SLAWERNY | |
  |
![]() Lees Johannes 8:31-38. Amptelik is slawerny dood. Maar elke nou en dan hoor 'n mens weer van iewers in die wêreld: dit IS toe nie so nie! Baie mense en selfs kinders leef elke dag in slawerny. 'n Britse menseregte-organisasie, Anti-Slavery International, bereken dat daar in die wêreld meer as 100 miljoen slawe is. Elkeen van hulle ly op die een of ander manier. Die syfer is natuurlik baie hoër. Jesus sê in vers 32 dat elkeen wat sonde doen, 'n slaaf van die sonde is. Dié vorm van slawerny is net so haatlik as om onder die beheer van 'n ander persoon te moet leef. As ons sonde toelaat om beheer oor ons gedagtes, ons liggame en ons aksies te kry, is ons net so seker gebind as wat iemand ons fisies vasbind. Slawe van die sonde word gebind deur die ysterkloue van ou gewoontes, deur die ysterklem van seksuele begeertes, en deur die ysterketting van "klein sondetjies". Verbasend genoeg gee mense, nee, dalk moet ek sê óns, ons vrywillig oor aan sonde om oor ons te heers. Die groot slawemeesters vandag is dalk heroïen en ander dwelms, alkohol, pornografie en dobbel. Maar ander verslawende aksies soos leuens en skinder en liefdeloosheid hou baie mense gevange. Gelukkig sê vers 36 dat ons nie altyd slawe van die sonde hoef te bly nie. Jesus het gekom om die skakel te breek wat ons vasbind. Hy wil ons vrymaak van die onderdrukking van die sonde. Deur Sy dood aan die kruis het Hy mos die mag van die sonde oor ons gebreek. Leef jy soos 'n slaaf? Jy hoef nie! Gaan kry jou ontslagsertifikaat by Jesus. [Uit: God maak my dag, Jacie van Rensburg, Lux Verbi.BM, 2002]. |