GOD SE GENADE | |
  |
![]() Izak & Rindie Cloete (082 517 7224) & kinders Markus, Elisa en Rebekka Wat 'n wonderlike God dien ons nie? Genadig, absoluut regverdig en liefdevol. Hy laat alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet! Op Sondag, 23 Oktober 2011, om 12:00, was ek en ons drie kinders in 'n motorongeluk betrokke. Ons was van die kerk af op pad terug na Africa School of Missions, wat 13 km buite Witrivier op die Krugerwildtuinpad geleë is. Dit was baie warm (38 °C) buite. Ongeveer 2 km vanaf die huis, het ons om 'n draai gekom waar daar olie oor 'n gebied van 150 meter oor die pad gelê het. Ons voertuig het op die olie gegly, getol en teen 'n groot aankomende vragmotor aan die linkerkant voor gebots. Markus het langs my gesit en geskreeu: "Mamma, ons is dood!" Met die slag teen die vragmotor het die linkerkantste wiel uitgeruk en het die motor verder gegly en om nog 'n draai getol. Daarna het dit mooi netjies tot stilstand gekom in die regte rigting langs die geellyn van die pad, asof ek die motor net daar gaan parkeer het. Markus het gehuil en gesê: "Mamma, ons lewe!" Ons dogtertjies agter in die motor was stil en verskrik. God het alles in plek gehad met die ongeluk. Die vragmotor was presies op die regte plek toe die motor teen dit vasgeswaai het. Die impak was voor en nie op Markus se deur nie. Ons is nie onderdeur die vragmotor nie! As die vragmotor nie daar was nie, sou die motor gerol het. As die wiel nie uitgeruk het nie, was ons oor die afgrond! God se engele het die motor beheer! Ten spyte van die gly en tol het dit tog vir die vragmotorbestuurder gelyk asof "ek" beheer oor die motor gehad het. Maar, dit was nie ek nie, dit was net God! Ek het geen beheer gehad nie - daar was nie remme nie en ook wou die stuurwiel glad nie werk nie. Ons loof God vir Sy beskerming! |