DIE MEESTER-POTTEBAKKER SE KUNSWERK | |
![]() |
|
  |
Ons leef in 'n wêreld vol pyn, hartseer en probleme. Daarom wil ek graag met jou deel wat my uit die afgrond van wanhoop gelig en my tot by die oneindige oseaan van God se liefde en genade geneem het... Daar word vertel dat 'n man eendag gaan kyk het hoe 'n pottebakker te werk gaan om die pragtige potte, waarvoor hy bekendheid verwerf het, te vorm en te maak. Hy het gestaan en kyk hoe die kunstenaar 'n groot stuk klei oor en oor met 'n houthamer slaan. Hy kon nie agterkom hoekom hy dit doen nie en het hom daarna gevra. Die pottebakker het geantwoord: "Wees net 'n bietjie geduldig, jy sal netnou sien wat gebeur en dan sal jy verstaan." Die besoeker het stilgebly en gekyk en kort voor lank die bopunt van die klei sien bewe en swel. Klein borreltjies het hier en daar begin uitkom. "Nou sien jy hoekom dit so nodig is om die klei te slaan," het hy verduidelik. "'n Mens kan nie 'n behoorlike pot of enigiets maak solank die lugborrels nog binne-in die homp klei vasgevang is nie. Deur dit so te slaan, werk ek hulle na buite toe en kom hulle uit." Ek was in 1980 op God se pottebakkerswiel. Hy het begin om my te vorm en te brei en ek kon duidelik die slae van sy houthamer op my lewe voel. Dit het my nog duideliker as ooit tevore laat besef waarom die Groot Pottebakker moet werk en brei aan die siele van dié wat Hy liefhet. Die dissipline van beproewing en slae wat Hy my in daardie tyd laat deurloop het, was nodig om alle "borrels" van selfbejammering en hoogmoed uit my hart en lewe te verwyder. Ek het myself duidelik in die toneel van Jeremia 18, waar die profeet beveel word om na die pottebakker se huis te gaan, gesien. "Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om 'n stuk werk op die skywe te maak. En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk, maar hy het daaruit weer 'n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak" (Jer. 18:3-4). Dit was nie altyd vir my maklik om my aan die wil van die Meester-pottebakker te onderwerp nie, veral nie in daardie vroeë dae van my herstel nie, maar hoe langer ek daarmee volgehou het, hoe meer vrede en vreugde het daar in my hart en lewe gekom. En die groeiproses gaan vandag steeds voort. Dit is my opregte begeerte dat jy ook die oneindige liefde en genade wat God in my tyd van wanhoop en duisternis aan my bewys het, ten diepste sal ervaar. Laat Hom toe om alle subtiele sondes en selfsug aan te spreek en te verwyder, sodat jy 'n toonbeeld van Sy genade en liefde kan wees. Laat Hom toe om jou te verander in 'n pragtige kunswerk wat tot Sy eer en verheerliking sal strek. [Sal jy my nog loof...? Duane Parrish, VG Uitgewers, Springs, 1994]. |