LAAT DIE GROND EERS RUS | |
  |
Vir ongeveer die driehonderd jaar is die Kerk wreed vervolg gedurende die regeringstydperk van tien keisers. Behalwe die vervolging van die kant van die Joodse leiers, het die vervolging deur die Romeinse Ryk voortgeword. Dit was die era van keiserlike aanbidding. Die wêreldregering wou nie slegs polities gesag oor die mense uitoefen nie, maar ook in die godsdienstige behoeftes van die mense voorsien. Todat die Kerk van Jesus Christus tot stand gekom het. Die Kerk wou nie erkenning gee aan keiserlike aanbidding nie, maar het bely: "Jesus is die Here!" (Gr. = kurios). Daarvoor is hulle vervolg. Dit was juís gedurende keiser Nero se regeringstyd dat Petrus sy sendbrief geskryf het om die gelowiges te bemoedig. Hy skryf aan die gelowiges: "Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie;…" "Geliefdes". Gr. = agapetoi. Hierdie begrip dui ook op die dieper Goddelike liefde, die woord waarmee God se liefde beskryf word. Eintlik wil Petrus vir die gelowiges sê dat hulle moet onthou, al word hulle verdruk en vervolg; hulle is bemindes van God. Hy sal hulle nie vegeet nie, maar sal altyd by hulle staan en hulle ondersteun. In Matt 11:28 sê Jesus: "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee." Letterlik beteken dit "Ek sal julle laat rus" Of: "I will rest you." Die woordjie "rus" is reeds as landboubegrip in ongeveer 103 n. C. gebruik om aan te dui dat grond, na 'n seisoen van saai en oes; eers vir 'n seisoen moet rus voordat dit weer bewerk kon word vir 'n volgende oes. Op dié manier kry die grond kans om eers te herstel sodat dit maksimaal benut kan word. So wil Jesus vir elke gelowige, wat onder 'n swaar las gebukgaan; ook rus gee sodat jy daarna maksimaal vir Hom kan diens lewer. Hy maak ons las ligter sodat ons weer verkwik kan word en kan moed skep vir die pad vorentoe. Petrus gebruik ook hierdie woord "rus": "As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik." Petrus sê in effek vir die gelowiges: "Te midde van julle vervolging, laat God julle rus." As ons dus ons situasie aan Hom toevetrou, sal ons sy rus, sy vrede beleef, al is die druk ook hoe swaar. In die midde van die stryd kom Hy ons tegemoet deur die krag van die Heilige Gees, en laat ons sy rus ervaar. Al wat ons te doen staan wanneer die stryd vir te veel geword het, is om op ons knieë voor Hom te kom staan en die las aan Hom oor te gee. Hy nooi ons ook daartoe uit: "Kom na My toe almal wat vermooeid en belas is…" Sal jy noú kom? |