DANKBETUIGING VAN HEBRON
  Met groot dankbaarheid wil ons die Here en die donateurs bedank vir hulle milde bydraes in reaksie op Septembermaand se versoek soos gepubliseer in GOEIE NUUS.
Ons het ‘n pragtige orrel ontvang. Die koor oefen vol-stoom en ons het nou ons eie begeleiding. Innige dank aan die persoon van Stilfontein wat vir ons ‘n bedrag geld geskenk het wat ons in staat gestel het om met die bouwerk aan te gaan, asook ‘n DSTV wat slegs op die Godsdienskanaal ingestel is.
Behalwe baie klere, kos, groente, vleis en enkele meubelstukke, het ons ook ‘n groot pot ontvang en tot ons groot vreugde het ‘n persoon van Parys ons ‘n 1982 VW Mikrobus in goeie toestand, maar sonder enjin geskenk.
Dalk het u, of weet u van ‘n goeie, opgeboude of bekostigbare enjin. Elektriese kabels teen ‘n bekostigbare prys is steeds ‘n dringende behoefte.
Ook wil ons vir Kobus en Lorraine Fourie hartlik bedank vir ‘n heerlike, gratis piekniek-dag by Elgro Lodge en Turkstra het dit ekstra spesiaal gemaak met hulle lekkernye. Dankie aan Family Meat Market vir hulle koue vleis. Blue Ribbon verdien ook ons hartlike dank vir die skenking van 100 brode elke week.
Graag wil ons ons hartlike dank uitspreek teenoor Kêkkelê Hoenderplaas, waar ons manne twee dae per week werk. Hulle voorsien aan ons weekliks 900 eiers, asook ‘n bedrag geld om die vervoer en ander onkoste te dek.
Daar is mense wat nie onder Hebron-reëls wil staan nie en ons verlaat en leuens oor ons versprei. Die publiek word dringend gevra om eers met ons te skakel of ons te kom sien oor die ware toedrag van sake voordat hulle valse gerugte oor ons glo en versprei.
Ook is daar mense wat namens Hebron kollekteer. Slegs Brian en Annette Pole, en Elma of Gretha le Roux, wat oor die nodige ID-dokumente en Hebronbriefhoofde beskik, word toegelaat om fondse in te samel.

Navrae: Gretha le Roux.
Tel: (018) 290 1802
Sel: 082 607 7198

Indeks     Index