MAAK JULLE REKENING OP DIE REGTE PLEK OOP...
 
"Hou op om van die oggend tot die aand agter geld aan te hardloop. Dit is dom. Niks hou hier vir altyd nie. Diewe breek oral in en steel, motte en goggas vreet alles op, en ouderdom laat dinge vergaan. Maak eerder vir julle 'n bankrekening in die hemel oop, daar by God. Geen dief kan daar inbreek om iets te probeer steel nie. Daar is ook nie inflasie wat julle skatte se waarde kan laat minder word nie. En niks word daar ooit oud nie. God Self pas julle skatte op. So, spring nou dadelik aan die werk. Leef elke dag voluit vir God. Dis die beste belegging wat julle ooit kan maak. Dan is julle kort voor lank hemelse miljoenêrs!

"Daar is twee soorte skatte wat julle kan versamel: hemelse skatte, wat vir altyd hou, of aardse skatte, wat nie vir altyd hou nie. Watter soort maak julle bymekaar? Hier is 'n vinnige toets vir julle om vas te stel:

  • Waaroor praat julle die meeste van die tyd?
  • Waaroor dink julle van vroeg tot laat?
  • En waaroor bekommer julle jul die meeste?

"Beantwoord hierdie vrae eerlik. Dan het julle die antwoord. Dan weet julle waar julle jul 'rekening' oopgemaak het.

"As julle hemelse skatte wil opgaar, dan moet julle jul oë nou dadelik deur die Here laat instel sodat julle op die regte manier daarmee kan kyk. 'n Mens se oë is ook soos 'n lig. Die manier waarop jy daarmee na ander mense kyk, kan een van twee dinge in jou lewe tot gevolg hê: dit kan alles in jou lewe pikdonker maak, of dit kan jou lewe helder verlig. Oppas hoe jy na ander mense kyk. Gee jou oë vir God sodat Hy dit op die regte dinge kan instel.

"Laat Hy jou leer om net na dit te kyk wat Hy wil hê jy moet raaksien. Dan word jou hele lewe verlig sodat jy God grootmaak in alles wat jy doen. Dan is jy nie soos 'n blinde wat gedurig in allerhande sondes vasloop nie. "Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Julle ook nie. Julle kan nie twee here saam probeer dien nie. Uiteindelik sal julle lojaal teenoor een wees en die ander een afskeep. Moet daarom nie eers probeer om God en die geldgod saam te dien nie. Julle moet 'n keuse maak in wie se diens julle wil staan."

[Matt.6:19-24, Die BOODSKAP, Jan van der Watt en Stephan Joubert, CUM, 1999].


Indeks     Index