JESUS GEE DIE AFLOSSTOK AAN JOU... |
|
  |
Die groot Italiaanse komponis Puccini is in 1922 op die ouderdom van 64 jaar aan kanker oorlede. Hy was in daardie tyd besig om te werk aan die opera Turandot wat baie mense beskou as een van sy beste werke ooit. Toe Puccini besef dat sy dood naby is, het hy aan sy studente die volgende geskryf: "As dit so sou gebeur dat ek Turandot nie kan voltooi nie, wil ek hê dat julle dit asseblief vir my moet klaarmaak." En dit het toe ook so gebeur... Puccini het gesterf voordat hy Turandot kon voltooi. Sy studente het ná sy dood bymekaargekom, sy nota's geneem, dit bestudeer en met hulp uiteindelik die opera voltooi. Die eerste opvoering van Turandot was in 1926. Een van Puccini se eie studente was die dirigent. Toe hy kom by die gedeelte waar Puccini opgehou het, het hy sy dirigeerstok neergesit, na die gehoor gedraai en gesê: "Tot sover het ons meester geskryf. Toe het hy gesterf." Vir 'n paar minute lank was daar stilte... Toe tel die student weer die dirigeerstok op en sê: "Maar sy dissipels het sy werk klaargemaak." Trane het daarna saam met die musiek gevloei en aan die einde van die opvoering het die applous net aangehou en aangehou...... Dit is ook wat volgelinge van Jesus moet doen: Gaan aan met Jesus se werk deur in liefde teenoor almal op te tree, en deur 'n oop Bybel te wees vir die wat nooit self die Bybel lees nie. Wees 'n getuie vir Jesus oral waar julle kom sodat julle die aangename geur van Jesus sal versprei. Jesus het aan Sy dissipels gesê: "Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld" (Handelinge 1:8). Na Jesus se uitspraak aan Sy dissipels (en ook aan ons) dat hulle Sy getuies in die wye wêreld moet wees, het Hy na die hemel opgevaar: "Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en 'n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. Dié sê toe vir hulle: 'Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het'" (Handelinge 1:9-11). -Oorgeneem |