GAAN IN JOU BINNEKAMER EN SLUIT JOU DEUR | |
  |
Daar is 'n rede waarom Jesus gesê het: "Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde" (Matt. 6:6).
Behalwe vir die oproep tot gebed wanneer ons Hom nodig het, roep Hy ons om so 'n bietjie eenkant te kom, sodat ons met Hom gemeenskap ("fellowship") kan hê. Hy wil ons vul met Sy heerlike Teenwoordigheid. Hy wil hê Sy kinders moet die Brood van die Lewe eet sodat hulle gedurig in 'n lewende verhouding met Hom kan leef. Ons moet in die binnekamer op Hom wag. In Psalm 25:5 sê Dawid: "U verwag ek die hele dag." Die King James Version: "… on Thee do I wait all the day." Hierdie "wag" beteken " ‘to bind together’ through a process of intertwining, clearly suggesting the virtual envelopment of the soul with God" (Spirit-Filled Bible). Ons word as't ware deur God "toegevou" wanneer ons met Hom in die binnekamer verkeer. Wat mis ons as ons nié op Hom wag nie? Samuel sê vir die volk: "En julle mag nie afwyk nie, want dan gaan julle agter nietige afgode aan wat nie kan help of red nie, omdat hulle nietighede is" (1 Sam. 12:21). Hierdie woord "nietighede" (Hebreeus = tohu) word ook weer gevind in Gen. 1:2 - "En die aarde was woes en leeg (Hebreeus = tohu va bohu), en duisternis was op die wêreldvloed..." En in Jes. 45:18 - "Hy het dit (die aarde) nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word..." "Woes" beteken dan: "A formless, chaotic mess, a waste, a worthless thing, emptiness and desolation, for no purpose, for nothing" (Spirit-Filled Bible). Indien ons nie gereeld op God wag in die binnekamer nie, dan is ons siel dus gevul met "leegheid". 'n Leegheid soos in Gen. 1 toe die aarde woes en leeg was. Maar hierdie "leegheid" word opgeneem of gevul deur ander dinge in die lewe - tydelike nietighede wat ons nooit kan tevredestel nie. Hoe lyk jóú geestelike lewe? Het jou verhouding met God skade gely deurdat jy nie genoeg tyd in jou binnekamer met Hom deurbring nie? Is jou lewe gevul met leegheid, sinloosheid en louheid? "Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit My mond spuug. Want jy sê: ‘Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie’; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien" (Openbaring 3:17-18). Keer terug na God! GAAN IN JOU BINNEKAMER EN SLUIT JOU DEUR... |