VRIENDELIKHEID IS DIE WIL VAN GOD | |
  |
Vriendelikheid is nie opsioneel in menseverhoudinge nie, maar 'n bevel: "Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het" (Ef. 4:32). Ek was as jong seun getuie van 'n vriendelike daad van welwillendheid. My pa en ek was per motor op pad in 'n straat in Mansfield, Ohio. Dit het gesneeu en ons het op 'n ander motor afgekom wat in die sneeu vasgeval het. My pa het ons 1940 Pontiac parkeer en uitgeklim om die ander motoris te help. Die bestuurder was 'n swartman en sy gesin het in die motor gesit. My vader en die man het sy aan sy gewerk om die motor uit die sneeu te beweeg. Toe die gesin gereed was om te vertrek, het my vader sy warm handskoene - met pels uitgevoer - uitgetrek en aan die man wat geen handskoene gehad het nie, oorhandig. Ek het die traan op die man se wang gesien toe hy in sy motor geklim het en ek het vriendelik tot siens gewuif. Wat daardie daad van vriendelikheid vir daardie familie beteken het, kan ek nie sê nie. Dit het egter ‘n baie positiewe invloed in my eie lewe tot gevolg gehad. Vriendelikheid lewer wonderlike dividende... aan die ontvanger sowel as aan die gewer daarvan. Vriendskap is ‘n lewenskwaliteit wat nie deur tegnologie gedupliseer kan word nie. Die volgende verhaaltjie is deur Rebecca Pippert vertel: "Toe ek in Portland, Oregon gearriveer het, het ek 'n student op een van die kampusse waar ek gewerk het, ontmoet. Hy was briljant en het altyd die esoteriese bedink. Sy hare was altyd slordig en ek het nooit gesien dat hy skoene dra nie. Reën of sneeu; Bill was altyd kaalvoet. Later, tydens sy studiejare, het hy 'n Christen geword. Gedurende hierdie tyd het 'n nabygeleë kerk, wat bestaan het uit welgeklede middeljariges, besluit om hul meer toe te spits op die bediening van die studente in hul gemeenskap. Die gemeente het nie presies geweet hoe om te werk te gaan nie, maar het probeer om die studente welkom te laat voel. Op 'n dag het Bill besluit om 'n diens daar by te woon. Hy het in sy blou denim, T-hemp en natuurlik skoenloos, opgedaag. Gemeentelede het ongemaklik gelyk, maar niks gesê nie. Hy het in die gangetjie begin afstap op soek na 'n sitplek. Daardie spesifieke Sondag was die kerk baie vol en toe hy heel voor kom en nog geen sitplek kon vind nie, het hy hom op die mat tuisgemaak... aanvaarbare gedrag by 'n universiteit of kollege se aanbiddingsgeleenthede, maar waarskynlik vreemd vir 'n gemeente wat uit middeljariges bestaan. Die gespanne atmosfeer in die kerk was voelbaar. Toe begin 'n ouerige man die gang afstap. Sou hy Bill gaan uittrap? My vriende het gedink dat hierdie man nie sou kon raai dat Bill 'n Christen was nie as gevolg van sy onortodokse kleredrag. Sy lewensmilieu was ook heel anders as die van Bill. 'n Mens sou hom nie kon kwalik neem as hy Bill sou beledig nie. Die gemeente was doodstil en alle oë gerig op die ouerige man. Hy het Bill bereik, met moeite gehurk en langs Bill op die mat gaan sit. Hy en Bill het daardie Sondag saam die Here op die mat aanbid. Ek is meegedeel dat daar nie 'n droë oog in die gemeente was nie!" Hierdie vriendelike optrede het 'n baie groot verskil in die jong Christen se lewe gemaak. Om vriendelikheid te betoon, is 'n wilsbesluit. Die ontvanger van ons vriendelikheid, kry 'n blik op God se geopenbaarde liefde en dit bewerkstellig 'n verandering in sy lewe. Uit: Geen Groter Liefde, Robert Strand, VG Uitgewers, 1996. Geborg deur: Lemon Blossom Gastehuis, Kerkstr. 4, Potchefstroom Tel: (018) 297 1137 of sel: 082 803 3872 |