ONDER DIE VLOEK OF VRYGESPREEK?
  T Marx, Parys
(056) 811 5288 of 072 687 4897


Almal wat uit die werke van die Wet is, is onder die vloek! (Galasiërs 3:10,11). Geen middeweg nie. Of 'n kind van die Here, of 'n kind onder die vloek.
Hier op aarde praat mense baie. Die stemme rys op soos die stemme by Babel van ouds. Hierdie een lug hierdie opinie en daardie een die teenoor-gestelde. Die Woord van God word vertrap of geïgnoreer. Mense dink dat hulle met God kan speel, maar tot hul groot ontnugtering sal hulle eendag uitvind dat GOD die laaste woord oor hulle lewens gaan spreek!
Ongelukkig is hierdie wêrelds-gesindheid, hierdie wêreld-beskouing, diep gewortel in die psige van die mens. Ongeluk-kig óók in die Christenmens. Ons neem die mens meer ernstig op as vir God.
As Christen, hoe ernstig is u en ek oor God en Sy wil? Hoeveel van die gesindheid van die wêreld is daar nie in ons benadering tot God nie? In dít wat ons vir God doen, of nie doen nie? Is ons ernstig of slap in ons diens aan God? Of sit ons net op die draad van onbetrokkenheid?
Was dít God se houding teenoor ons as sondaars, sou Jesus Christus nooit na die aarde toe gekom het nie. Dan sou God in die hemel gesit en net beveel het - soveel hel toe en soveel hemel toe! Maar nee, God het Sy enigste Seun gestuur om in die plek van elke sondaar te sterwe. Watter reg het predikers om die Woord van God af te water en dit sodoende aanvaarbaar te maak vir sondaars?
Die wêreld waarin ons lewe, is besig om geestelik te vergaan. Al redding wat daar is, is die VOLLE Evangelie van God! Sonde is nie sommer net "'n klein ou misstappie" wat verskoonbaar is nie, omdat ons "maar net sondaars is en ons-self nie kan help nie".
Die gees van die wêreld leef baie keer selfs ook in die hart van die Christen. In die Ou Testament (Eségiël 22), praat die profeet van 'n sameswering van profete en priesters wat die Wet van God verkrag. Die nog groter tragedie is dat die mense daarmee tevrede was.
In sy boek, God Strengthens Ezekiel, bl. 166, skryf Derek Thomas die volgende: "Christians need to have a mindset that is ruthlessly opposed to sin. The Christian's heart is the battleground for the conflict between the flesh, the old corrupt nature, and the spirit, the new nature in Christ."
God het die wêreld bekyk en na 'n man gesoek om in die bres te tree tussen die woede van God en die oordeel wat die sondaar verdien, en God het dit nie gekry nie. "En Ek het onder hulle 'n man gesoek wat 'n muur kan bou en voor My aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie, maar Ek het niemand gevind nie" (Eseg. 22:30).
Dank die Vader, JESUS het gekom! Die VRAAG is: WAAR STAAN U EN EK? BINNE of BUITE CHRISTUS?

Indeks     Index