WARE BLYDSKAP!



  Die woord geluk laat verskillende mense aan verskillende dinge dink: aan Kersfees, aan verrassings op jou verjaardag, aan 'n heerlike vakansie saam met jou naby-mense, aan spontane uitbundige gelag... Wie is daar wat nie graag gelukkig wil wees nie? Vir baie mense bly dit 'n lewenslange ideaal. Onvermoeid jaag hulle dit tevergeefs na: koop, maak bymekaar en soek telkens weer nuwe ervarings. So asof dit van die dinge om jou, van jou omstandighede, afhang. As die nuwe speelding breek, of 'n geliefde sterf, of jou gesondheid gee in, of jy beland in 'n finan-siële krisis, of die partytjie is verby - watter uitwerking het dit op jou? Verdwyn jou gevoel van gelukkig-wees dan?

Met blydskap is dit anders as met geluk. Blydskap het meer diep-gang, want dit is gebou op die vaste versekering van God se liefde en Sy betrokkenheid by ons, die wete dat Hy daar is, kom wat wil! Geluk word bepaal deur jou omstandighede, maar ware blydskap wortel in Christus.

Filippense is Paulus se blydskapsbrief. Die gemeente in Masedonië was vir Paulus 'n bron van groot bemoediging. Die gelowiges in Filippi het 'n besondere verhouding met hom gehad en daarom het hy vir hulle 'n brief geskryf waarin hy uiting gegee het aan sy liefde en toegeneentheid. Hulle was vir hom 'n bron van blydskap (4:1).

Hierdie brief is ook 'n blydskapsbrief aangesien dit die ware Christelike blydskap beklemtoon. Nie minder nie as sestien keer skryf Paulus van blydskap of verblyding. Elke bladsy straal hierdie positiewe blydskap uit, en in 4:4 bereik dit 'n hoogtepunt: "Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!"

Paulus het sy hele lewe aan God gewy, en in die proses het hy nie net oorvloed beleef nie, maar ook armoede. Dit is trouens uit die tronk uit wat hy hierdie blydskapsbrief skryf. Paulus het geleer om hom onder alle omstandighede te behelp (4:11-12). Sy vreugde het hy daarin gevind om hom in te span om Christus te ken en die krag van Sy opstanding te onder-vind, al beteken dit dat hy deel moet hê aan Sy lyding (3:10).

Paulus verwoord sy allesoortreffende be-geerte om Christus te ken, uitnemend met die volgende woorde: "...ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat 'n mens in Hom glo. Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van Sy opstanding te ondervind en deel te hê aan Sy lyding deur aan Hom gelyk te word in Sy dood" (3:8-10).

Mag die lees van hierdie brief van Paulus, jou hunkering om Christus waarlik te ken, wakker maak en aanvuur. Dan sal jy ware blydskap ervaar! Dan sal jou geluk verdiep tot blydskap, en jy sal ongeag jou omstandighede, jou kan verbly in die HERE!

Uit: Die Bybel in Praktyk, Nuwe Vertaling, Red. Wil Vosloo & Fika J van Rensburg, CUM, 1993.


Indeks     Index