"AS JY MAAR NET VIR JESUS KON KEN"
  Felicitas en haar sewe seuns Rome + 161 n.C.
"Daar is vroue wat die gode ook laster, Keiser," vervolg die priester in sy pleidooi om die vervolging te hervat wat met Trajanus se dood ongeveer 45 jaar gelede tot 'n einde gekom het. "Sy en haar gebroedsel van sewe seuns versprei die Christelike geloof oral waar hulle gaan, reg onder u neus hier in Rome. Hulle lok mense daagliks weg van die gode-aanbidding. Dit is 'n bespotting en belediging vir u."
Keiser Antonius roer onrustig en die priester sien dat sy woorde inslag gevind het. "Nou goed dan. Ek weier om in my eie stad bespot te word. Laat die Prefek haar arresteer en dreig. As sy haar nie tot die gode-aanbidding bekeer nie, kan hy met haar afreken."
Publius, die Prefek van Rome, is nie gelukkig met sy taak nie. Felicitas is 'n bekende en geliefde vrou in die stad. Daarom besluit hy om haar en haar seuns eers in die geheim in sy huis te ondervra en die saak dan uit te gooi sonder om die priesters daarby te betrek.
Alhoewel die gesprek in die Prefek se huis plaasvind, veroorsaak die teenwoordigheid van 'n paar wagte dat daar steeds 'n amptelike atmosfeer tydens die ondervraging heers. Aanvanklik is sy pleidooie vol mooi woorde en beloftes, maar wanneer hy sien dat sy nie van plan is om haar geloof in Jesus te verloën nie, word sy stem al skeller totdat hy haar later met die wreed-ste marteling dreig.
Felicitas se reaksie is egter deur-gaans eerlik en reguit: "U ontroer my nie met u vleiende woorde of beloftes nie. En ek word ook nie deur u dreigemente geïntimideer nie, want ek het die Heilige Gees se werking in my eie hart ervaar. Hy het my 'n lewende krag gegee en my op die verskrikking van martelaarskap voorberei, sodat ek enigiets sal verduur wat u aan my doen en aan die belydenis van my geloof sal vashou."
Toe hy sien dat hy niks met hulle gaan uitrig nie, besluit Publius om hulle eers weg te stuur om oor hulle besluit te gaan dink. Die volgende oggend ontbied hy hulle na die plein voor die tempel van Mars.
Hierdie keer volg hy 'n ander benadering. "Nou goed dan, Felicitas, as jy nie omgee om te sterf nie, sterf dan alleen. Maar wees 'n goeie ma en bewys jou seuns ouerlike deernis en medelye deur hulle aan te moedig om hulle eie lewe te red deur aan die gode te offer."
"Julle 'medelye' is pure boosheid," antwoord Felicitas vererg. "En julle advies is niks anders as wreedheid nie, want as my seuns die gode aanbid, sal hulle nie hulle lewe red nie, maar aan die helse duiwels oor-gegee word wat julle gode is. Hulle sal hulle slawe word en vir die ewige vuur in die duis-ternis opgesluit word." Dan draai sy na haar seuns. "Staan vas in julle geloof en in julle belydenis. Jesus en Sy heiliges wag in die hemel op julle. Veg dapper vir julle siel en bewys dat julle getrou is aan Christus se liefde, die liefde waarmee julle Hom liefhet en Hy julle liefhet." "Vrou!" onderbreek die Prefek. "Hoe durf jy jou seuns reg onder my neus aanmoedig om die bevele van die keiser te verontagsaam! Moet jy hulle nie eerder tot gehoorsaamheid as rebellie aanspoor nie?"
Felicitas weet egter wat sy besig is om te sê en watter soort dood sy moontlik vanweë haar uitgesprokenheid sal sterf. Tog bly sy volhard. Eerder as om die Prefek te veroordeel, draai sy vriendelik na hom en probeer hom dapper na die waarheid lei. "Prefek, as u maar net ons Here en Verlosser, Jesus Christus, en die krag van Sy Goddelikheid en majesteit kon ken, sou u van beter geweet het as om ons van Hom te probeer vervreem, en sal u hierdie vervolging staak. U sou geweet het dat ons Hom nie kan vervloek of van Hom kan wegdraai nie, want enigiemand wat Christus en Sy getroue volgelinge vervloek, vervloek die God wat deur die geloof in ons hart woon."
Hierop kom die naaste wag en slaan haar met die vuis op haar mond om haar stil te maak. Dit weerhou haar egter nie daarvan om haar seuns steeds aan te moedig om aan hulle geloof vas te hou nie. Sy maan hulle ook om nie enige marteling of 'n pynlike dood te vrees nie, aangesien dit niks is in vergelyking met 'n ewigheid in die hemel saam met Jesus nie.
Nadat Publius Felicitas en haar seuns laat wegneem het, laat hy elkeen van die jongmans een vir een terugkom om hulle persoonlik te ondervra. Maar ten spyte van sy beloftes en dreigemente is nie een van hulle bereid om hulle rug op Jesus te draai nie.
Gefrustreerd oor sy mislukking stuur hy 'n nota aan die keiser waarin hy skryf dat hulle almal hardnekkig aan hulle geloof in Jesus bly vasklou. Hierop beveel die keiser dat hulle almal deur verskillende teregstellers doodgemaak moet word, en dat Felicitas heel laaste moet sterf, nadat sy eers al haar seuns se teregstellings bygewoon het. In die daarop-volgende vier maande word hierdie vonnisse voltrek.
Januarius, die oudste, is eerste aan die beurt terwyl die ander gedwing word om toe te kyk. Hy word met 'n sweep gegesel wat uit rieme bestaan waaraan klein lood-balletjies vasgemaak is. Hy word op sy rug, nek, sye en enige ander vlesige deel van sy lyf geslaan waar die folteraar met die sweep kan bykom totdat hy nie meer beweeg nie. Dan volg Felix en Philippus. Hulle word met stokke doodgeslaan. Sylvanus word by 'n hoë krans afgegooi.
Die drie jongstes, Aleksander, Vitalus en Martialis, word elkeen afsonderlik voor hulle ma gebring en onthoof.
Heel laaste, met haar oë vol trane by die pynlike aanskoue van haar seuns se teregstellings en die blye afwagting om binnekort saam met hulle voor Christus herenig te word, is Felicitas met 'n swaard onthoof.
Dis een ding om so sterk oor 'n saak te voel dat ons bereid is om daarvoor te sterf, maar dis iets anders om so oortuig daarvan te wees dat ons ander daarvoor sal laat ly, veral as hulle ons eie kinders en familie is. "God het die wêreld so liefgehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe sal hê" (Johannes 3:16).
[Fanaties vir Jesus, Vol. II, CUM 2002].

Indeks     Index