep het 'n jong Switserse seun 'n groot bedrag geld aangebied om die blom vir hulle te gaan pluk. Hy het na die duiselingwekkende dieptes gekyk en gesê dat hy later sou terugkom.

Met sy terugkeer het hy 'n ouer man saamgebring. Hy het gesê dat hy nou gereed was om die blom te gaan haal as hulle sou toelaat dat die ou man die tou vashou. Hy het hóm vertrou, want dit was sy vader!

Dit maak ook 'n geweldige groot verskil wie óns lewenstou vas-hou. Om die druk van hierdie lewe te oorleef, is daar 'n lang tou van hoop wat tot in die hemel reik van-waar ons 'n liefdevolle Hemelse Vader hoor fluister: "Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie!" (Hebreërs 13:5).

[Geen Groter Liefde, Robert Strand, VG Uitgewers, 1996].


Indeks     Index