VREDE | |
  |
Omdat ons glo, is ons saak met God nou reg. Hy is nie meer kwaad vir ons oor al ons sondes nie. Daar is nou vrede tussen Hom en ons. Dit is natuurlik alles te danke aan ons Here Jesus Christus. Hy het gesorg dat ons in 'n splinternuwe verhouding met God staan. Christus het die deur van God se genade wawyd oopgemaak vir ons. Nou kan ons feesvier. Ons weet immers dat daar ook vir ons plek in God se nuwe wêreld is. Al kry ons soms baie swaar, vat dit glad nie ons blydskap weg nie. Inteendeel, swaarkry maak ons geloof sterk. Dit laat ons nog net meer besef hoe afhanklik ons van God is. Wanneer ons aan Hom vashou as ons swaarkry, wys dit dat ons geloof eg is. En mense wie se geloof eg is, het altyd hoop in hulle hart. Hulle glo dat God sy woord sal hou, maak nie saak wat gebeur nie. Die goeie nuus is dat niemand wat so onverskrokke in God glo ooit teleurgesteld sal wees nie. Want God is mos by ons en boonop op 'n baie besondere manier. Hy vul ons hele lewe met sy liefde. Dit doen Hy deur die Heilige Gees wat by ons bly. Christus is die bewys dat God ons regtig liefhet. Hy het op presies die regte tydstip vir ons kom sterf. Christus het nie gewag dat ons eers begin doen wat God vra nie. Nee, Hy het sy lewe vir ons opgeoffer toe ons nog in die sonde rondgelê het. Dit is amper ondenkbaar dat Christus bereid was om so iets te doen. Mens kan dit nie met jou verstand begryp nie. Nie een van ons sal mos ooit ons lewe vir iemand anders prysgee nie. Ja, miskien nog vir 'n baie goeie vriend of vir die een of ander goeie mens. Maar God is heeltemal anders as ons. Hy wys juis hoe lief Hy ons het deurdat Jesus in ons plek gesterf het toe ons nog sondaars was. God se liefde is dus nie net lippetaal nie. Nee, Hy het dit kom wys! (Romeine 5: 1-9 Die Boodskap). |