'n UITREIK NA DIE OOSTE | |
![]() |
|
  |
Op 30 Oktober 2017 vertrek tien van ons gemeentelede op 'n besoek aan Laos en Bangladesh. Ons toerleier is Johnny Li. Hy is 'n Christen wat amper 30 jaar gelede uit China na die Weste moes vlug weens die vervolging van die Christendom. Nadat dinge in China begin verander het, het hy weer teruggegaan en werk hy met die Kerk in China saam om Chinese sendelinge na lande te stuur waar min mense met die Evangelie bereik word. Hulle werk hoofsaaklik in lande wat op die ou "Syroete" geleë is. Dit was 'n handelsroete wat die Chinese baie jare gelede gebruik het om handelsware aan te koop en hulle eie goedere te verkoop. Die Chinese Kerk glo dat die Evangelie 'n baie beter "produk" is om aan die wêreld te bied, as enige iets wat geld kan koop. Hierdie Christene leef dikwels in baie gebrekkige omstandighede in kommunistiese en Moslemlande. Die doel van ons besoek was om hierdie sendelinge te besoek, te bemoedig, saam met hulle te bid en hulle te versterk deur ons teenwoordigheid. Hulle het telkens aan ons vertel dat eensaamheid een van die grootste vyande in hierdie werk is. Hulle voel dikwels asof hulle alleen is en die Kerk hulle vergeet het. Hulle vertel dat hulle baie normale, alledaagse dinge nodig het wat ander mense ook nodig het. Dinge soos kos, geld, klere, huise en alles wat 'n gewone huishouding nodig het. Wat hulle egter die nodigste het, is om te weet dat die Kerk hulle nie vergeet het nie! BANGLADESH
Ek het nooit gedink dat ek ooit na Bangladesh sou gaan nie. Maar in 2016 het 'n jong Chinese sendeling ons gemeente, Die Kruis, in Kimberley besoek. Alex* se liefde vir die Here, sy entoesiasme en nederigheid het my aangegryp! Hy het vertel hoe graag hy sou wou hê dat ons hom in Bangladesh moes kom besoek. Hy, sy vrou en jong dogter werk al 'n paar jaar in die hoofstad Dakha. Ek het in die gemeente afgekondig dat ek so 'n besoek beplan en dat lidmate kan saamgaan.Johnny en een van sy medewerkers, Candy* (ook 'n Chinees), het ons met groot opgewondenheid ontvang en aan die sendelinge bekendgestel. Alex het al 'n groep van die plaaslike mense wat gelowig geword het, betrek by die werk. Daar het ook ander Christene uit China by hulle aangesluit sodat hulle netwerk al groter word en die werk momentum optel! Hulle bereik meestal mense wat moed verloor het. Hulle rig skole in vir straatkinders oor wie niemand bekommerd is nie. Vrouens wat deur hulle mans uit die huis gegooi is omdat hulle "nuwe" vrouens gevat het, word van die straat afgehaal en geleer om naaldwerk, borduurwerk en ander handwerk te doen om so vir hulself te sorg. Hierdie mense is só ontvanklik vir die Evangelie en só dankbaar dat iemand in hulle belangstel! Tussen naaldwerkklasse en werksessies word Bybelstudie gehou en gebid. Toe ons hierdie werksplekke besoek het, was hulle grootste behoefte dat ons vir hulle moes bid. Tydens hierdie "sessies" het daar baie trane gevloei: hulle s'n en ons s'n. Hulle het gehuil omdat hulle so dankbaar was dat ons in hulle belangstel en vir hulle wou bid en ons trane het gevloei omdat ons so aangegryp was deur húlle geloof, hulle eenvoud en vaste vertroue in die Here. LAOS
Van Bangladesh het ons na Laos vertrek. Laos is 'n klein landjie wat tussen China, Thailand en Kambodja lê. Laos is een van die strengste kommunistiese lande in die wêreld en die beheer wat die regering uitoefen, laat 'n mens aan Noord-Korea dink. Ons beweging in Laos was baie beperk. Ons kon nie die Christene en die Kerk vryelik ontmoet soos in Bangladesh nie. Weer eens het Johnny ons aan die Chinese Christene bekendgestel wat in Laos werk.Ons het van hulle gehoor dat dit baie organisasie geverg het om die ontmoeting met van die Christene te reël. Op 'n bepaalde dag moes ons vroeg na die ontmoetingsplek gaan. Die Christene het met groot verwagting vir ons gewag. Hulle het die vorige nag agterop vragmotors gery om ons te kom ontmoet. Hulle het van verskillende dorpies gekom en die rit het hulle tussen tien en vyftien ure geneem! Een van ons groeplede het deur die tolk vir hulle gevra waarom hulle soveel moeite gedoen het om ons groep te kom ontmoet? Hulle antwoord was eenvoudig: "Ons is honger vir die Woord en ons wil hê dat julle vir ons moet bid." Ons het twaalf ure saam met hulle deurgebring waartydens hulle vir ons hulle verhale vertel het; verhale van hoe hulle deur hulle families verwerp is oor hulle Christenskap. Ander het vertel hoe die staat en dorpsrade hulle eiendom, grond en motors gekonfiskeer het toe hulle uitvind van hulle Christenskap. Hulle was verslae, maar nie moedeloos nie; hulle was brandarm in aardse terme, maar skatryk in hemelse terme! Ek en Johnny het elkeen twee sessies gehad waartydens ons hulle uit die Bybel geleer het. En aan die einde het ons sáám met hulle en vír hulle gebid. Die verhaal van 'n 16-jarige dogter het my die meeste aangegryp. Nadat die dagprogram afgehandel is, het ons groep van tien saam gesit en eet. Sy het saam met die tolk by ons kom staan en baie skaam gevra dat ons vir haar moet bid. Ek het gevra dat sy haar verhaal vir ons moes vertel. Haar pa is 'n tyd gelede oorlede en haar ouer broer tree as hoof van die familie op. Haar ma is ook 'n Christen, maar die broer verbied hulle om kerk toe te gaan en by enige Christelike aktiwiteite betrokke te wees. Sy gaan nie skool nie, maar werk op die ryslande. Sy het 15 ure, sonder enige familie, agterop 'n vragmotor saam met ander Christene gery om te kom vra dat ons asseblief sal bid dat sy in die geloof sal volhard! Haar enigste begeerte is om die Here Jesus te dien en Hom te aanbid! Dit was een van die hartseerste oomblikke van my besoek! Ek het twee keer gehuil. Die eerste keer oor hierdie jong mensie se hartseer-lewe en stryd om die Here Jesus te dien! Maar toe begin ek huil oor die Afrikaner-jongmense in ons land en ons kerke! Ek het net gewonder hoeveel van ons kinders is só toegewyd aan die Here Jesus dat hulle enige iets of alles sal opoffer om Hom te dien? En vir hoeveel gaan dit net om "brand name"-klere, -skoene, die volgende sporttoer en partytjie? Is die Here Jesus werklik nommer een op hulle prioriteitslys? En dan word ek sommer hartseer oor die grootmense ook. As 'n erediens langer as 'n uur aanhou, word die horlosie dopgehou; as die kerkgebou verder as 20 km is, gaan ons net elke tweede Sondag. Bidure en Bybelstudies is vir mense wat nie werk nie; die oumense en die susters moet die verkopings bestuur en so hou die lysie aan en aan. Ons prioriteite is dikwels op baie ander plekke as by die Here en Sy Kerk! Ons horlosies, dagboeke en selfone regeer ons lewens. Geld is die motief en genot bepaal die besluite. En hier kom 'n 16-jarige dogter en skud my denke oor kerkwees tot in sy diepste fondament! Sy kom vra dat ons vir haar moet bid, maar eintlik moes sy vir óns bid! Vir ons wat so "vry" is dat aanbidding en gehoorsaamheid vir ons te veel moeite geword het! Daardie selfde nag het hulle weer op die vragmotors geklim en die 15 ure terugtog aangepak na hul onseker aardse bestaan. Ons het 'n paar dae later teruggekom Kimberley toe - onherroeplik verander! Opnuut oorgegee aan 'n lewe van gehoorsaamheid aan die Here Jesus Christus. Opnuut verbind aan God se Kerk in die wêreld! Ons het net weer besef dat die Kerk groter is as ons gemeente en ons land. Ons het besef dat ons roeping wyer strek as net ons eie! Ons het besef dat ons die Kerk in Laos en Bangladesh nie moet vergeet nie. Hierdie uitreik het my lewe verander! - Ds. Danilo Stoltz *Skuilname [Die Boodskapper, Blad van die APK, Maart 2018, no. 309]. |