AL ONS "BOKSE"
 
Lees Luk. 9:49-50 (Nuwe Vertaling).
Onthou u die liedjie, "All the boxes, little boxes"? Die persoon sing van al die klein houertjies wat ons het en waarin ons mense plaas. Daar is houers vir verskillende taal- en kleurgroepe, vir onderskeie kerke, vir verskillende finansiële en akademiese vlakke wat mense beklee, en les bes, vir verskillende geslagte.
Wanneer ons mense ontmoet, plaas ons hulle in een van die houers, en die klassifikasie gebruik ons later om te bepaal hoe ons teenoor hulle moet optree.
Dit is natuurlik niks nuuts nie. Reeds by die dissipels kry ons dat hulle gekonfronteer word met iemand wat dieselfde doen as hulle, naamlik om duiwels in die Naam van Jesus uit te dryf, maar wat nie aan hulle groep behoort nie. Dit kon hulle tog nie toelaat nie! Die man is duidelik nie in dieselfde houertjie as hulle nie, en daarom moet Jesus onmiddellik teen hom standpunt inneem en hom verbied om voort te gaan!
Hoe belangrik is die antwoord van die Here nie vir hulle en vir ons in ons verskeurde land nie: "Wie nie teen ons is nie, is vir ons".
Daar is net twee groepe mense in die wêreld: daar is dié wat aan Jesus se kant staan, en dié wat teen Hom kies. Dit is die enigste klassifikasie wat werklik saak maak en die enigste vraag wat ons mag vra. Wie enige ander klassifikasie tot 'n lewenswet verhef, doen sonde!
Gebed: Here, help my om met U oë na die mense rondom my te kyk!
- Dr. Johan Pienaar, Brood op die Water, Mei 1997.

Indeks     Index