OBERAMMERGAU - PASSIESPELE 2020



 
Die aanbieding van die Passiespele kan teruggevoer word na die 17de eeu toe 'n plaag verwoesting in Europa gesaai het. In 1633 het die Swart Dood duisende mense oor die Kontinent afgemaai. Oberammergau kon aanvanklik die dood van hul weghou. Uiteindelik tref die plaag die naburige dorp Ettal. Die owerhede van Oberammergau kon as gevolg van streng beheer vreemdelinge weerhou om die vallei van Oberammergau binne te gaan. Ongelukkig het 'n inwoner van Oberammergau, Kasper Schisler, 'n houtsnee-werker, wat vir 'n lang tyd van sy huis en mense weg was na sy familie verlang. Een donker nag het hy Oberammergau binnegekom en so die plaag ingebring. Binne 'n paar maande het 84 inwoners in die vallei gesterf.

Die inwoners van Oberammergau het bymekaargekom en die saak bespreek. Indien God hulle van die dood sou spaar en niemand verder sterf nie, het hulle onderneem om elke tien jaar "Die Drama van Christus se Lyding, Dood en Opstanding" op te voer. Dit sou hulle met die nodige passie en toewyding doen. Die "Drama" was bedoel om die inwoners hoop te gee en die boodskap "Laat Jesus jou Leidsman wees en die Een wat jou sterkte gee" met erns oor te dra aan elke toeskouer.

Hierdie "Drama" sal waarlik elke toeskouer tot in sy diepste wese aangryp! In die Passie van Jesus word ons opgeroep om te fokus op die mees fundamentele drama van die daaglikse menslike lewe. Hierdie konflik tussen goed en kwaad het hom herhaaldelik in die geskiedenis afgespeel - in die lewe van 'n enkeling, gemeenskap, ja, tot selfs in die Kerk van Christus. Kan ons in veroordeling staan teenoor die karakters in hierdie Drama? Nee, want ook in vandag se lewe is daar onder ons verskuil die Kajafasse, Pilatusse, Judasse en andere!

Aan die kruis het Jesus Sy genade en seën in oorvloed gegee. Hy het op 'n aaklige wyse en met intense pyn gesterf. Maar kyk en sien: Hy lewe! Hy het opgestaan! Die Passie van Christus bring hoop. Aan die einde van alles is dit nie dood en rou nie, maar lewe en vreugde!

Die Passiespel - 'n musikale drama - volg die lewe van Christus vanwaar Hy Jerusalem binnegaan op die rug van 'n donkie en eindig met Sy opstanding. 'n Koor van 50 lede en solo-sangers, asook 'n orkes van 60 lede voorsien 'n ryke musikale agtergrond. Die hele drama speel hom af voor meer as 4 700 teatergangers wat in baie gerieflike sitplekke, in 'n ouditorium met 'n koepelvormige dak sit. Die verhoog en agtergrondgeboue is in die opelug. Elkeen op die verhoog vervul sy of haar rol met waardigheid.

Die toekomstige Passiespele duur van 16 Mei tot 4 Oktober 2020. 'n Totaal van 102 opvoerings met 5 per week. Wie mag deelneem aan die Spele? Almal wat in Oberammergau gebore is en vir ten minste 20 jaar in Oberammergau woon. Alle kinders wat in die vallei woon. Geen voorgeskrewe denominasie nie. Daar is ongeveer 2 100 deelnemers uit 6 000 inwoners. Die Passiespele word aangebied in 11 bedrywe wat soms voorafgegaan word deur proloë (alleenspraak), solo- en koorsang. Feitlik elke bedryf en/of toneel word deur tablo's (voorstellings) voorafgegaan. Baie treffend!! Die tablo's is hoofsaaklik vanuit die Ou Testament en wys profeties heen na die gebeure in die Nuwe Testament. Die teks van die Passiespele is absoluut Skriftuurlik en die Vier Evangelies leef voor die oog!!

As dit die wil van die Heer is, sal die Passiespele van 2020 te Oberammergau my vyfde bywoning wees. Geen twee mense se belewenis is dieselfde nie, maar vir my is en bly dit 'n aangrypende skouspel wat diep tot die innerlike mens spreek - hoe goed ons die verhaal ook al mag ken! Die Passiespele vra weer 'n stopteken in jou lewe. Gebed en bepeinsing! Jy verlaat die teater in stilte met 'n geloofsverdieping en bevestiging van die belangrikheid van Jesus se lewe, lyding, sterwe en opstanding. 'n Mens kan nie anders as om te sê "Dankie, Heer, dat ek hier kon wees!"

Ek beplan weer 'n toer na die Passiespele te Oberammergau in 2020: 'n 14-dag toer word beplan wat 6 nagte in Israel insluit voordat ons na Europa reis. In Israel word die belangrikste Bybelplekke besoek. In Europa is ons vir 2 nagte in Oberammergau en daarna reis ons per bus en dan per boot oor die meer na Luzern.

Sou u belangstel om saam te toer en 'n ervaring te beleef wat u nooit sal vergeet nie, is u hartlik welkom om my te kontak. Die Passiespele word bygewoon deur mense van regoor die wêreld. In 2000 het ons die ervaring van 'n man uit Korea gehad wie se lewe totaal verander is! Die jaar 2020 lê nog ver, maar ondervinding het geleer: begin vroeg beplan en dan is daar nie teleurstelling nie!

My besonderhede: Ds. Org Swanepoel, sel: 082 925 9449,
e-pos: orgswanepoel@vodamail.co.za



Indeks     Index