BELYDENIS VAN 'N ALKOHOLIS | |
  |
Barend, Klerksdorp 083 279 2041 26 jaar gelede het ek sosiaal drankies begin neem wat geleidelik gelei het tot algehele verslawing. Soos die meeste alkoholiste, wou ek nie erken dat ek 'n probleem het nie totdat God op 2 Sept. 2007 my oë oopgemaak het. Ek vertrou dat andere wat is waar ek was tot 2 Sept. (alle eer aan GOD), en mense op pad daarheen, iets sal leer uit my ervaring. Soos baie jongmense, het ek ook selfsugtige begeertes gekoester na aansien en finansiële voorspoed. God het, ten spyte van my onbetrokkenheid en swak bywoning van kerkdienste, goeie sake-geleenthede aan my gebied. Ek het gedink dat ek uit eie krag en vermoëns vorder en baie vermag. Het selfs gespog hoe ek vorder! Ek wou baie graag vir my pa 'n nuwe werksplek gaan wys omdat ek so trots was oor my prestasie. Hy was egter gekant teen die skuif en wou nie saamgaan nie. Dit was nie omdat hy hardvogtig was nie, maar hy het terminale kanker gehad en het geweldige pyn verduur. Ek het dit egter nie op daardie stadium geweet nie. God het my ook geseën met 'n pragtige vrou en 3 kinders. Vanaf 1981 het ek 'n senior pos beklee in 'n multi-miljoen rand organisasie en is gedurende 1986 bevorder tot die Uitvoerende Bestuur. Ek het baie aansien geniet, nuut-blink voertuie besit en net in die beste hotelle tuisgegaan. Uit die aard van my pos, moes ek baie funksies bywoon. Dit is waar my sosiale drinkery momentum gekry het. Steeds het grootheidswaan oor alles wat EK vermag het, 'n groot rol in my lewe gespeel. Ek het immers geskakel met direkteure van groot besighede, banke, ministers en het selfs op TV verskyn. Orals waar ek gegaan het, het deure vir my oopgegaan. WOW!! Hoogmoed en eiewaan tesame met my drankkapasiteit het nie plek gehad vir my Skepper nie - EK het mos sélf alles vermag! Ek skaf nog 2 nuwe voorspoedige besighede aan, ook 'n plasie en 'n strandhuis. Alles sonder om God te raadpleeg. My skoonma nooi ons gedurende 1992 na 'n klein Pinksterkerkie. Ek wou eers nie gaan nie, want dit sou inmeng met my drinktyd, maar sê toe maar vir myself dat daar nog genoeg drinktyd sou wees na die diens. Ek was so aangeraak deur die atmosfeer in die kerk en die Woord van die Here dat ek na afloop van die diens nie 'n woord kon uitkry nie. Later daardie jaar is ek weder-gebore, maar het nog teen dieselfde tempo aanhou drink. God het met my begin praat, maar ek kon nog nie Sy Stem duidelik hoor of verstaan wat Hy probeer sê nie. Hy het my tereggewys sonder dat ek dit besef het. Iemand vir wie ek finansieel gehelp het, was aandadig aan grootskaalse diefstal en bedrog by een van my besighede. Uiteraard was ek woedend en wou glad nie meer kerk toe gaan nie, want hoe kon God dít aan my doen? (Natuurlik was dit nie God nie, maar mense). Drank het toe my kruk geword. Nie lank daarna nie, verloor ek beide besighede en sit met hope skuld. Ek luister nog nie na God se Stem nie en drink net al hoe meer. Hierdie vername mens wou nie 'n bespotting word nie. Om myself verleentheid te spaar, ver-koop ek die strandhuis om my skuld te delg. Steeds luister ek nie na God nie en drink my sorge weg. My selfbeeld kwyn en my selfvertroue verdwyn. My enigste vertroosting vind ek in drank! Al my aandag was net op myself gevestig, want EK het mos nou seergekry. Selfs my gesin skuif ek op die agtergrond en onttrek my van alle mense. Laat 1996 kry ek en ander senior personeellede kennis dat ons afgelê word. Ook hierdie sorge spoel ek met drank weg. Probeer enige ander betrekking kry, maar alle aansoeke was onsuksesvol. Die getroue God beskik vir my in 1997 'n pos. Ek kon nou gerieflik, maar nie in luuksheid nie, lewe. Nou was ek 'n verbitterde mens en haal al my frustrasies uit op my vrou. Ek blameer haar vir al my mislukkings en drink meer as ooit tevore. Middel 2000 kon sy dit nie meer hanteer nie en verlaat my. Ek was verpletter en wou selfmoord pleeg, maar telkemale as ek die wapen se sneller wou trek, het my hand lam geraak. Buiten meubels en 'n motor het ek al my aardse besittings verloor, asook die liefde van my lewe: my vrou. Ook my kinders wou hulle nie assosieer met 'n dronklap nie. My vervreemde vrou het besef dat ek besig was om my dood te drink en het gereël dat ek in 'n kliniek opgeneem word. Ek was so onder die invloed dat ek nie eens bewus was daarvan nie, maar nadat die verdowing uitgewerk het, het ek myself uit die plek ontslaan. Op 24 Des. 2001 kom afgevaardigdes van die nuwe werkgewer en sê dat ek afgelê is en dat ek dadelik my kantoor moet ontruim. Die pakket wat ek ontvang het, het my in staat gestel om akkommodasie vir 'n paar maande te bekom. Wat sou egter na die paar maande gebeur? Die inname van drank het egter alle bekommernis laat verdwyn. My swaer en suster het vir my huurgeld voorgeskiet vir 'n tydperk terwyl my ander broers vir hierdie eens so ryk man geld gegee het vir lewensmiddele. Toe ek op die kruin van sukses was, het ek met 'n hoogmoedige hart op hulle neergesien en nou het hulle vir my gesorg. Hoe groot is God se liefde nie! Ek het Hom en my geliefdes gefaal, maar Hy het my aanhou help. Gedurende 2004 kon ek vervroeg-de pensioen neem en my by die kus vestig en wegvlug van slegte herinneringe. Na 'n jaar het ek besef hoeveel ek my familie en vriende mis en het terug getrek na hulle. My kinders was versigtig-optimisties met betrekking tot my drankgewoontes en my voormalige vrou was en is so goed vir my. Ons is nou goeie vriende. God het gedurig vir my voorsien en my beskerm. Gedurende 2006 het 3 mans gepoog om my te beroof. My hemelse Vader het my krag gegee om hulle buite aksie te stel en ek was ongedeerd. Tog kon ek net nie ophou drink nie. Gedurende 2007 het ek my heup gebreek. Dit het gelei tot 'n heup-vervanging. Kort daarna het ek my enkel gebreek terwyl ek onder die invloed van drank was. Nog 'n operasie het gevolg met 'n dreigende amputasie van my voet. Vir die eerste keer in baie jare het ek besef dat ek God se hulp en leiding, maar ook Sy tereg-wysings, nie werklik gesien, gehoor of verstaan het in my miserabele lewe nie. Op 2 Sept. 2007, gedurende die nag, was ek deurdrenk van pyn en koors. My lewe het voor my verbygeflits en ek het God se seëninge en vermaninge waar-geneem; dat Hy altyd by my betrokke was. Ten einde laaste het ek my tot Hom gewend, om vergifnis gevra en 'n belofte gemaak dat ek nooit weer 'n druppel drank oor my lippe sal neem nie. Ek het gesmeek dat Hy my voet sal spaar. Ek het ook vir Jesus gesê dat ek so 'n slegte mens is dat ek nie Sy liefde en genade waardig is nie. Maar Hy het my herinner aan Markus 2:17 "Die wat gesond is het nie 'n dokter nodig nie, maar die wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars." Toe het ek my voorgeneem om nooit weer God se tempel te besoedel met drank en onsedelikheid nie (1 Kor. 3:16,17). God is só getrou! Hy het my dranklus weggeneem en my voet herstel daagliks. God het aan my die volgende Skrifgedeeltes gegee en my so baie geleer daardeur. Dit sal u as leser baie baat om ook kennis te neem van hierdie gedeeltes. God sal 'n mens nooit dwing om iets te doen nie. Hy het vir ons verstand gegee en ons kan self besluit of ons Hom wil dien en die ewige lewe beërwe, en of ons die begeerlikhede van die wêreld wil najaag wat lei tot die verderf: "...'Niemand besit enige bevoegd-heid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie.'" (Joh. 3:27). In Jer. 29:11 bevestig God Sy liefde: "Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!" Elke mens het 'n keuse tussen Jesus en die wêreld. Lukas 9:25 verklaar ook: "Wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan?" "['n mens] kan nie God én Mammon dien nie" (Luk. 16:13). Ons moet leer om op God te vertrou. Hebreërs 13:5 leer ons: "Hou julle lewe vry van geld-gierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: 'Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.'" Ps. 25:12 belowe: "As iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad hy moet kies." Uit vernietigende persoonlike ervaring het ek die gevaar van drank beleef: "Wie plesier voorop stel, word arm; wie lief is vir wyn en lekker kos, word nie ryk nie" (Spr. 21:17). Ook Spr. 23:20-21 waarsku: "Moet jou nie ophou met suiplappe en vrate nie, want die suiplap en die vraat word arm; dronkenskap laat jou in vodde loop." Spr. 31:6-7 beskryf eintlik my lewe: "Gee drank aan dié wat besig is om onder te gaan, laat dié wat swaar ly, drink; as so 'n mens drink, vergeet hy van sy armoede en dink hy nie meer aan sy moeilikheid nie". Die Boek Romeine het my skerp aangespreek: "Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie" (Rom. 8:8). "Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie" (Rom. 13:14). In Efésiërs 5:18 verklaar die Woord duidelik wat God van ons verwag: "Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul". Hierby sluit 1 Tess. 4:7 aan: "God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe". Ook: "Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons wakker bly en nugter wees" (1 Tess. 5:6). God se Woord is vol beloftes: "Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg" (Ps. 37:5), en: "Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan" (Ps. 91:11). Is dit nie wonderlik dat God soveel vir ons omgee nie! Hy sê voorts: "Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou" (Sef. 3:17). Alle eer aan God wat my vrygemaak het van die drank en ander sondige gewoontes. Vir die eerste keer in my lewe ondervind ek nou ware vrede en vreugde. Halleluja! |