'N GREPIE-LESER IS 'N GREPIE-BEGRYPER
 
Hóé ons met die Bybel omgaan, bepaal hóé ons die Bybel verstaan. Sommige mense verkies om die Woord vinnig en selektief (een versie hier en een versie daar) te lees. Dan is hulle verbaas dat hulle nie die Bybel goed kan begryp nie. Omdat hulle egter net grepie-lesers is, kan hulle ook net grepie-begrypers wees.

Die woorde van die Here Jesus, "Met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word," kom drie keer voor in die Evangelies. In Markus 4:24 sê Jesus: "Pas op wat julle hoor; met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor."

Hóé ons na die Woord luister (hoor), oftewel dit lees, sal beïnvloed hoe goed ons dit sal verstaan. Die Woord moet m.a.w. met erns en ywer bestudeer word, "geëet" word. Die maat waarmee ons dit ontvang, sal bepaal wát ons daaruit gaan kry.

Die leser moet biddend met die Woord omgaan, die Heilige Gees toelaat om hom/haar te leer, en nie haastig wees wanneer ons wil hê God moet met ons praat nie. Daarna moet ons die Woord ook toepas in ons lewens, want die krag van die Woord lê in die toepassing daarvan!

Deur die aanwending van die Woord in ons lewens, kan ons groei tot gelykvormigheid aan Sy Beeld. As God bv. sê: "Wees heilig, want Ek is heilig" (1 Pet. 1:16), dan kan ons as goeie hoorders, die Woord toepas en soos Hy word. Met die maat waarmee ons die Woord dus ontvang (en toepas), met daardie maat sal ons dit verstaan. En hoe méér ons verstaan, hoe méér sal Hy aan ons toevertrou, want Hy strooi Sy pêrels nie net na willekeur rond nie. Die skatte van Sy Woord moet ontgin word, dan sal ons nóg meer skatte kry. Ons moet dus moeite doen en aan Sy voete sit om hierdie skatte te ontdek. En dán moet ons dit uitleef!

Aangaande oordeel sê Jesus: "Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word" (Matt. 7:1-2).

Soos met die ontvang van die Woord, is dit hier ook waar: Met die maat waarmee ons ander oordeel, sal ons geoordeel word. Die Griekse woord vir "oordeel" is krino. Dit beteken om 'n oordeel uit te spreek oor ander se woorde en dade, om ander te veroordeel of te verdoem. Wanneer ons dít doen, sal ons met dieselfde maatstaf gemeet word.

Jesus verbied nie kritiek op verkeerde dade nie, of dat ons verkeerde dinge veroordeel nie. Maar Hy verbied 'n gees van foutvindery waar ons ons eie foute verbykyk en onsself as regter aanstel oor ander. So 'n hart is donker, en kan nie ander met liefde benader nie. Waar oordeel voorkom, kan die liefde nie heers nie. Met 'n hart vol oordeel kan en sal ons ander in hulle swakhede nie help nie. Slegs wanneer ons mense met liefde, sonder oordeel, voorthelp sal ons hullle in staat stel om God te kan dien.

In Lukas 6:38 sê Jesus: "Gee, en aan julle sal gegee word. 'n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word." Met hierdie woorde bring Hy 'n basiese beginsel tuis dat elke gelowige met 'n oop hand moet gee om God se Koninkryk te bevorder. Ons motief vir gee moet egter reg wees: Indien ons gee omdat ons verwag dat die Here weer vir ons baie moet gee, is dit met 'n onsuiwere motief. Ons moet onvoorwaardelik gee om God te behaag.

Daar staan geskryf: "Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het 'n blymoedige gewer lief" (2 Kor. 9:6-7). Uit genade en liefde gee God dan weer vir ons en sal ons nie self gebrek lei nie.

Om dus met erns en toewyding met die Woord om te gaan, beteken dat ons nie grepie-lesers sal wees nie. Vir groter begrip, moet ons noukeurig en doelgerig met volharding lees sodat ons in altyd groter maat begrypers van die Woord kan word!

Ter opsomming verstaan ons dus nou "... met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word..." in die drie Evangelies beter. Jesus gebruik hierdie uitspraak in verband met hoe ons die Woord hoor in Markus, in verband met oordeel in Matteus en in verband met hoe ons gee in Lukas. Die kere in Matteus en Lukas word geïnkorporeer of ingesluit in hoe ons hoor (Markus), want as ons hoor ons mag nie oordeel nie en, ons hoor hoe ons moet gee soos in die Woord beskryf, dan vorm dit mos waarlik deel van die toepassing van die Woord in ons lewens!

© Dr. JJ Venter (084 245 2338).


Indeks     Index