LEKKER WEER VIR TAAI MENSE | |
  |
Toe ek op ‘n wintersmôre, gestewel en gespoor in alles wat warm was, in die bus stad toe sit, lê die kapokkleed swaar en swierig op die boomtakke en grasperke. "Dis ‘n pragtige toneel," sê ek vir die buskondukteur, "net jammer dat dit so koud is." ‘n Skoolseun wat langs my sit, val ewe vrypostig in: "Ja, dit is koud, meneer, maar dis darem lekker weer vir taai mense!" En aan die toon van sy stem en sy houding was dit duidelik dat hy hom onder een van die weinige taaies reken. "Lekker weer vir taai mense." Ek het aan die gedagte sit en herkou. Dit het my bygeval dat ek dit al meermale gehoor het, net in ander woorde. Daardie geharde geloofsheld, die apostel Paulus, het dieselfde ding gesê: "Ons roem ook in die verdrukkinge" (Rom. 5:3), en hy het dit gesê na aanleiding van sy eie ondervinding. Sy geloof in Christus het aan hom die oorwinning besorg in meer as een benoude worsteling. Dit het hom so gesterk dat hy selfs onder die moeilikste omstandighede kon sê: "dis lekker weer". Dit is wat geloof in God aan ‘n mens doen. Dit is ‘n krag wat die karakter staal. Jy sien dit om jou in die lewe van mense wat die geloofsoorwinning ken; jy sien dit in ons eie volk se geskiedenis – en op sy beste sien jy die krag van geloof in die kritieke eerste jare van die Christendom. Jesus het die reusetaak om die wêreld te evangeliseer aan sy groepie volgelinge opgedra, maar Hy het hulle nie uitgestuur voordat hulle nie onder Sy leiding die vuurproef van geloof en geestelike dissipline ondergaan het nie. In duidelike taal het Hy hulle opgeroep om Hom te volg. Dit sou vir hulle ontbering meebring. Hulle sou hul kleinmenslike verwagtinge moes prys-gee en groot geloofsondernemings moes aandurf. Om ‘n dissipel van Hom te wees, het beteken om geestelik gesterk en toegerus te word vir die stryd wat voorlê. Dis wat geloof en godsdiens vandag nog beteken. Dis nie ‘n senti-mentele aandoening waaraan uiting gegee kan word wanneer ons so voel nie; dis selfdissipline, ‘n lewe van selfverloëning en opoffering, sodat ons as gelowiges geestelik so gehard sal wees dat ons onder die ongunstigste omstandighede die vaandel van Christus hoog sal kan hou. Daar wag bepaald nie "lekker weer" vir die Christengelowige nie. Christus het self gesê: "In die wêreld sal julle verdrukking hê." Mag ons deur ons navolging van Christus só geoefen word in die geloof dat ons ook in staat sal wees om onder die swaarste kastyding saam met Paulus te sê: "Ons roem in die verdrukkinge," en saam met die skoolseun: "Dis lekker weer vir taai mense!" - Oorgeneem |