MET DANK AAN MY HEMELSE VADER...

  Ek het baie gebid om by die Here te hoor of ek hierdie getuienis moes deel. Nou is ek gehoorsaam aan Hom en glo dat dit dalk vir iemand tot seën en hulp kan wees.

Alles het so drie jaar gelede begin... Een koue wintersoggend het ek glad nie lekker gevoel nie en wou nie opstaan nie. So het dit elke dag gebeur totdat ek besef het dat daar iets fout moes wees. Tydens 'n besoek aan 'n dokter, moes ek verneem dat ek aan 'n seisoenale gemoedsversteuring ly. Dis glo 'n algemene verskynsel en mense kry dit in die herfs of die winter of die lente.

Met hierdie kennis en die voor-geskrewe medikasie het ek stadigaan verbeter, maar selfs gedurende die lente en somer kon ek nog nie vroeg opstaan nie en wou net slaap. Ek het dikwels nie geweet wat ek moes aantrek nie en het ook gesukkel om kos voor te berei.

Later het ek my aan mense onttrek en kon nie meer rond-kuier of selfs kerk toe gaan nie. Ek het die meeste van die tyd ligte romans gelees net om my in 'n ander milieu te bevind. Dit het 'n lang fase geduur. Ek het weer die dokter gaan spreek en ander medikasie ontvang. Hierna het 'n ongelooflike maagpyn ontwikkel.

Ek het pynpille gedrink en aanvanklik het dit die pyn gestil. Toe die pille egter nie meer werk nie, is ek in die hospitaal opgeneem. My maag was kwaai ontsteek en ek moes 'n regte éétprogram (nie 'n dieetprogram nie) volg.

Intussen het een van die pille 'n newe-effek gehad en my maag was aan die brand! Die dokter besef toe dadelik wat die probleem was en ek het opgehou om die verkeerde medikasie te gebruik. Van daardie dag af het die brandpyn verdwyn tot vandag toe! Ek eet nou gesonde kos en is versigtig met my keuse van kossoorte.

Daardie moeilike tydperk in my lewe was egter vir my baie traumaties, aangesien my hele persoonlikheid begin verander het. So 'n tipe maagseer tas jou hele menswees aan - fisies en geestelik. Snaaks genoeg, ek wou niks lees wat van 'n geestelike aard is nie. Dit was net asof ek 'n doodsheid ervaar het wat dit aan-betref. Ek was streng gesproke nie in 'n donker gat nie, maar in 'n sloot waar ek rondgerol het.

As gevolg van omstandighede het my oudste seun Kaap toe getrek. My ander seun het van sy huis af begin werk en ons het toe met 'n effense probleem te doen gekry, aangesien die twee seuns en my man vir ongeveer 14 jaar saam betrokke was in 'n familie-besigheid. Aanvanklik het alles baie goed gewerk. As gevolg van die nuwe gebeure, ontwikkel daar toe 'n angstigheid in my gemoed: Wat nou?

Na my oudste seun se vertrek na die Kaap, was my hart baie seer. ('n Mens se oudste kind het mos maar 'n sagte plekkie in jou hart). En nou werk die tweede seun ook vanaf sy huis. Nadat ons baie gebid het oor hierdie saak, het my man besluit om sy besigheids-perseel te verkoop en ook vanaf ons huis te werk. Gelukkig is ek in 'n mate rekenaarvaardig, wat baie help. Toe die werklikheid van al die gebeure my egter tref, het ek in angstigheid versink. Toe verneem ek dít staan bekend as angs-versteuring.

Dit was vir my baie erg en ek is weer dokter toe. Hy skryf toe 'n ander reeks medikasie voor. Vir 'n lang tyd het ek so hopeloos gevoel en kon ek die gebeure nie verwerk nie, maar die Heilige Gees was met my en ek is stelselmatig vertroos. Ek het ook nooit gevoel dat die Here my verlaat het nie. Ek het baie oor alles gewonder, maar het besef dat ek besig was om 'n pad met die Here te loop en dat Hy van my gevoelens en my louheid met betrekking tot my geestelike lewe bewus was.

Toe gebeur dit dat ek hospitaal toe moes gaan sodat 'n medikasie-probleem uitgesorteer kon word. Omdat ek van mense hou, het ek dit nogal geniet. Ek hoef nie kos te gemaak het nie, kon goed rus en het lekker gekuier. Met my tuiskoms was ek verward. As gevolg van die newe-effekte van die medikasie het ek baie gebewe en kon vir twee weke nie motor bestuur nie, maar met my dierbare man en familie se ondersteuning, het ek beter begin word. Stadig maar seker...

Die afgelope Paasvrydagoggend maak ek my oë oop en voel dadelik vars en wakker. Iets wat ek vir lank nie meer geken het nie! Ek staan toe op en stuur vir my dogter 'n SMS. Dadelik tref ons reëlings om by hulle te gaan kuier. Ek voel vry, het vrede en is vol energie!

Na twee ure vertrek ons na Pretoria. My man en ek bespreek toe my gevoelens en skielike lus vir die lewe. Daar en dan ervaar ek 'n bevryding van al die laste wat ek vir drie jaar moes dra! Ek kon die Here nie genoeg loof en prys en dank vir die groot wonderwerk wat Hy in my lewe laat gebeur het nie. En dit toe letterlik oornag! Vir my is dit só spesiaal dat dit spesifiek op Paasvrydag gebeur het! Onse Vader is só groot en getrou!

Nou voel ek - die nuwe mens - dat dit tog die moeite werd was om deur alles te gaan. Die pyn, moedeloosheid en gevoel van alleenwees, was nou weg. Ek dink die Here laat so 'n tyd in jou lewe toe om uit te vind wie en wat jy werklik is en ook Wie God is en wat Hy níé is nie! Hoe en wat moet jy praat of hoe en wat jy nie moet sê nie! Om te luister, is 'n gawe wat ek nie altyd kon doen nie. En nou wéét ek hoe dit voel as iemand swaarkry. Dit wys in 'n mens se oë - die vensters van jou siel...

Ek wil mense wat aan gemoedsversteurings ly, aanmoedig om hulp te gaan kry. Om medikasie te gebruik is baie belangrik. Ek wil egter by herhaling sê dat God gróót, getrou en ons Vredegewer is. Alle eer aan Hom wat my Vader is!

"Hy bring verlossing en niemand anders nie" (Handelinge 4:12). "Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien of gehoor het nie" (Handelinge 4:12). "Ek het baie lank uitgesien na die Here se hulp totdat Hy aan my aandag gegee het en my geroep gehoor het. Hy het my 'n nuwe lied gegee om te sing, 'n lied om ons God te eer. Here, my God, watter wonderlike dinge het U nie alles vir ons gedoen nie" (Psalm 40:2,4,6a).

[As ek iemand kan bystaan of 'n luisteraar kan wees, kontak asb. die Redakteur by 018 293 1996].

Indeks     Index