PORTUGAL-SENDING: BRING LIG IN DIE DUISTERNIS
  Gedurende Aug. 2006 is ek en my vrou, Pauline, deur die NG Gemeente Potchefstroom-Noord (ons dien as stuurgemeente van dr. Manie en Annalie Taute na Lissabon, Portugal) afgevaardig om ‘n besoek ter ondersteuning van die sendeling-egpaar in Portugal te bring.
Dit was voorwaar vir ons ‘n grootse ervaring, aangesien "kerkwees" by die Massamà-Gemeente in Lissabon heelwat anders daar uitsien as ons verwysingsraamwerk in SA.
Dit is ‘n gemeente wat vir jare bedien is deur ds. Pine Pienaar, maar wat daarna baie lank gesoek het na ‘n geskikte bedienaar van die Woord wat bereid sou wees om as geroepene van die Here die mense daar te bedien.
Van die evangeliese gelowiges wat deel vorm van hierdie Igreja Reformada Evangélica te Massamà is daar ook ‘n paar lidmate wat destyds vanuit die Portugese Gemeente in Pretoria intussen verhuis het na Lissabon en daar ingeskakel het.
Die seën van die Here op Manie en Annalie se arbeid is sigbaar in die wyse waarop die gemeente groei (geestelik, maar veral ook in die aantal lidmate wat nuut begin inskakel het) sedert hulle bykans twee jaar gelede daar begin werk het.
Van die begin af is daar gevra dat gemeentes, donateurs en belang-stellendes sal bid dat die Here gesinne met kinders sal stuur, asook dat daar leiers na vore sal kom om in die gemeente te werk. Beide hierdie gebede is wonderbaarlik verhoor en daar kan met groot dankbaarheid getuig word dat die "gebede van gelowiges 'n kragtige uitwerking het".
Tydens ons weeklange besoek het ons gedurende die twee eredienste geskenke oorhandig aan die kinders en gemeente-leierskap en is ons met ope arms ontvang. Die woorde van een van die ouderlinge was: "Ons kan nou sien dat julle ernstig is oor die werk van die Here - ook hier in Portugal. Ons wil vir elkeen wat betrokke is by hierdie werk (hetsy finansieel, deur gebede, asook die feit dat julle ons pastor en sy vrou, kom besoek het) baie dankie sê. Dis die beant-woording van gebede."
Behalwe die gemeente in Massamà is daar ook ‘n paar maande reeds ‘n tweede preek- en besoekpunt begin in ‘n gebied Moita (‘n klein kerkruimte word goedgunstiglik met Assemblies of God gedeel).
Enkele waarnemings wat ons gemaak het tydens ons besoek, is dat die mense in Portugal baie soekend is. Selfs uit gesprekke wat ons tydens besoeke aan gemeente-lede in die platteland gehad het, het uitgewys dat mense (net soos ons) daagliks gekonfronteer word met die eise van die dag: verlies-ervaringe, die afsterwe van kinders, huweliksmaats en vriende, isolasie vanuit die gemeenskap weens die feit dat hulle Jesus in hulle lewens bely, en dan natuurlik die feit dat die deursnit inwoner van Portugal daagliks gebuk gaan onder ‘n godsdiens wat meer dood as lewe bring.
Tydens ‘n besoek aan Fatima, noord van Lissabon, was dit afgryslik om te aanskou hoedat mense letterlik "mislei" word, en dit in die naam van Christendom, deurdat hulle aan moeder Maria belowe dat hulle vir ver afstande op hulle knieë sal kruip (vir haar) as sy net hulle kind sal gesond maak. Van Jesus is daar geen sprake nie. Hierdie Fatima is die plek waar moeder Maria volgens bewering aan drie skaapwagtertjies in lewende lywe verskyn het, en waar die Rooms-Katolieke Kerk ‘n massiewe kerk en plein opgerig het waar katolieke twee maal per jaar saamkom om hierdie verskyning te gedenk.
Hierdie plein is omtrent so groot soos tien rugbyvelde. Daar word daagliks dienste waargeneem deur priesters waar mense rondkruip en lang kerse in ‘n oond kom gooi as offer. Die dogtertjie aan wie Maria kwansuis verskyn het, is vir jare in kloosters versteek as non, en geen media of enige ander persoon kon ooit met haar gesels oor die "waarheid" van hierdie verskyning nie.
Sy is onlangs oorlede en daar word daagliks by haar graf in hierdie katedraal verbybeweeg en aan haar hulde gebring.
Die feit is: Manie en Annalie Taute is deur die Here geroep om in ‘n baie Jesus-vyandelike en Jesus-vreemde omgewing die wonderlike nuus van Jesus Christus te bedien aan ‘n volk wat in geheel opgeneem is in ‘n baie "vreemde, Katolieke kerklike sisteem". Dit noodsaak dat ons onsself daartoe sal verbind om baie vir hulle, vir Portugal, en sy mense te bid.
Iemand het die ander dag vir my gesê: Daar is ‘n rede waarom die Dooie See so genoem word: Dit het net ‘n INLOOP en geen UITLOOP NIE. Toe sê dieselfde persoon: Baie gemeentes is ook so: Daar is net ‘n INLOOP (sorg vir jouself, en ‘n gewerk na binne), maar daar is nie ‘n UITLOOP- of OORLOOP- bediening nie. Dit kan natuurlik in jou eie persoonlike lewe net so doods wees soos in sommige gemeentes.
Ons het van die begin af die Here vertrou en weet dat Portugal- Sending só ‘n OORLOOP- en UITLOOP-bediening is. As ons met mense oor Sendingwerk gesels, vra baie: Wat kan ons doen om te help? Anders as wat baie dink, is GELD-GEE vir hierdie Bediening nie die begin en einde van Sending-werk nie, alhoewel dit ongelooflik belangrik is om die sendeling in staat te stel om met die werk voort te gaan. Ons moet egter nie die behoefte aan gebed onderskat nie. Moet ook nie nalaat om self kontak te maak met die sendeling in die sendingveld nie. Skryf ‘n briefie ter bemoediging - stuur ‘n e-pos of SMS. Selfs ‘n klein pakkie met iets lekkers kan wondere verrig.
‘n Groot fout is dat gemeentes soek om iewers ‘n sendeling te plaas, terwyl ons net moet sien waar God reeds werk en daarby aansluit. Alhoewel NG-Noord die stuur-gemeente is, is daar talle ander gemeentes/donateurs van oor die hele land wat Portugal-Sending finansier. Dus hoef gemeentes nie iets nuuts te begin nie. Werk net mee waar God reeds werksaam is! Dis ‘n Bybelse model vir sendingwerk.
Elkeen wat by Sending betrokke is, het al sekerlik gevoel dat dit net ‘n bodemlose put is waaraan geld en energie bestee word, maar weet net: "SENDING IS NIE MAAR EEN VAN DIE KENMERKE VAN DIE KERK VAN JESUS CHRISTUS NIE. DIT IS DIE WESE (BESTAANS-DOEL) VAN ELKE KERK OP AARDE".
Hou moed - moenie ophou om jou hand vir die Here se werk oop te maak nie. Miskien is dit juis nou jou kans om iets te begin doen. Ons sê dankie vir talle gemeentes en individuele donateurs wat oor vele jare volhou om hierdie sending-uitreik te ondersteun. Mag die Here u seën. DV sal Manie en Annalie Taute gedurende Desember en Januarie in Suid-Afrika wees. Op Sondag, 26 November 2006, word daar ‘n terugvoergeleentheid gehou by NG-Noord (10:45) in Silwerstraat (Die Bult). Almal is welkom! Indien u ‘n nuusbrief wil ontvang, skakel gerus met Madelein Bodemer:
nesa@iafrica.com (018) 297 7850.
Adres van sendeling:
Dr. Manie en Annalie Taute
Igreja Reformada Evangélica
Rua Norton de Matos 11A
Massamà 2745-827, Portugal
Tel: (09351) 219556519
+351968173505
portugal@ngnoord.org.za
Vir bydraes: Bankrekening: NG Kerk Potchefstroom-Noord: Portugal Sending, Tak: ABSA Tomstraat, Takkode: 335138, Rek. Nr.: 4061419137
Navrae: Ds. Johan Raubenheimer (018) 294 6062 / 082 377 8539
Geborg deur TJ Lotz

Indeks     Index