THE CHRISTIAN DRUMMER BOY



  Daar is 'n legende wat lui dat Jesus die beste jukke gemaak het in Galilea en dat mense van oor die land na Hom toe gekom het om goeie jukke te koop. In daardie dae het die winkels, net soos ook nou, uithangborde gehad. Daar was, so word vertel, 'n uithangbord by die skrynwerkerswinkel in Nasa-ret met die woorde: "My jukke pas goed." Hierdie beeld word dan deur Jesus gebruik wanneer Hy sê: "Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sag-moedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want My juk is sag en My las is lig" (Matt. 11:28-30).

Die Griekse woord vir "sag" is chrestos, wat ook vertaal kan word met "goedpassende" (Barclay). In daardie tyd is die jukke van hout gemaak. Die persoon wat 'n juk wou hê vir sy os, het die os na die skrynwerker gebring wat die mate geneem het. Nadat hy die juk klaar gemaak het, is die os weer na die skrynwerker geneem wat die juk gepas het en dan hier en daar weggeskaaf het totdat die juk perfek vir die os gepas het. Dit was dan "tailor-made" vir die spesifieke os.

Die juk wat Jesus op ons lê, is "goedpassend" vir elkeen van ons. Dit beteken dat ons óns juk wat Hy spesifiek vir óns bedoel het, moet aanvaar. Dan sal daar ook vir ons 'n kroon wag wanneer ons by Hom kom, want daar is nie 'n Christelike lewe sonder 'n kruis nie. God sal die kruis eendag verander na 'n kroon! Ons moet die kruis aanvaar en terselfdertyd ook uitsien na die kroon. Jesus het dit gedoen. Elke keer wanneer Hy gepraat het oor Sy dood, het Hy ook gepraat van Sy oorwinning daaroor. Hierin moet ons Sy voorbeeld volg.

Hierdie "juk opneem" hou egter ook verband met die persoon wat "vermoeid en belas" is. Wanneer dinge vir jou te moeilik word om te hanteer; die lewe se vereistes vir jou te veel word en jy voel JY KAN NET NIE MEER NIE... Kom dan na Jesus toe! Buig laag voor Hom neer. Aanvaar Sy Woord en Sy beloftes. Erken voor Hom, ja, SÊ DIT VIR Hom: "Here Jesus, ek kan dit nie meer dra nie! Alles is net te veel! Dit rig my ten gronde! HELP MY! Ek gee my laste vir U en ek neem nou Ú juk op my. Skenk daarom vir my U vrede en rus wat U belowe het!" Daarteenoor kan ons Sy aanbod van die "juk opneem" minag; dit selfs verwerp. Waarheen en na wie sal ons dan gaan?

Die Amplified Bible stel dit so: "Come to Me, all you who labour and are heavy-laden and over-burdened, and I will cause you to rest. [I will ease and relieve and refresh your souls.]
Take My yoke upon you and learn of Me, for I am gentle (meek) and humble (lowly) in heart, and you will find rest (relief and ease and refreshment and recreation and blessed quiet) for your souls.
For My yoke is wholesome (useful, good - not harsh, hard, sharp, or pressing, but comfortable, gracious, and pleasant), and My burden is light and easy to be borne"
(Matthew 11:28-30).
Kom ons let ook op Spreuke 16:3 in die Ou Vertaling asook die Amplified Bible: "Laat jou werke aan die HERE oor, dan sal jou planne uitgevoer word." "Roll your works upon the Lord [commit and trust them wholly to Him; He will cause your thoughts to become agreeable to His will, and] so shall your plans be established and succeed."

Wanneer ons Jesus se kruis of juk verwerp, word ons 'n teiken vir Satan, want ongehoorsaamheid is 'n ope uitnodiging aan hom om ons aan te val en te teister. God se juk pas nie op 'n stywe of hardnekkige nek nie. Daarteenoor is die juk wat deur Jesus op ons gelê word en wat ons aanvaar, sag en aangenaam. Dit berei ons vir die ewigheid voor.

Na die trane en wroeging in Getsémané, het die oorwinning van die opstanding gekom. Na die kruis kom daar 'n kroon.
"Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly" (2 Kor. 4:17).

"Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer" (Psalm 30:6).
Nou is dalk nog skaduwees, maar môre kom die sonskyn. Nou is daar trane, maar dán is daar blydskap.
"Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom" (Psalm 34:20).

Die juk wat Jesus vir elkeen van ons bedoel het, pas volmaak. 'n Ander juk sal ons skuur en skaaf en verwond. Sy juk is sag. Dít wat Hy vir ons uitkies, is die beste. Wanneer ons dit aanvaar, wag daar 'n kroon. Hy sal kom en elkeen beloon na die mate van wat ons op aarde vir Hom en Sy Koninkryk gedoen het. Sy jukke pas goed!

© Dr. J J Venter

Indeks     Index