DÍT IS NÉT DIE HERE... | |
  |
JESUS CHRISTUS is die enigste ware en ewige LIG! Hy wil só graag toekyk en sien dat ons, God se kinders - as weerkaatsers van Sy LIG - van Sy liefde en genade sal getuig waar ons onsself ook al mag bevind. Ligmense behoort mos God se Ligpad te loop! Só sal ons wegwysers en instrumente wees om in hierdie al donkerwordende wêreld SY LIG te laat skyn. Só het die Here dan ook op verskeie maniere en by verskeie geleenthede met ons gepraat oor die publikasie van 'n Christelike koerant. Die aanhaling, "One drop of ink makes thousands, perhaps millions, think," het ons aangegryp omdat ons besef het dat die geskrewe woord baie mense bereik en in huise kan kom waar predikante en geestelike leiers nie altyd kan kom nie. Die verspreiding van die Goeie Nuus van God se redding wat vir elke mens beskikbaar is, kan op hierdie beskeie manier God se LIG wel op baie lesers weerkaats. Daarby is die geskrewe woord nie vlietend van aard soos die gesproke woord nie en kan dit by herhaling gelees en bepeins word. Wanneer God 'n droom in 'n mens se hart plaas, kan dit 'n oorweldigende gedagte wees! Onmiddellik wil 'n mens dit deurdink en al die uitdagings en hekkies in die pad identifiseer. Die enormiteit daarvan kan 'n mens magteloos en radeloos laat voel. Jy wonder selfs vlugtig of jy God se opdrag reg gehoor en verstaan het. Maar dan dink 'n mens terug aan God se getrouheid in jou eie lewe; hoe Hy jou al soveel male deurgedra het ten spyte van omstandighede wat gelyk het of dit jou kan verswelg. 'n Mens dink na oor God se karakter en besef dat Hy daar is vir dié wat by Hom skuil. Hy is onveranderlik en betroubaar. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid (Heb. 13:8). Hy kan jou voet nie laat wankel nie (Ps. 121:3). Hy kan Homself nie verloën nie (2 Tim. 2:13). Trouens, dit is eintlik goed om jou eie ontoereikendheid en afhanklikheid te besef, want dan kan Hy intree en wonders verrig! Paulus skryf: "Ter wille van Christus verheug ek my in swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede; want wanneer ek swak is, juis dan is ek sterk" (2 Kor. 12:10). Jesus Self noem ons geseënd wanneer ons besef hoe afhanklik ons van God is (Matt. 5:3). Hy verlang om ons by te staan, maar sal dit nie sonder ons toestemming doen nie. Aangesien ons as herderspaar albei "uitgebrand" het na sewentien jaar in voltydse bediening en geen voltydse beroep meer beoefen het nie, maar deeltyds op allerlei maniere moes probeer "om die pot aan die kook te hou", was daar geen manier waarop ons so 'n projek kon aanpak nie! Maar op 7 November 1996 het die Here ons uitgedaag om "op die water te loop" (Matt. 14:28-32). Hoewel ons baie gevas en gebid en hierdie visie met mede-gelowiges gedeel het, het daar niks gebeur nie. Op 7 Maart 1998 egter, het 'n persoon die Stem van die Here gehoor en gehoorsaam en aan ons die nodige rekenaartoerusting van ongeveer R12 000 geskenk! Kort hierna was daar nog twee persone gehoorsaam aan die Stem van God en kon ons programmatuur bekom teen R5 000. Eersgenoemde persoon het ook R4 000 ten opsigte van die drukkoste van die eerste uitgawe geskenk. Gedurende April 1998 het die eerste beskeie uitgawe van Goeie Nuus / Good News die lig gesien en ons het gewonder wat werklik nog in die toekoms met hierdie "koerantjie" sal gebeur. Tog het dit ons voltydse strewe en bediening geword om die Blye Boodskap van Jesus Christus uit te dra en Sy Lig te versprei. Ons het begin om 10 000 eksemplare van huis tot huis in Potchefstroom te versprei met die bede dat die inhoud mense sal aanspoor om hulle lewens opnuut aan God toe te wy, om bemoedig en versterk te word, en om met volharding die geestelike wedloop te voleindig. Presies 'n jaar later (1999) het die Here ons opgeroep om ook na Klerksdorp uit te brei. Die oplaag het vermeerder na 22 000 eksemplare per maand! Stilfontein en Hartbeesfontein was volgende aan die beurt en sedert Mei 2000 is maandeliks 27 000 koerante gratis van huis tot huis versprei. 5 Junie 2001 was 'n verdere hoogtepunt in die bestaan van Goeie Nuus / Good News toe ook na Orkney uitgebrei is. Sedert daardie dag is maandeliks 'n oplaag van 31 000 koerante van huis tot huis versprei in die POTCH/KOSH-area in Noordwes. Maar God was nog nie klaar nie! Hierna het ons ook koerante na Parys, Ottosdal, Tosca, Ventersdorp, die Molopo-omgewing, Delareyville, Fochville, Wolmaransstad, Schweizer-Reneke, Koster, Derby, Viljoenskroon, Vredefort, Sannieshof en Biesiesvlei versprei. Dit gebeur steeds maandeliks dat 45 000 koerante na genoemde dorpe versprei word! Vandag is dit 20 jaar later. Ons kan die Here nie genoeg dank vir Sy troue sorg en liefde deur al hierdie jare heen nie! Dag vir dag en maand na maand het Hy ons gedra en vir ons voorsien. Hy het die onmoontlike vermag! Daar is 8 173 900 kopieë van die Goeie Nuus / Good News tydens die afgelope 20 jaar gratis na 20 dorpe versprei! Daarom kan ons regtig onomwonde verklaar: DÍT IS NÉT DIE HERE! Ons kan ons vereenselwig met Jesus se woorde: "So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen" (Luk. 17:10). Ons is verheug oor die goeie vrug wat ons op hierdie Bediening sien. Deur die jare heen het ons talle getuienisse ontvang van baie mense. Selfmoorde en gesinsmoorde is afgeweer, huwelike is herstel en verryk, ouers en kinders is versoen, en mense is bemoedig en versterk; baie probleme is opgelos. Talle persone het 'n oorgawe aan die Here gemaak en Hom as hul Verlosser aanvaar. Selfs bedelaars het deur die Koerant 'n tuiste gevind by Huis Hebron wat buite Potchefstroom geleë is en het ook die Here Jesus aangeneem as Saligmaker. Jong kinders doen voorlesings uit die Goeie Nuus / Good News by hul skole en by Christelike kampe. Ander mense het hulle lewens opnuut aan die Here toegewy. Ons het ook goeie terugvoer uit verskeie oorde gekry nadat die Goeie Nuus / Good News deur mense in tronke (Potchefstroom, Kroonstad, Caledon en Prins Albert) versprei is. Die Koerant het ook sy weg gevind na ouetehuise, skole, hospitale, kerke, besighede en vulstasies. Dit is ons begeerte om enduit vol te hou en getrou bevind te word in hierdie Goddelike opdrag om God se Lig te versprei en aan alle mense wat die Koerant lees, te verklaar dat God se vergifnis van al ons sondes die heel kosbaarste geskenk is wat enige mens ooit kan ontvang! Paulus het vir Argippus aangemoedig: "Let op die bedieningstaak wat jy van die Here ontvang het, sodat jy dit uitvoer" (Kol. 4:17). Jesus het egter die grootste voorbeeld vir ons nagelaat en Hy kon met oortuiging sê: "Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U aan My gegee het om te doen" (Joh. 17:4). Laat ons almal dan ons beywer om in onderdanigheid God se Stem te gehoorsaam, al is dit soms moeilik en kos dit 'n prys. Hy het ons eerste liefgehad en die grootste prys - Jesus Christus se lewe, sterwe en opstanding - vir ons betaal, sodat ons Hom in vryheid en vreugde kan dien, en deur dit te doen, baie mense tot Sy eer met Sy ewige Goeie Nuus te kan aanraak! "Kom, laat ons jubel tot eer van die Here, laat ons juig oor die rots by wie ons redding vind, laat ons na Hom toe gaan met lof, laat ons Hom toejuig met lofsange, want die Here is die magtige God, die groot Koning oor al die gode. Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die Here ons Skepper!" (Ps. 95:1-3,6 Nuwe Vertaling). - Uitgewers van Goeie Nuus / Good News |