DIE KORINGKORREL HET IN DIE GROND GEVAL...
 
Dit was die laaste week voor Jesus se kruisiging. Die Lydensweek van Jesus Christus. 'n Baie ernstige tyd. Met die intog van Jesus in Jerusalem, kom die Grieke wat na die fees gekom het om te aanbid, na een van die dissipels, Filippus, en vra: "My heer, ons wil Jesus graag sien." Filippus en Andréas vertel dit toe aan Jesus. Maar Jesus sê: "Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word." En dan gaan Hy voort: "Dít verseker Ek julle: As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy 'n groot oes in" (Joh. 12:24).

Ons kan by hierdie gedagte ook Filippense 2:6-8 byvoeg: "Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis" (Fil. 2:6-8).

Iemand druk dit so mooi uit: "God is só groot en dan kom hurk Hy by die ashoop om die geringstes in die oë te kyk." Voorwaar, Jesus was die koringkorrel wat in die grond geval het, gesterf het, begrawe is en opgestaan het sodat Hy baie vrug kon dra. Baie miljoene mense is die vrug wat uit hierdie één koringkorrel tot redding gekom het. Nou moet óns in Sy voetspore volg om nog méér tot redding te laat kom. Elke koringkorrel moet weer op sı beurt sterf om veel vrug te kan dra. Kom ons let op 'n paar Bybelse voorbeelde:

"En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in Sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van My Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte" (Luk. 24:46-49).

Daardie 10 dae in die bovertrek in Jerusalem was vir die 120 mense 'n tyd van verootmoediging. 'n Tyd van selfontlediging voordat hulle kon uitgaan om vir Jesus te gaan werk. Toe stort God die Vader die Heilige Gees op hulle uit (Handelinge 2). Daarna staan Petrus saam met die elf op, preek en 3 000 mense kom tot bekering!

Maar Petrus was ook eers 'n koringkorrel wat moes sterf aan homself, sy eie belange, sy eie begeertes, sy eie insigte, sy eie vermoëns. Want hy moes eers teleurgestel word in homself. Hy moes homself eers verloën en daarna tot volle oorgawe kom. Ons hoor hom vir Jesus sê: "Al moet ek ook saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! So het ook al die dissipels gesê." Dit was nadat Jesus vir hom gesê het: "Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan gekraai het, sal jy My drie maal verloën" (Matt. 26:34-35). Toe kom die verloëning. En die kruisiging.

Daarna het hy weer sy beroep om te gaan visvang, gaan volg (Joh. 21). Hulle het die hele nag deur hard gewerk, soos in die begin van sy roeping tot dissipelskap. Hulle het NIKS gevang nie! Dan Jesus se bekende drie hartroerende vrae, en met hierdie drie vrae sny Hy baie diep: "Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief (Grieks = agapao), meer as hulle hier?" "Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief (Grieks = agapao)?" "Simon, seun van Jona, het jy My lief (Grieks = fileo)?"

In Grieks is daar verskillende woorde vir "liefde": agapao hou die betekenis in van "Ek het lief met 'n diep, selfopofferende liefde wat selfs bereid sal wees om vir iemand te sterf." Fileo hou die betekenis in van bloot vriendskaplike liefde: "Ek hou van jou." As Petrus dan elke keer instemmend antwoord, gebruik hy die woord fileo. Hy kon nie agapao sê nie. Hy het Jesus dan verloën!

Dan sê Jesus drie keer: "Laat My lammers wei." "Pas My skape op." "Laat My skape wei." Wat Jesus in 'n intieme verbondenheid drie keer vir hom vra omdat hy Hom ook drie keer verloën het, is: "Het jy My waarlik lief (agapao) bo hierdie visvangberoep van jou, het jy My waarlik lief (agapao) bo hierdie ander dissipels? Want Petrus het ook voorheen gesê: "Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie." Nou sê Jesus vir hom: "Versorg My kudde! Keer terug na jou roeping!" (Matt. 26:33). Die Skrif sê: "Petrus het bedroef geword, omdat Hy hom die derde maal vra: Het jy My lief (Grieks = fileo)? En hy antwoord Hom: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet (Grieks = fileo)."

Reeds vroeër, tydens die verloëning lees ons in die Woord: "En dadelik het die haan gekraai, en Petrus het die woord van Jesus onthou wat Hy vir hom gesê het: Voor die haan kraai, sal jy My drie maal verloën. En hy het buitentoe gegaan en bitterlik geween" (Matt. 26:75).

Tydens Jesus se ondervraging het die koringkorreltjie tóé in die grond geval en gesterf, en dit het hierna veel vrug voortgebring! Let op Petrus se lewe en bediening soos in die Skrif opgeskryf vanaf die dag van Pinkster tot aan die einde van sy lewe.

Nik Ripken, 'n sendeling, skryf soos volg: "Before we can grasp the full meaning of the Resurrection, we first have to witness or experience crucifixion. If we spend our lives so afraid of suffering, so averse to sacrifice, that we avoid even the risk of persecution or crucifixion, then we might never discover the true wonder, joy, and power of a resurrection faith. Ironically, avoiding suffering could be the very thing that prevents us from partnering deeply with the Risen Jesus."

In Gal. 2:20 staan geskryf: "Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het." Het jy al tot verootmoediging, selfontlediging, selfverloëning, kruisiging van die "ek" gekom? Eers dán kan jy 'n ware vrugdraende volgeling van Jesus wees!

Gaan op jou knieë en vra Hom om jou te help om die "ek" in jou lewe te kruisig. Leef dan Rom. 6:11 elke dag uit deur dit te bely en daadwerklik toe te pas: "So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here." Eers dán kan jy 'n ware werktuig vir Jesus Christus wees!

© Dr. J J Venter


Indeks     Index