DIE DOU VAN KALMTE
  Die lewe word dikwels teen ‘n koorsagtige pas aangepak. Ons lewe in ‘n wêreld wat persoonlike prestasie en sukses op elke gebied beklemtoon, van gesondheid en verhoudings tot besigheid en lewenstandaarde. ‘n Vinnige blik na die rakke van boekwinkels sal jou probeer oortuig dat jy enigiets kan doen en enigiets kan wees wat jy wil, as jy maar net hard genoeg wil probeer. Sodoende strewe mense al hoe meer daarna om suksesvol te wees, maar ervaar nogtans nooit dat hulle suksesvol is nie. En hierdie strewe na persoonlike sukses vloei ook oor in ons geestelike lewe. Die goeie nuus is dat ons, as Christene, ons kan losmaak van alle strewe en liewer vir God vra om ons deur Christus met Sy vrede te vul en om orde te bring in die ongeordende kolk waarin die moderne lewe ons dompel. Ons kan berus in die voltooide werk van Christus op Golgota, in die wete dat óns niks meer kan doen om gered te word nie. Ons weet dat ons Christelike lewenswandel een van voortdurende groei na volwassenheid is, maar selfs hierin het ons God se Teenwoordigheid deur Sy Heilige Gees om ons te help en te lei, want Hy lei ons op die regte pad wanneer ons onsself aan Hom oorgee. Daarom kan ons ons angstige strewe laat vaar en toelaat dat Sy vrede ons besorgde gemoed stil-maak. Hierdie tere gebed kan ons help om vrede te midde van die chaos te vind, kalmte te midde van ons inspanning. Namate Hy orde in ons lewe bewerkstellig en vrede in ons hart bring, word ons lewe ‘n getuienis van Sy vrede en skoonheid aan dié rondom ons wat steeds vasgevang is in die web van beangste bedrywigheid wat die wêreld omspan.
- Oorgeneem

Indeks     Index