GEPLANT BY WATERSTROME | |
  |
In Jeremia 17:7-8 staan hierdie pragtige woorde van bemoediging geskryf: "Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is. Want hy sal wees soos 'n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in 'n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie." Wie is hierdie geseënde? Die teks is duidelik: "Geseënd is die man wat op die HERE vertrou." 'n Pragtige lied is n.a.v. hierdie teks geskryf, waarvan sinsnedes soos volg lui: "I shall, I shall, I shall not be moved. Just like a tree that’s planted by the waters, I shall not be moved." Wat 'n wonderlike geloofsuitspraak! Tog lees ons elders van iemand anders wat nie op die Here vertrou het nie, wat soos volg sê: "Toe dit goed gegaan het, het ek wel gesê: ‘Niks sal my ooit laat wankel nie’" (Nuwe Vertaling). En in die KJV: "And in my prosperity I said, I shall never be moved" (Ps. 30:6). Sy vertroue was op sy voorspoed en eie vermoëns, en nie op die Here nie. Later in die Psalm verander die prentjie wanneer hy sê dat hy verskrik geword het (vs. 7), en toe hy in benoudheid gekom het, het hy die Here aangeroep (vs. 8). In sy nood roep hy dan uit: "Hoor, HERE, en wees my genadig! HERE, wees my ‘n helper!" (vs. 11), en die Here help hom (verse 12-13). Dit is gevaarlik om op jou eie vermoëns en voorspoed te vertrou en vol bravade te wees wanneer dit met jou baie goed gaan. So asof jy dit alles in eie kragte kan vermag - jy het die Here dan nie nodig nie! Bepeins wat in Jeremia 17:5-6 staan: "So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk. En hy sal wees soos ‘n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, ‘n brakkerige en onbewoonde land." Jeremia 2:19 verklaar ook: "Jou eie boosheid sal jou tugtig, en jou afkerighede sal jou straf; weet dan en sien dat dit verkeerd en bitter is dat jy die HERE jou God verlaat het, en dat My vrees nie by jou is nie, spreek die Here, die HERE van die leërskare." Dit is nie net gevaarlik nie, maar ook bitter om jou eie pad te loop sonder die Here. Moenie jou eie besluite neem nie. Moenie op jou eie vermoëns en insigte vertrou nie. Moenie op jou eie wysheid staatmaak nie. Moenie jou eie heil probeer uitwerk nie! Kom ons plaas vandag ons volle vertroue op die Here, sodat ons met reg kan sê (sing): "I shall, I shall, I shall not be moved. Just like a tree that's planted by the waters, I shall not be moved." Dán, en dán alleen, sal jy geseënd wees met die seën van die Here! |